Home » Julie » ’n Dag vir dankie-sê

’n Dag vir dankie-sê

Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (Rom 6:8).

Met die opstanding van Jesus plaas God self sy seël van goedkeuring op Jesus se versoeningswerk. Met die leë graf sê God: Dit is goed! Dit is volbring! Ja, op die Paasoggend verbly God Hom uitermate oor sy werk in Christus.

Daarom vier die meeste Christene hulle sabbat op ’n Sondag. So word Sondag, die derde dag ná die dood van Jesus, die opstandingsdag, die eerste dag van die nuwe week. Want hierdie dag is die uitroepteken ná God se verlossingswerk in Christus.

Sondag is dus nie net ’n dag om te rus, om te gaan lê nie, maar veral om op te staan! Dis ’n dag om te rus van die sondige werke van die ou lewe, om dit as dood te reken saam met Jesus in die graf – en ’n dag om op te staan in die nuwe lewe wat Hy gee. Dis ’n dag om te onthou: “Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Rom 6:8). Daarom is die Sondag vir ons as Christene bowenal ’n dag vir loof, ’n dag waarop ons terugkyk op Jesus se leë graf – en ons verbly; ’n dag waarop ons vooruitkyk na die opstanding van ons eie liggaam en die ewige lewe – en ons nog meer verbly.

Maar vir al hierdie dinge is een dag, Sondag, te kort. Die vier en twintig uur daarvan kan dit nie bevat nie. Daarom moet dit oorloop na elke dag van die week. Dit sal in elk geval oorloop in die ewigheid. Hoe opwindend: Sondag, en elke dag, word ons oefenskool vir die ewigheid …

Die opstandingsdag is die uitroepteken ná God se verlossingswerk in Christus.

Jesus, my woorde en dae is te min om dankie te sê, maar nietemin: Dankie! Amen.

Johan Cilliers