Home » Julie » Die wins van die dood

Die wins van die dood

Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil 1:21).

Toe Jesus die ryk van die dood betree het, kon die dood Hom nie daar hou nie!

Hy het daardeur getree en anderkant, aan die kant van die ewige lewe, uitgetree. Triomfantlik. Dit beteken nie dat Hy teruggekeer het na ons kant van die graf nie. Hy het eerder ons weg deur die dood en graf heen berei. Daarom is die graf in sekere sin nie meer ons “ewige rusplek” nie, maar ’n plek van wag en afwagting. Ons verwag die opstanding van die liggaam. So het die dood vir ons bloot ’n poort geword, ’n deurgang na die ewigheid. 

Daarom kan Paulus, in die tronk en in die skaduwee van sy eie dood, sê: “Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil 1:21).

Die dood ’n wins? Ja! Wat ons aardse bestaan betref, word alles wel afgetakel. Ons hele lewensloop eindig oënskynlik ses voet onder ’n lappie aarde, met twee stukkies data op ons grafsteen: Gebore … Gesterf … Maar die stukkie inligting wat op hierdie woorde op gelowiges se grafte moet volg, word dikwels verswyg: Ek leef vir ewig! By die Here! Dít is wins! Trouens, solank hierdie data van my lewe waar is, het ek nie eens ’n grafsteen op my graf nodig nie.

Die graf is nie ’n ewige rusplek nie, maar ’n plek van wag en afwagting.

Here Jesus, ek is soms bang vir die doodloopstraat van die dood. Leer my om dit eerder as ’n poort te sien, ’n weg na groter dinge. Amen.

Johan Cilliers