Home » Julie » Nooit

Nooit

“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Die troos van die opstandingsevangelie is dit: Dit gebeur vir óns; die vrug daarvan kan óns, Jesus se volgelinge, geniet. Omdat Jesus opgestaan het, is Hy nie meer “gebonde” aan sy aardse liggaam nie; nie “beperk” tot ’n sekere land op aarde en ’n sekere tydstip in die geskiedenis nie. In sy Gees is Hy nou altyd en oral by ons.

David Livingstone, die beroemde ontdekkingsreisiger, het vanuit hierdie waarheid geleef.

Hy het eenkeer gesê: “Moet ek vertel wat my versterk het in al die jare van my ontdekkingsreise – in ballingskap onder mense wie se taal ek nie kon verstaan nie en wie se gesindheid teenoor my altyd onvoorspelbaar en dikwels vyandig was?

“Dan moet ek vir julle dit sê: Wat my getroos en krag gegee het, was hierdie woorde: ‘Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (Matt 28:20). Op hierdie woorde het ek alles gewaag, en dit het my nooit in die steek gelaat nie.”

Jesus is by ons, gister, vandag en altyd.

Jesus se opstanding het dit moontlik gemaak. Hy kan altyd oral wees. Wanneer jy in ’n krisis beland, jou in doodloopstraat-situasies bevind, op ’n siekbed lê of deur die “dal van doodskaduwee” moet gaan, waag dit met hierdie belofte. Dit is waar. Jesus sal jou nooit in die steek laat nie.

Nooit.

“Op hierdie woorde het ek alles gewaag, en dit het my nooit in die steek gelaat nie.”

Here Jesus, ek loer so dikwels oor my skouer asof ek volkome alleen is, asof ek uit eie krag die Bose moet aanpak. Leer my om oor my skouer te loer en U te sien, U wat reeds die Bose oorwin het. Volkome. Amen.

Johan Cilliers