Lees Hebreërs 10:19-25.
Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (v 24).
Die Hebreërskrywer het nou by herhaling sy boodskap gebring: Christus is die groot Hoëpriester, Hy het Homself geoffer, ons sondes is vergewe, ons het nou vrye toegang tot God. Ons is skoon, want Hy het ons gereinig. Eens en vir altyd.
Nou wend hy hom tot ons, sy gelowige lesers, en hy spreek ons reguit aan: Laat ons nou tot God nader, sê hy. Kom ons hou styf vas aan die hoop. Kom ons kyk na mekaar.
Mooi, nie waar nie? En so logies: Christus het alles vir ons saligheid gedoen, ons hoef ons regtig nou nie meer daaroor te bekommer nie. Kom ons doen eerder wat ons hand vind om te doen.
En waar pas ons hand beter as op ’n medemens se skouer? Wat is mooier as ’n mens wat ’n ander mens aanmoedig? Wat is nader aan God se wens vir sy kinders as dat hierdie kinders mekaar – en vreemdelinge en buitestanders – aan die hand neem en sê: “Kom ek wys jou, kom ek neem jou daarheen, kom ek help jou”?
Maar is dit dan nie van nature gelowiges se gedrag nie? Hoort dit nie uiteraard by ons om mekaar aan te spoor nie?
Klaarblyklik is dit nie by almal ’n uitgemaakte saak nie. Want dié skrywer praat nie hier met toevallige lesers nie; hy rig hom tot gelowiges. En hy sê onder meer hulle moet nie die mense veroordeel wat opgehou het om die gemeente se samekomste by te woon nie. Moedig hulle eerder aan om terug te kom, sê hy. Sê vir hulle, wýs hulle, dat hulle welkom is.
U het my laat tuiskom, Here. Leer my hoe om ook vir ander die deure oop te gooi.
Barend Vos