Home » Julie » Sleutels vir die doodslot

Sleutels vir die doodslot

Ek het die sleutels van die dood en die doderyk (Op 1:18).

As teoloog het Karl Barth ook oor die werklikheid van ons dood en ons begrafnis geskryf. Hy vergeestelik die onaangename werklikheid nie op ’n vae, vroom manier nie, maar praat heel aards daaroor. Dit is inderdaad ontstellend, sê hy, om daaraan te dink dat ek ook eenmaal in ’n koue kis agtergelaat sal word. Daar sal ’n dag kom wanneer my vriende en familie hulle ruikers en kransies op my graf sal laat en sal teruggaan na die wêreld van warmte en lewe en lig, en ek sal alleen agterbly … Dit is inderdaad onaangenaam om daaraan te dink dat my gedagtenis nog so ’n bietjie sal bly lewe by die mense wat my geken het, maar as hulle te sterwe kom, sal ook die herinneringe aan my daarmee heen wees. Dit is inderdaad onaangenaam om daaraan te dink, sê hy, dat ek wat nou so lewenskragtig en dinamies is, dat ek wat nou so jonk en idealisties is, ook eenmaal sal verval tot beendere, tot stof, tot niks. 

Dis ’n werklikheid. Dis allesbehalwe aangenaam. Maar dit hoef ons nie wanhopig en pessimisties te stem nie. Want Jesus heers ook oor die dood. Dit is sy hande wat die sleutels van die dood en die doderyk vashou (Op 1:18). Hy ontsluit ook my kis. Daarom kan ek maar sterf, kan ek maar alleen gelaat word in ’n kis onder die grond, omdat ek tóg nie aan die koue kis of die droewige dood oorgelaat word nie. Christus het die dood ’n uitklophou gegee; die kis se krag is kisgeslaan.

As ek begrawe word, word ek nie aan die koue kis of die droewige dood oorgelaat nie.

Here Jesus, gee my die insig om my nie blind te staar op die sterk slotte wat my toesluit nie. U hou die sleutels! Amen.

Johan Cilliers