Dag 38: Is jy gewoond aan jou hemelse verwelkoming?

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my (Ps 3:6).

Ons raak partymaal te gewoond aan mekaar, amper soos daardie professionele sportsterre wat hulle teenstanders deesdae in die fynste besonderhede bestudeer sodat al hulle bewegings later oorbekend is. Daar bly eintlik geen verrassings meer oor nie. Dieselfde gebeur tussen huweliksmaats, vriende, gelowiges en kollegas. Ons stereotipeer mekaar gedurig en plak etikette op mekaar.

Gelukkig is God nie soos ons nie. Hy begin elke môre oor en voor met ons. Hy weier om ons met terme soos “sondaar”, “dooie gelowige” of “geestelike terugglyer” te etiketteer. En nee, God raak nooit gewoond aan ons tekorte en foute nie. Trouens, God kan dit nie verduur nie. Daarom vergeet Hy daarvan so gou as wat Hy ons vergewe. (Of glo jy nie Psalm 103 nie?) Daarom verander God ons dag na dag na sy ewebeeld (2 Kor 3:18).

God se ritme is om oor en voor te begin. Sy genade wag elke oggend kraakvars, én met komplimente van die Heilige Gees, by ons lewe se voordeur. Psalm 3 en 4 sê immers ons raak in die Here se arms aan die slaap. Hy wag ons elke oggend met oop arms in en verwelkom ons hartlik in sy teenwoordigheid.

Wat beleef jy wanneer jy jou oë in die oggend oopmaak? Wanneer ons onsself morsdood jaag van die een dag na die ander, wanneer ons elke oggend laat is omdat die huiskat voor ons inhardloop of omdat ons ons tandeborsel laat val, hardloop ons waarskynlik loshande onder ons daaglikse hemelse verwelkoming uit. Fout!

Here, dankie dat U elke dag nuut begin met my. Maak my bewus van u sorg, vandat ek my oë in die oggend oopmaak totdat ek weer in u arms gaan slaap. Amen.

Posted in Mei

Dag 37: Elke oggend nuut

Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot (Klaagl 3:21-23).

Klaagliedere is ’n Bybelboek propvol klagtes. Dit is geskryf kort nadat ’n klompie ballinge teruggekeer het na die puin van Jerusalem wat in die jaar 586 vC deur die Babiloniërs verwoes is. Hierdie boek verwoord die terugkerende ballinge se skok en afgryse oor die vernietiging en hooploosheid wat hulle daar in Jerusalem inwag.

God se ongelukkigheid oor Jerusalem se oortredings word gereeld in Klaagliedere beskryf. In desperaatheid het Hy sy eens geliefde stad weggestoot en in die donkerte alleen gelaat. Die skrywer van Klaagliedere weet dat bekering die enigste manier is om die brug Godwaarts te herstel (3:39-42). En tussendeur, terwyl hy sy mense se pyn verwoord, breek ’n helder ligstraal tog in 3:21-38 deur.

Ten spyte van al die vernedering en mishandeling wat die mense van Jerusalem deurgemaak het, hulle nogtans nie vergaan het nie. Dit alles is net aan die liefde van die Here te danke. Daarom kan die skrywer steeds bly hoop, want te midde van al die onreg van hierdie lewe word God se liefde telkens weer sigbaar. God se ontferming hou nooit op nie.

God sien raak as sy kinders voor Hom neerbuig en hulle verootmoedig (3:29). God sien stukkende harte altyd raak. Klaagliedere 3:21-23 is hemelse musiek te midde van haglike omstandighede! Dit beteken net een ding: God sing weer vir sy swaarkry-kinders. Soos God gesing het toe Hy geskep het, sing God nou wanneer Hy sy mense nuut maak. God deel sagte salf uit. Hy droog seerkrytrane met genesende woorde af. God se trou is elke oggend nuut. Hy begin elke dag van voor af. Ook op geestelike vlak. God maak ons daagliks splinternuut.

Hemelse Vader, help my om te midde van donker omstandighede steeds u ligstrale raak te sien. Dankie dat U my elke dag nuut maak en dat daar geen einde aan u ontferming is nie. Amen.

