Home » Augustus » Altyd op weg

Altyd op weg

Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners (1 Pet 2:11).

Verlede week het ons gesê Jesus se hemelvaart maak ons nie wêreldvreemd nie; dit anker ons weer in die werklikheid van hierdie aarde. En tog maak dit ons ook los van hierdie aarde.

Waarom? Omdat ons weet dat God met die verlossing van hierdie aarde begin het en dit eers met die wederkoms van Jesus sal voltooi. Daarom worstel ons aan die een kant om die verlossing van die aarde, maar aan die ander kant kyk ons vooruit na die nuwe aarde en die nuwe hemel. Op hierdie aarde bly ons steeds vreemdelinge en bywoners (1 Pet 2:11). Daarom kan ons nooit gladweg inpas en aanpas by die sondige strukture van hierdie wêreld nie. Ons bly altyd op pad na ons eintlike woonplek: die nuwe aarde.

In ’n brief van Diognetos in die jaar 150 nC lees ons ’n aangrypende verwysing na Christene wat só geleef het:

“Hulle woon in hulle eie land, maar as vreemdelinge … Elke vreemde land is hulle vaderland en elke land is vreemd aan hulle … Hulle deel hulle tafels, maar nie hulle beddens nie. Hulle vertoef op aarde, maar is tuis in die hemel. Hulle gehoorsaam die vasgestelde wette, maar in hulle eie lewe oortref hulle die wette. Hulle hou van almal, maar word deur almal vervolg …

“Hulle is self arm, maar maak vele ander ryk. Hulle kom alles kort, maar het tog in alles oorvloed. Hulle word onteer, maar die ontering strek hulle tot roem. Hulle word gesmaad, maar hulle seën. Hulle word beledig maar hulle bewys eer … En diegene wat vir hulle haat, kan geen rede vir hulle vyandskap verstrek nie.”

Sou só ’n getuigskrif oor jóú geskryf kon word?

Christene is vreemdelinge op aarde. Ons kan nooit gladweg inpas en aanpas by die sondige wêreld nie.

Jesus, skryf U my getuigskrif. Amen.

Johan Cilliers