Home » Oktober » Waaksaam en wakker

Waaksaam en wakker

Pas op dat niemand julle mislei nie (Matt 24:4).

Die woorde in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat Jesus weer sal kom om te oordeel oor dié wat nog lewe, wil ook ons aandag daarop vestig dat ons waaksaam moet wees. Want die wederkoms sal plaasvind op ’n dag in die geskiedenis dat nie baie mense dit sal verwag nie.

Daar is wel deur die eeue heen tekens wat ons aan die Here se nabye koms herinner (Matt 24:1-31), maar die presiese dag en uur, dit weet ons nie. Selfs die engele in die hemel weet nie wanneer Jesus weer sal kom nie; die Seun self weet ook nie. Net die Vader weet dit (24:36). Daarom maan Markus 13:32-33: “Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie.”

Wat beteken dit om waaksaam te wees? Matthew Henry, ’n bekende Bybelverklaarder, beskryf dit soos volg: “Om te waak behels nie net die geloof dat ons Heer kom nie, maar ook ’n verlange dat Hy sal kom. Dit beteken om dikwels aan sy koms te dink en altyd na sy koms uit te sien as iets wat gewis sal gebeur.”

Oor waaksaamheid sê die apostel Petrus: “Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet 3:17-18).

Om waaksaam te wees is om wakker te wees. Nugter. Gereed. Omdat jy weet dat Jesus nou kan kom.

Is jy waaksaam?

Om waaksaam te wees vra nie net om te glo dat ons Here weer sal kom nie. Dit vra ook van ons die verlange dat Hy weer sal kom.

Jesus, maak my waaksaam, nugter en gereed vir u wederkoms. Amen.

Johan Cilliers