Posted in Mei

Dag 36: Wat dan van môre?

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd (Spr 6:6-8).

Beteken al hierdie gepraat oor die belangrikheid van vandag dat ek glad nie met my oog op môre mag leef nie? Moet ek ophou beplan vir die toekoms? Moet ek onverantwoordelik raak met my geld en al my annuïteite kanselleer? Hoegenaamd nie. Natuurlik moet ek vir die dag van môre beplan. Ek moet dit ook verantwoordelik en goed doen.

Die Spreukeboek roep ons op om by die miere te gaan leer. Hulle werk hard en spaar reeds in die somer kos op vir die koue wintermaande. Nee, jy durf nie die toekoms ignoreer nie. Jy moet ’n deel van jou geld vir die wintermaande wegbêre. Jy moet dié naby aan jou se belange op die hart dra in jou finansiële beplanning. Die toekoms lê immers nog voor, as God wil.

Daar is egter meer as genoeg goeie, verantwoordelike stemme rondom jou wat jou op die regte maniere na die toekoms toe kan begelei. Ongelukkig is daar veels te min stemme wat jou terugruk na die werklikhede van vandag toe.

Helaas, vandag is die enigste tydsone waarin jy die volgende 24 uur van jou lewe gaan deurbring. Moenie dat dit deur jou vingers val nie. Koester dit en beleef dit voordat jy jou visier op môre instel.

Ewige Here, help my om vir môre te voorsien sonder om van vandag te steel sodat ek u geskenk van die hede ten volle kan beleef. Amen.

Posted in Mei

Dag 35: Ons daaglikse porsie

Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak. Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval (Num 11:8-9).

God se goedheid en voorsiening neem nie ons verantwoordelikheid om te werk weg nie, maar God verwag ook nie dat ons soos slawe van sonop na sonsondergang, jaar-in en jaar-uit, moet werk nie. So ’n lewe is ’n lewe waarin ons verby God leef, en verby almal vir wie ons lief is.

God vra van ons om vandag se manna op te tel, en môre se porsie vir môre te los. Daar sal immers môre ’n porsie vir ons gereed wees. God gee vir ons alles wat ons nodig het (werk, brood, klere, noem maar op) en ons hoef nie daaroor bekommerd te wees nie.

Kleingeloof sluip in wanneer ons bekommerd raak oor of ons môre genoeg sal hê om van te oorleef. En kleingeloof wen wanneer ons hierdie vrees toelaat om ons lewe te regeer en rigting daarin te gee, in plaas van die genade van God.

Dit is ’n mosie van ongeloof in God om te werk asof alles wat ons nodig het om te oorleef net van óns afhang. God is die Voorsiener, en Hy doen dit op natuurlike (en soms bonatuurlike) maniere.

God sorg. Wanneer ons naby aan God leef en van Hom afhanklik is vir lewe, kan ons nie anders as om Hom oral raak te sien en raak te leef nie. Die daaglikse hemelse manna herinner ons hieraan.

Here, ek kies vandag om stadig te leef sodat ek sal raaksien wat U vandag vir my voorsien. Amen.

Dag 34: God skep mense-tyd een dag op ’n slag

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword (2 Kor 5:17).

Genesis se skeppingsverhale vertel van God se kreatiewe ritme, van sy skeppingspoed. Teen die tempo van een dag op ’n slag het God sy skepping mooi gemaak, geverf, geskilder, beskryf, gevorm en besing.

God is ’n hemelse Kunstenaar wat ses dae lank een dag op ’n slag geskep het. En hoe wonderlik – aan die einde van elke dag het God agteroor gaan sit, na sy wonderlike skepping gekyk en dit geniet. Die groot wonderwerk van die skeppingsverhale is dat God jubel en juig oor sy handewerk, en dit uiteindelik saam met die mens geniet.

