Home » Julie » Christus is Heer!

Christus is Heer!

Aan Hom het God alles onderwerp (Ef 1:22).

Die opstanding van Jesus gee aan ons die moed om sterker te protesteer teen alle vorme van dood en sonde in ons eie lewe, maar ook in die samelewing. Die leë graf het betekenis vir elke faset van ons lewe. Ons moet dit nie verinnerlik asof dit net te doen het met ons verhouding met God nie. Nee, die krag van die opstanding moet juis bely en uitgeleef word in elke duimbreedte van ons bestaan. Jesus het immers opgestaan vir hierdie wêreld, vir hierdie mensdom wat aan die dood uitgelewer is, wat verlore gaan.

Anders gestel: Christus se opstanding het, het soos sy lyding, kosmiese betekenis. Dit het implikasies vir die ganse heelal. Ná sy opstanding uit die dood het God alles aan Jesus onderwerp. God het “Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk” (Ef 1:22). Dit is nie die duiwel wat oor die wêreld of oor ons lewe heers nie. Christus is Heer! Hý het alle mag!

Dit is ’n feit wat ons skaars prakties genoeg kan toepas. Ons mag nie maar aanvaar dat niks meer in ons huwelik of ons verhouding met ons kinders, ons ouers, ons vriende, ons vyande, ons werkgewers, ons kollegas en ons landgenote kan verander nie. Ons mag nie maar net sug nie en die status quo in die politiek, die moraliteit, die misdaadkultuur, die geweld op ons TV-skerms en in ons strate hande gevou sit en aanskou en sê: “Nou ja, dit sal tog nooit verander nie!”

Ons moet dit waag saam met die opgestane Jesus. Dieselfde krag wat Hom uit die dood opgewek het, is beskikbaar vir ons wat glo. Ons kan opstaan teen alle vorme van dood en sonde. En dalk die heel grootste verrassing ooit ontvang!

Ons mag nooit sê: “Dit sal nooit verander nie.”

Here, ek aanbid U as die Koning van die kerk en die kosmos, Heer oor die heelal. Dankie dat dit ook vir my insluit. Amen.

Johan Cilliers