Home » Augustus » Geborge in sy hande

Geborge in sy hande

In u hande is ek veilig (Ps 23:4).

Die uitdrukking “die regterhand van God” kom meermale in die Ou Testament voor waar dit na God se krag verwys (Eks 15:6; Ps 1:6; Jes 41:10, 1953-vertaling). Hierdie “regterhand” van God word ook soms sy “uitgestrekte arm” of “uitgestrekte hand” genoem – die hand waarmee Hy magtige dade op aarde doen. Die Nuwe Testament en die Apostoliese Geloofsbelydenis sien die vervulling daarvan in Christus; dit wil sê: Jesus het presies dieselfde krag as God! Daarom hoef ons wat in Hom glo, geen ander krag of gesag te vrees nie.

’n Mens dink soms dat jy juis deur ander kragte of magte beheer word, soos bose magte. Is hulle nie aan die roer van sake wanneer ’n motorband bars en jou gesin in ’n ongeluk sterf nie? Of as jy meegedeel word dat jy kanker het en nog net drie maande het om te leef?

Of ’n mens kan dink dat dit dalk politieke, sosiologiese en ekonomiese magte en kragte is wat alles beheer. Bepaal dit nie waar jy woon, werk, skoolgaan en inkopies doen nie? Of daar vrede of geweld sal wees nie? Is dit nie al hiérdie magte wat die finale sê het nie?

Nee! Jesus sit aan die regterhand van God.

Hy het die mag van God. En hierdie God is, ook volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis, Almagtige én Vader. In sy hande is ons veilig (Ps 23:4).

Jesus het presies dieselfde krag as God. Daarom hoef ons geen ander krag te vrees nie.

Here Jesus, dankie dat ek nie uitgelewer is aan hande wat my willekeurig kan vermorsel nie, maar dat ek in u hande is, waar ek vertroetel en gekoester word. Amen.

Johan Cilliers