Home » Augustus » Mooi kan mislei

Mooi kan mislei

Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners (1 Pet 2:11).

Ons as gelowiges kan so “tuis” raak in die wêreld dat ons vergeet die wêreld is nie ons ware woonplek nie; dat ons nog “op pad” is na ons hemelse tuiste. Ons kan veral vergeet dat die Here na óns toe op pad is! Wanneer dit gebeur, raak (andersins goeie) dinge soos huis en haard, bloed en bodem, prestasies en prestige, ideale en bankbalanse later so belangrik dat ons hart daaraan verknog raak. Die waarheid is, ons is niks anders nie as “vreemdelinge en bywoners” in hierdie wêreld (1 Pet 2:11).

Toe die Switserse teoloog Karl Barth eenkeer by vriende se huis in die Alpe kom, was hy oorstelp deur die asemrowende natuurskoon, die uitsig, die weelderige huis … Uiteindelik moes hy uitroep: “Dit is so mooi! Maar hier is nie meer plek vir eskatologie [die leer oor die eindtyd] nie!” Met ander woorde, die werklikheid van hier en nou kan so gemaklik en mooi en gerieflik word dat ons ons kan begin verbeel ons het niks beters om na uit te sien in die hiernamaals nie.

Ja, ons raak maklik so ingeburger in ons luukse lewe, ons voel so veilig in ons mooi huise en pragtige omgewings, dat ons nie meer ’n brandende wederkomsverwagting het nie. Slegs ’n brandende begeerte na meer en mooier. Dan sê ons: “As ek tog maar net ’n vakansiehuis óók kan hê … of ’n nuwe motor … of ’n groter salaris of ’n beter werk kan kry, dán …”

Kan ons nie liewer leer om te sê nie: “As die Here tog maar net vandag sou kom … dán!” Feit is, Hy kán! En dan is selfs huise in die Switserse Alpe van géén waarde nie …

As die Here tog maar net vandag sou kom … dán!

Here Jesus, my prioriteite is so dikwels verkeerd. Ek word so deur die mooie mislei dat ek môre miskyk. Amen.

Johan Cilliers