As ek tog maar …

Lees Psalm 119:5-8.

As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly (v 5).

Hy weet hoe dit met die Here se wette is, hy weet wat die som van God se gebooie is. Hy weet genoeg van die Here om dit alles te weet. Daarom sug hy: “As ek tog maar net …”

Die probleem lê nie by God of sy gebod nie, dit weet hy alte goed. Die ellendeling in sy verhaal is hy self. Die paadjie waarlangs hy kom en waarop hy nou terugkyk, toon duidelik hoe hy hom in sy oormoedigheid misgis het, hoe dikwels hy die kluts kwytgeraak het. Hoe raadop hy was.

Nou steek hy sy hand diep in eie boesem en vind die melaatsheid wat hy waarskynlik gehoop het om nié te kry nie, en hy erken skuld.

Hoe verfrissend vreemd! Want dat iemand sy mislukkings in oënskou neem en niemand anders as homself kwalik neem nie, is inderdaad buitengewoon.

Eintlik is dit logies, hierdie rondborstige skulderkenning. Kyk, ons kan nie vir die Here lieg nie; dit is ’n ou sakie wat ons lankal vir onsself uitgemaak het. Ons moes leer om met hierdie ongemaklike wete saam te leef. Soms kry ons darem ’n “vergewe my!” uit, soms die geleentheid om met ’n paar rand of ’n flentertjie barmhartig­heid te probeer vergoed.

Totdat ons weer met ons bedrog probeer, wat niks minder as selfbedrog is nie. En dalk in dié volgorde: doodswyg, ontken, skuld verplaas.

Nie hierdie medegelowige nie. Hier leer ons net mooi die teen­oorgestelde – openlikheid, skulderkenning, aanvaarding van die gevolge. Gelukkig leer hy ons ook dié versugting: Ag, Here, maak dit anders. Moet my net nooit los nie, asseblief!

Hier is ek ook, Here, swaar belas met my skuld. Verlos my!

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: