Home » Oktober » Kruiptrekker of vuurpyl?

Kruiptrekker of vuurpyl?

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe (Ef 3:20-21).

Wanneer ’n vuurpyl gebou word, geskied dit gewoonlik in ’n fabriek naby die lanseerbasis. Dikwels nie verder as ses kilometer van daar af nie. Want hierdie massiewe, mensgemaakte ruimtetuig moet na die basis vervoer word. Die vuurpyl word met ’n reuse-kruiptrekker van 2 678 ton na die punt van lansering geneem. Dit kruip letterlik teen ’n slakkepas van ongeveer 2 km/h voort. Dit duur sowat drie uur om dié kort afstand af te lê.

Maar as die vuurpyl eers geïnstalleer is en die motore ontbrand op die dag van lansering, beweeg alles baie vinniger. Dan word die massiewe tuig teen ’n spoed van ongeveer 5 000 km/h die lug in geslinger. Ná slegs 12 minute is dit in die buitenste ruim …

Ek dink die verskil tussen ’n Geesvervulde en ’n Gees-arm lewe is so. As jy op jou eie krag staatmaak, gaan jou geestelike lewe voort teen ’n slakkepas (indien nie ’n kreeftegang nie).

Maar, as jy op die Gees vertrou, is daar baie krag, word jy hemelwaarts geslinger, na God toe! Aan hierdie krag moet ons nie twyfel nie. Deur sy Gees werk God in ons en is Hy magtig “om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Ef 3:20).

Met watter voertuig is jy op pad? ’n Kruiptrekker of ’n vuurpyl?

Wanneer jy op die Gees vertrou, is daar baie krag, word jy hemelwaarts geslinger, na God toe.

O Gees, laat ontbrand my hart vir God. Amen.

Johan Cilliers