As die skepping halleluja sê

Lees Psalm 148:1-10.

Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep (v 5).

Here, ek kan my goed verbeel hoe dit moet wees
as die berge begin hande klap en die strome sing.
As bome voor U buig en die sterre roep: Halleluja!

Wanneer die hemele skeur en die son en die maan
soos balle na U toe aangerol kom en U hulle optel
en vir die seemonsters gee om mee te speel
sodat die engele hul hande saamslaan en sê: Halleluja!

Ek kan my voorstel dat dié hemelwesens
hulle verbaas oor die oorvloed lofbetuigings.
Hul oë is mos bedek wanneer hulle voor U verskyn.
Daarom weet hulle seker nie veel
van die skepping se begeerte
om U te eer nie.

En dit alles is sekerlik oorweldigend, Here.
Juis vir hulle wat omtrent oral reeds deur U gestuur is
en ’n wye verskeidenheid opdragte moes uitvoer.
Wanneer dié dinge wat te groot is om selfs te bedink,
eensklaps klein word voor U:
Maaksels wat voor hul Skepper kniel,
hul hande eerbiedig soos vir ’n gebed gevou,
wat skielik losbreek in ’n gejubel: Halleluja!

Terwyl ek my dit alles sonder veel moeite kan indink,
Here, wonder ek tog: Wat is daar nóg?
Want die vrye teuels van my verbeelding
is steeds … teuels.
En die vrolike loslitdenke waarin ek my tog so verlustig,
is ég menslik, en uiteraard dus begrens.

Maar oneindig is ú ruimte.
Ontelbaar u getal.
Ondroombaar u wese.

Halleluja! sê ék.
Halleluja!
Amen.

Barend Vos