Home » Julie » Skaakmat!

Skaakmat!

Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal (1 Kor 15:54).

Met Jesus se opstanding is die Bose en die dood oorwin. Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal (1 Kor 15:54). Dis afgehandel! Al wat ons moet doen, is om dit te aanvaar en te leef asof – nee, omdat! – dit ’n werklikheid is.

Die opstanding is God se amen op Jesus se offer en die mense se halleluja op hulle verlossing uit die ewige dood. Daarom kan ons in sekere sin nou reeds verby die sonde, die Bose en die dood kyk, as’t ware deur dit heen kyk, en die leë graf sien. Want dit is ál wat tel!

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf. Hy sê:

“Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie.

“Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmat-posisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai.

“Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef: Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons ons vyande – die sonde, die vloek en die dood – is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.”

Amen! Halleluja!

Jesus se opstanding is God se amen en die mens se halleluja.

Here Jesus, so dikwels veg ek nog in die oorlog, speel ek die spel, hou ek die pendulum dop. Open my oë vir die leë graf. Amen.

Johan Cilliers