Alleen op die troon

Lees Psalm 97.

U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde, hoog verhewe bo alle gode (v 9).

Die Here ons God is groot!
Hý swaai die septer; Hý dra die swaard.
Hy alleen is op die troon.
Die kruin van die golf is sy speelplek;
op afgeleë eilande voel Hy tuis.
Onnaspeurbaar is sy bewegings vir dié
wat nie ’n oog het vir die buitengewone nie;
hulle sal nie weet waar om Hom te kry nie.

Maar ons, begenadig, sien U agter die wolke raak;
die flitse van u teenwoordigheid vang ons blik vas.
Óns weet: Dáár is U! En dáár!
En dáár! En hier en oraloor.

Hoe pateties dan, Here, die aanskoue van die afgode:
Wat jy sien, is wat jy kry. Niks minder en niks meer nie –
’n gestolde god, gegrond in gemoedelike plaaslikheid.
Starend in die niet; ewig stom voor sy aanbidders
en hul hemelhoë verwagtings.

Hulle sal hom selfs aanroep, dié desperates;
hulle sal hom skreeuend probeer beweeg om ’n indruk
op die aanwesiges te maak. Om tog net ’n teken van lewe
te toon: “Bloot ’n knip van een oog sal genoeg wees;
net ’n vinnige enetjie – asseblief, ek smeek!”
Hulle sal onverpoos soebat, hees word. Hulle sal lánk wag.

Die Almagtige se skadu val oor die gode en verdwerg hulle
tot ’n verbygaande toevalligheid. Niksbeduidend.
Skadelose speelgoed in die hande wat die heelal beheer.

Maar U bring die ewigheid tot hier by ons
en strooi dit onbevange, vir ons beswil
en tot ons eindelose vreugde, oor ons pad.

Ons loop dus in u lig.
Ons lag in u stralende gesig.
Ons lewe, roekeloos verheug, in u Naam.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: