Home » Julie » Die huil van die hond

Die huil van die hond

Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken (Luk 24:31).

Daar word ’n roerende verhaal vertel van ’n sonderlinge verhouding tussen ’n bejaarde man en sy hond.

Oral waar die man gegaan het, het die hond hom gevolg. As die bejaarde man op die stoep voor sy huisie gesit het, het die hond by sy voete gelê. As hy iewers heen aangeskuifel het, het die hond met hom tred gehou. Tussen man en hond was daar ’n onverbreekbare band.

Op ’n dag het die bejaarde man skielik siek geword en gesterf. Dae, weke, maande ná die begrafnis het die hond by die graf van sy eienaar bly lê. Hy het nooit geëet nie en in wind en weer daar bly lê. Eendag het hulle die hond dood daar aangetref, op die graf van sy mensvriend. Hy het tevergeefs by die graf van sy dooie eienaar gewag met die hoop dat hy sou terugkeer.

Só is dit nie met Jesus en ons nie!

Jesus is nie dood of afwesig nie. Hy het nie van die aarde af weggegaan om nooit weer terug te keer nie. Die wonderlikste wat ons oor Jesus kan sê, is dit: Hy leef! Hy is hier! By ons! Ons hoef nie te treur by sy toe graf nie. Jesus het ons nie as weeskinders in wind en weer agtergelaat nie.

Aan die Emmausgangers, wat met somber gesigte oor Jesus se dood geloop en praat het, sê Jesus: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?” (Luk 24:17, 25). Daar was hulle, aan die rou oor sy dood … terwyl Hy self by hulle was, self saam met hulle op pad was.

Kom, staan op van Jesus se graf af. Hy is lankal nie meer daar nie. Hy is by jou. Vir altyd.

Jesus het ons nie as weeskinders in wind en weer agtergelaat nie.

Jesus, ek staan op, want U het opgestaan. Ek huil nie meer nie, want U het herleef. Amen.

Johan Cilliers