Home » Februarie » Atlas?

Atlas?

Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas (Matt 27:50).

In sy alombekende en klassieke werk Die pelgrim se reis na die ewigheid beskryf John Bunyan die lewensloop van “Christen”, die hoofkarakter in die boek. In ’n stadium van sy lewe dra Christen so swaar aan die groot las op sy skouers. Vooroor gebuig sukkel hy voort, moeg en moedeloos.

Die las? Sy sondeskuld! Dan kom Christen by die kruis op Golgota aan. Hy kyk na die Een wat aan die kruis hang … en voel hoe die swaar las van sy skouers afglip. Verlos en vergewe gaan hy voort, gekromde skouers reguit, met veerkrag in sy tred, met nuwe moed. Die swaar vrag skuld laat hy aan die voet van die kruis lê.

In die Griekse mitologie is daar die verhaal van Atlas wat deur Zeus gestraf is om die aarde op sy skouers te dra. Hierdie god het nie die genade van ons God betoon om Atlas van sy swaar las te verlos nie. Maar ons hoef regtig nie soos Atlas onder die aardbol van ons sondelas rond te steier nie. Ons kan dit by Golgota los. Jesus het dit daar op sy skouers geneem. So swaar was die las dat Hy daaronder hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het (Matt 27:50).

Daarom kan jy asem skep. Staan regop. Pak die lewenspad met nuwe moed aan.

Jy is van jou sondelas verlos. Jy is vergewe.

Skep asem. Staan regop. Jy is verlos. Jy is vergewe.

Here, skenk aan my die genade om my sondelas by die kruis te los en, wanneer ek daar verligting ervaar het, my skouer onder ander se laste in te druk en hulle te help dra om só u wet van genade en liefde te vervul. Amen.

Johan Cilliers