Home » Junie » Die dood van God

Die dood van God

Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas (Matt 27:50).

’n Mens sou verwag dat die geloofsbelydenis oor die lyding van Jesus moes eindig met die woorde “gekruisig is”. Want wat kan daar meer gesê word as dit? Die gedagte aan die dood, die werklikheid daarvan, sit tog reeds opgesluit in die woord kruis. Hieroor kan niemand twyfel nie. Maar die vroeë Christelike kerk wou die werklikheid van die plaasvervangende karakter van Jesus se dood so sterk beklemtoon dat hulle bygevoeg het: “gesterf het”. 

Dit as sodanig is reeds ’n geweldige gedagte: dat God gesterf het, dat Hy werklik dood was! Van die begin af het sommige mense dit darem te sterk taal gevind. Hulle het aangevoer dat Jesus nie werklik gesterf het nie, maar eerder voor sy dood reeds van die kruis na die hemel opgevaar het. Hulle wou te kenne gee dat Hy hierdie laaste, verskriklike fase van menswees vrygespring het. En tog is dit nie so nie. Jesus het die laaste asem “uitgeblaas” (Matt 27:50). Soos enige mens.

Ons doen goed as ons nie te veel probeer spekuleer presies hoe dit moontlik is dat God kon sterf nie. ’n Mens sou kon vra: Het Hy gesterf net na sy menslikheid? Of ook as eniggebore Seun van God, dit wil sê, as God self? Maar God kan tog nie sterf nie? Ensovoorts. Dit bly ’n geheimenis. Tog weet ons dit: Jesus sterf as Middelaar. Hy het werklik doodgegaan sodat mense wat werklik doodgaan werklik kan leef.

Jesus het werklik doodgegaan sodat mense wat werklik doodgaan werklik kan leef.

Jesus, die laaste asem wat U uitgeblaas het, was die eerste van my nuwe lewe. Amen.

Johan Cilliers