Home » Julie » God se grassie

God se grassie

Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees (Ps 90:14).

Waar word die nietigheid en verganklikheid van die mens sterker beklemtoon as wanneer ons by die oop graf van ’n geliefde of vriend staan, of self daarin weggelê word?

Ja, die dood en begrafnisse onderstreep wat die digter van Psalm 90 oor die mens sê, dat ons maar ’n stoffie is (v 3), ’n grassie (v 5), ’n gedagtetjie (v 9). Kan iets kleiner, meer niksseggend en meer onbeduidend wees as dit? Net maar ’n spatseltjie plasma in die groot heelal, ’n paar vlietende sekondes in die lig van die ewigheid, en dan is dit met ’n mens se lewe oor en uit …

So is dit inderdaad. En tog ook nie! Want Jesus het deur sy opstanding die nietigheid en verganklikheid oorwin. Hy het bewys dat ons nie vir God klein, niksseggend of onbeduidend is nie deur in ons plek in die dood in te gaan. En toe op te staan uit die dood! Sodat ons vergane liggame eendag uit die stof kan herrys – vir God.

Ons is ’n stoffie. Maar ons is God se stoffie. ’n Grassie. Maar God se grassie. ’n Gedagtetjie. Maar God se gedagtetjie. Hy dink aan ons, sien ons raak, wek ons op tot die lewe, die ewige lewe … saam met Hom.

Die dood beklemtoon ons nietigheid. Begrafnisse konfronteer ons met ons verganklikheid. Maar dit bied ons ook die kans om God te loof. Ons wat in Christus sterf, sal weer leef. En dit laat ons bid: “Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees” (Ps 90:14).

Net maar ’n stukkie plasma in die groot heelal, ’n paar vlietende sekondes in die lig van die ewigheid … maar ons behoort aan God.

Jesus, laat ook hierdie grassie vreugdevol vir U uitspruit. Amen.

Johan Cilliers