Home » Augustus » “My pa is die masjinis”

“My pa is die masjinis”

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt 28:18).

’n Man was per trein op reis na ’n stad etlike honderde kilometer van sy tuisdorp af. Oorkant hom in die kompartement het ’n seuntjie van ongeveer vyf jaar oud gesit, sonder enige volwassenes wat na hom kon omsien. Hy het gans te jonk gelyk om so alleen te reis, maar ewe kordaat het hy daar gesit, sonder ’n sweempie vrees of ongemak. Uiteindelik vra die man vir die seun:

“Boeta, reis jy alleen?”

“Ja, Oom,” kom die selfversekerde antwoord.

“Maar is jy dan nie bang nie?”

“Nee, glad nie, Oom.”

“Maar sê nou jy kom iets oor? Hier is dan glad nie grootmense saam met jou nie.”

“Dis nie nodig nie, Oom! My pa is die masjinis van hierdie trein.”

Christus, met respek gesê, is die masjinis van die trein van die geskiedenis. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee (Matt 28:18). Hy is een met ons, verstaan ons en bly deur sy Gees by ons. Tog is Hy ons ook vooruit, want Hy sit aan die regterhand van die Vader. Hy neem ons mee op die treinrit van die geskiedenis, ’n heerlike eindpunt tegemoet. Die spoor sal dalk oor ruwe terrein loop; die bestemming kan eindeloos ver lyk. Maar dit maak nie saak nie. Ons sal daar kom. Ons is veilig.

Ons kan selfs, soos daardie seuntjie, ’n bietjie kordaat wees …

Die spoor sal dalk oor ruwe terrein loop; die bestemming kan eindeloos ver lyk. Maar dit maak nie saak nie. Ons sal daar kom.

Jesus, ook ek het ’n plekkie op u trein. Ek is nie bang nie. Amen.

Johan Cilliers