Home » Augustus » Intermezzo

Intermezzo

“Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (Hand 1:11).

Die tweede waarborg wat die hemelvaart ons bied, is dat dieselfde Jesus wat hemel toe opgevaar het, weer sal kom! Terwyl die hartseer dissipels gestaan en kyk het hoe Jesus in die wolke verdwyn, het daar twee engele verskyn wat hulle verseker het: “Hierdie Jesus … sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (Hand 1:11).

Die hemelvaart self is al wonderlik, want dit vul ons lewe én ons dood nou reeds met die grootste betekenis denkbaar. As gevolg daarvan is Jesus oral en altyd by ons; word die evangelie oor die wêreld heen verkondig; het ons ’n Voorspraak in die hemel … Maar die beste lê nog voor! Die hemelvaart is ’n voorlopige gebeurtenis, ’n intermezzo, voor die manjifieke laaste beweging van die groot Simfonie begin: Jesus se wederkoms.

Die hemelvaart gee ons dus bowenal hoop.

Dit onderstreep die feit dat die geskiedenis en daarom ons lewe nie ’n geslote geheel is nie. Wat met ons in die tyd van die “tussenspel” gebeur, is nie maar net ’n reeks gebeurtenisse wat deur die noodlot gedryf word nie. Ons is iewers heen op pad.

Alles wat elke dag met ons gebeur, van die ongelukkigheid by die werk of skool tot die frustrasie van ’n pap band, is nie toeval nie. Alles loop uit op ’n einde: dié dag wanneer Jesus weer kom.

Tel daarom jou kop op en kyk vorentoe.

Boontoe.

Tel jou kop op en kyk vorentoe. Boontoe. Spits jou ore en hoor nou in die tussenspel reeds die akkoorde van die groot finale.

Jesus, tel U my kop op. En my voete. Rig my hart op die klanke van u wederkoms. Amen.

Johan Cilliers