God kan ons help om die klein meesterwerke in ons daaglikse lewe raak te sien en ons te help om dit ook te geniet. En hoe wonderlik dat God dit saam met ons geniet! Daar is nie ’n gejaagdheid hieraan gebonde nie; God nooi ons uit om dag vir dag te leef en elke dag ten volle te leef en geniet.

Dit beteken nie ons is lui of met min tevrede nie. Inteendeel, dit gee vir ons die geleentheid om die ongelooflike in die alledaagse raak te sien. Ons kry die geleentheid om regte wonderwerke weer te sien.

Skepper-God, ek jubel en juig saam met U oor die wonder van u skepping. En ek dank U dat U my geskep en herskep het. Amen.

Dag 33: Begin by die regte gister as jy vandag voluit wil leef

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Rom 8:17).

Jesus is die hoogtepunt, die keerpunt, die fokuspunt, die kruispunt van alles wat God gister kant en klaar gedoen het om die wêreld permanent anders te maak. Alles het daar by die kruis en die oop graf nuut geword.

As ons na enige gister wil kyk om besluite te neem vir vandag en môre, is die gister van die kruis die beste een om by te begin.

Baie van ons is slagoffers van slegte gisters en eergisters. Mishandeling, misdaad, trauma, dood – daar is soveel redes om te huil wanneer ons oor ons skouer kyk. Maar die goeie nuus is dat Jesus gister reeds herskryf en ons toekoms heeltemal verander het. Jesus het sy vingerafdrukke op al ons gisters en eergisters afgedruk, en dit het die hele gevoel van hierdie gisters en eergisters verander. Ons geskiedenis begin nie meer by die seer nie, maar by die kruis.

Deur elke dag ons fokus te plaas op die kruis en wat dit vir ons hele lewe beteken, kan ons vandag met meer vryheid en vreugde leef. Dit vat nie die seer en trauma weg nie, maar plaas dit in ’n nuwe perspektief. Een wat ons herinner dat Jesus ons liefhet en dat ons erfgename saam met Christus is. Dit maak alles nuut en gee dit ’n nuwe geur!

Jesus Christus, dankie dat U my aangeraak en my gisters verander het sodat my vandag en my môre ’n nuwe geur kan hê. Amen.

Dag 32: Sien ook die kleiner prent raak

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh 3:16).

Die groter prent is belangrik en ons durf dit nie uit die oog verloor nie. Maar daar is ook ’n ander kant, en dit is een wat ons gereeld miskyk: die kleiner prent waarin die alledaagse lewe gebeur, wat soms vir ons net te vervelig voel om regtig na al die besonderhede op te let.

Die groter prent is soms baie verleidelik juis omdat ons ons groot missie in die lewe kry – by ons werk, in die kerk, in die samelewing waar ons ’n verskil probeer maak. Maar wat help dit ons sien die groot prent raak, maar ons mis elke kleiner prent wat deel van ons lewe vorm?

Een manier om die kleiner prent nie mis te loop nie, is deur na gister te kyk. Die verlede speel ’n groot rol in ons daaglikse lewe, en in die keuses wat ons vandag gaan maak. Maar dit is baie belangrik by wátter gister ons begin kyk! Ons begin elke keer by God se groot gister van die kruisiging. Ons gesels more verder hieroor.

Here, maak my oë oop sodat ek sal sien wat werklik belangrik is, wat vir U belangrik is. Amen.

Dag 31: Vandag – God se gunstelingtyd

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep (Gen 1:27).

Dit voel vir soveel mense onmoontlik om stadiger te lewe. Hoe gaan ek deur my hele to-do-lysie kom? Hoe gaan ek by al my afsprake uitkom? Daar is net hopeloos te min ure in die dag!

Maar het God nie vir ons 24 uur elke dag gegee juis omdat dit genoeg is nie? God is nie bekend daarvoor om te veel of te min te voorsien nie.

Die wêreld waarin ons leef, het vir ons die duidelike boodskap gegee dat ons net soveel werd is as wat ons kan doen of gee. Dus, hoe meer ons kan doen, hoe meer waarde het ons. Tog is dit glad nie hoe God ons sien nie. Inteendeel, ons waarde het niks met ons te doen nie, maar eerder met die Een wat ons geskep het. Vir God gaan dit oor gehalte en nie hoeveelheid nie.

