Home » Oktober » Kosmetiek is nie weergeboorte nie

Kosmetiek is nie weergeboorte nie

“Elke boom word aan sy eie vrugte geken” (Luk 6:44).

Die Heilige Gees moet ons van binne af nuut maak. Alle uiterlike pogings van ons kant om dit te doen is tot mislukking gedoem. En hoe dikwels probeer ons dit nie doen nie! Ons beoefen graag godsdienstige kosmetiek. Ons probeer onsself voor God mooi maak, opsmuk, ons foute verdoesel. Die ruïnes van ons ou bestaan so ’n bietjie (of baie!) toepleister, restoureer. Dan lyk dit selfs asof ons groot aanpassings gemaak het: Ons gaan meer kerk toe, tree met meer liefde op teenoor daardie mense wat ons so irriteer, lees selfs die Bybel meer en bid meer gereeld …

Aanpassing is egter nog nie verandering nie! Kosmetiek is nie weergeboorte nie. Gerestoureerde ruïnes is nie ’n nuwe huis nie. Ons moet nuut lewe, want iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor 5:17). ’n Mens kan al die suurlemoene van ’n suurlemoenboom afpluk en in hulle plekke lemoene plak in ’n poging om die suurlemoenboom ’n lemoenboom te maak. Ná ’n rukkie sal die lemoene verrot en op die grond val. Want ’n suurlemoenboom bly ’n suurlemoenboom en ’n lemoenboom ’n lemoenboom!

Jesus het gesê: “Elke boom word aan sy eie vrugte geken” (Luk 6:44). Watter soort boom is jy? Watter vrugte dra jy?

Ons moet nuut leef, want iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.

Gees van God, maak my u boom wat u vrugte dra. Amen.

Johan Cilliers