Home » Julie » Doodsprotes

Doodsprotes

Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet (Pred 3:12).

Die dood maak seker van die felste emosies in ’n mens wakker. By die meeste van ons wek dit ’n oorheersende gevoel van hartseer en selfs paniek oor die finaliteit van wat gebeur het. Veral as dit iemand naby aan jou is wat gesterf het: ’n vriend, ’n man, ’n vrou of ’n kind … Dit wek dikwels ook ’n gevoel van sinloosheid, selfs van volslae pessimisme. Uiteindelik voel jy lus om soos die Prediker uit te roep:

“Alles kom tot niks … tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? … Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood, die een soos die ander” (Pred 1:2; 3:19).

Dit is doodnatuurlik dat die dood van ’n geliefde jou droewig sal stem. Maar vir gelowiges hoef dit nie die enigste emosie te wees nie. Die Bybel gee ons genoeg rede om soms in die aangesig van die dood te ervaar dat ons wil … spot! Ja! Spot met die dood! Iets hiervan sien ons by Paulus wanneer hy as’t ware reeds op pad is na die graf en tog lag en spottend vra: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:55). Ons kan ’n feestelike protes teen die dood rig. Dit maak die lag van die verlostes in ons wakker.

Ja, ’n mens kan lag oor die dood wat oorwin is en oor die ewige lewe wat verseker is … selfs al doen jy dit met ’n traan op die wang en een voet in die graf. Dit het die Prediker al besef. Deur sy sogenaamde pessimistiese boek heen borrel dit van die lag en beveel hy vreugde aan (3:12-13; 5:18-19; 8:15). Hy is wys. Luister na hom.

’n Mens kan lag oor die lewe en die dood … selfs al doen jy dit met ’n traan op die wang en een voet in die graf.

Jesus, leer my lag. Amen.

Johan Cilliers