Een-dag-op-’n-slag-spoed is nie niksdoen-spoed nie. Mense wat vir vandag saam met God leef, is nie noodwendig stadig nie. Nee, hulle het maar net opgehou om haastig te wees. Hulle gejaagdheid het plek gemaak vir rustigheid; hulle bekommerde gesigsuitdrukkings is vervang met vreugde.

Deur ons spoed te verander van al-die-dae-op-een-slag na een-dag-op-’n-slag ontvang ons ’n wonderlike lewe van gehalte. Ons leer om die huidige oomblik te geniet en nie net te werk na die volgende een toe nie. Ons het tyd om God in gewone oomblikke raak te sien en om dag vir dag saam met God te wandel. Ons het tyd om ’n gehalteverhouding met God te hê.

Here, maak my rustig sodat ek ’n lewe van gehalte sal leef, en nie net sal jaag nie. Ek wil dit doen sodat ek U in die gewone kan raaksien. Amen.

Dag 30: Wees lief vir mekaar

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik – 1 Johannes 4:12.

As getuies van God is dit ons taak as gelowiges om nie net oor God te praat nie; ons moet God ook vir mense sigbaar maak in hulle lewe. Al het niemand nog ooit vir God gesien soos Hy werklik is nie, raak sy wese sigbaar wanneer ons mekaar opreg liefhet. God is immers liefde en daarom wys ons vir die wêreld wie God is wanneer ons mekaar liefhet.

Ons gesels nou al 30 dae vanuit die Nuwe Testament oor hoe ons ons liefde prakties teenoor mekaar en ander kan uitleef. Ons moet nederig en vergewensgesind wees. Ons moet mekaar dien en aanspoor om vanuit ons geloof te leef. Ons moet mekaar in ag neem. Deur hoe ons bid en sing, aanbid en dien, moet ons vir die gemeenskap waarvan ons deel is, wys wat dit beteken om deur God se liefde aangeraak te wees. Ons moet ander se nood raaksien en verlig.

Uiteindelik is elke liefdesdaad wat ons doen ’n reaksie op wat Jesus vir ons gedoen het. Wanneer ons dade van liefde vir mekaar en ander doen, verheerlik ons sy Naam. Mag ons dit ook saam doen in die tyd wat voorlê.

Vader, dankie vir u liefde. Dankie dat ons u liefde ontvang sodat ons dit met ander kan deel. Gee dat hulle U in ons liefdesdiens sien en ervaar. Amen.

Dag 29: Dien mekaar in liefde

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde – Galasiërs 5:13.

Danksy Jesus se dood en opstanding hoef gelowiges nie meer hulle eie verlossing na te jaag deur die ganse wet soos dit in die Ou Testament opgeteken is, na te kom nie. Hierdie vryheid beteken egter nie dat ons nou wetteloos kan leef nie. Ons moet mekaar eerder in liefde dien, nie om só deur ons dade gered te word nie, maar uit dankbaarheid omdat ons gered is.

Waar ons vroeër slawe van die sonde was, mense wat net die verkeerde wou doen, het Jesus ons vrygemaak uit die greep van die sonde. Daarom is ons nou ook vry om volgens God se wil te leef. Ons is nie meer uitgelewer aan ons ou sondige begeertes nie. Ons mag ook nie redeneer dat aangesien al ons sondes reeds vergewe is, dit nie meer saak maak of ons sonde doen of nie. Ons moet altyd dink aan die prys wat Jesus vir ons verlossing betaal het. Ons is duur gekoop. Ons vryheid van die sonde mag daarom nooit vir ons vanselfsprekend wees nie. Ons moet dit eerder aangryp om mekaar in liefde te dien, soos Jesus ons in liefde gedien het.

Here, dankie dat U my sonde vergewe en my vrygemaak het sodat ek ander in liefde kan dien.  Weerhou my daarvan om hierdie vryheid te misbruik om sonde te doen. Amen.

1 2 3 4 5 152