Home » Augustus » Die waarde van die aarde

Die waarde van die aarde

Ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (2 Pet 3:13).

Jesus het daardie Sondagoggend opgestaan, daarna verskeie kere aan sy dissipels verskyn, en 40 dae later na die hemel opgevaar. Dit het gebeur ter wille van ons, maar dit dui nie ons bestemming aan nie.

Ons gaan nie, in die streng sin van die woord, eendag “hemel toe” nie. Ons bly nou op die aarde, met die taak om die evangelie hier te verkondig! En ons uiteindelike woonplek is die nuwe aarde onder ’n nuwe hemel. 2 Petrus 3:13-14 sê dit mooi: “Ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

Een van die gevolge van Jesus se hemelvaart is dat dit ons op ’n nuwe manier aan die aarde knoop. In die eerste artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons dat God hierdie aarde geskep het. Nou kom daar iets nuuts by: Hy gaan dit ook herskep!

Daarom is Christene nie wêreldvreemde mense nie. Ons moet juis in die Naam van Jesus bly veg vir die verlossing en herskepping van hierdie wêreld. Jesus se hemelvaart lei tot ons “aardvaart”. Die hemelvaart sit my en jou aan die werk op hierdie aarde tot by die uithoeke daarvan.

Wie só vir Jesus werk, sien uit na sy weerkoms. Al kyk ons nie heeldag op na die wolke nie. Rol daarom die moue op – en spring aan die werk.

Jesus se hemelvaart lei tot ons aardvaart.

Here, gee tog dat ek in u krag kan meewerk om nou reeds iets van u koninkryk hier op aarde sigbaar te maak. Amen.

Johan Cilliers