As ek maar wys was …

Lees Psalm 107:42-43.

Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou (v 43).

Here, deesdae besef ek al hoe helderder
watter spesiale stiksienigheid
dit verg om nié u wonderwerke raak te sien nie.
Dit is asof dit ’n besliste besluit vereis:
Maak toe jou oë!
’n Ysere wil:
Moenie kyk nie!
Moet. Net. Nie. Kyk. Nie.

Ek weet dit, Here, ek weet dit goed …
Want só mis ek die vreugde van sien,
van sien en herken: Hoe gróót is U; hoe góéd is U.
So verloor ek die voordeel van my potensieel uitstekende
uitsig; ek raak van my wysie af, raak my woorde kwyt
en staan stom en blind en brandarm voor u almag.

As ek maar wys was, Here, dan sou ek elke moontlike
poging aangewend het om goed te sien en duidelik te hoor
en behoorlik kennis te neem. Maar nou is ek selfbehep
en eiegeregtig en sonder ophou aan die vra:
Wat kry ék hieruit?
Hoeveel voordeel is daar vir my?
Hoe gaan my ego hierdeur gestreel word?

Terwyl U die wêreld op die oog het, hou die getjommel
in my klein hoekie my so besig dat ek nie u breë visie
kan deel nie en u groter plan my voortdurend verbygaan.
Ek dink nie verder as wat my neus lank is nie;
my kop ken net die kort roete na my hartseer hart.
My klein kwelling oorheers my gedagtes
en trek ’n sluier oor my denke.
My beker loop oor van eie trane.
My griewe gee altyd die deurslag.

En só mis ek die uitbundigheid van onbevange
vreugde oor U. U troue liefde bly ’n veraf teorie.

O, as ek maar wys was, Here …
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: