As dit nag word

Lees Psalm 91:5-6.

Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie (v 5-6).

Hoe kan ek u beskerming na behore beskryf?
Watter beeldspraak is van pas, en akkuraat genoeg,
dat ek die bewaring wat U bied, nie geweld aandoen nie?

Uit die staanspoor wil ek darem sê, Here,
dat “die verskrikking van die nag” geen metafoor is nie;
dit is ’n afskuwelike, donker werklikheid:
Deur die eeue heen kom duistere magte
tussen sonsak en dagbreek aan die bewind.
Dan voer dit heerskappy – in huis én hart.
Geen voorsorg hou dit buite nie;
dit sypel deur die ruite,
skrop nes agter ’n deur,
lê onder ’n bed en wag.

Dit is daarvoor, vir daardie klein uurtjies, wat ek
om u beskerming kom pleit. Dat U asseblief u lig
en u waarheid sal stuur. Dat dit my beskut teen alles
wat my in my weerloosheid bekruip – die skadu’s
teen die muur, uit die hoekies, in al my gange.

Want hoe ouer ek word, Here, hoe vaster
druk die donkerte my. Hoe benouder word ek,
hoe stywer knel dit om my keel.
En hoe groter die letsels wat die oggendlig verklap –
my kop, my oë. My hande wat so bewe.

Selfs lank ná die pes reeds gewyk het, is ek steeds moeg.
Hoegenaamd nie gereed vir die stryd wat in elk geval
helder oordag op my wag nie. Ek koes mos nie meer
vinnig genoeg vir die pyle wat aangevlieg kom nie.
Ek is magteloos teen alles wat so openlik verwoes.
Ook die dag het deesdae ’n nagmerrie geword.

Nou vra ek U, ek smeek, vanweë die
donkerte wat so meedoënloos heers:
Hou oor my vannag u hande,
grote God, wat altyd waak …
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: