Lees Lukas 24:44-53.
“En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur” (v 49).
Jesus is op die punt om finaal van sy volgelinge af weg te gaan. Binnekort sal Hy sy plek aan sy Vader se regterhand inneem, van waar Hy vir hulle, sy volgelinge, vir óns, sal intree.
Maar eers was daar ’n klompie laaste dinge: ’n bietjie katkisasie, ’n reëling, ’n opdrag of twee. En die bevestiging van ’n belofte.
Dit, lyk dit my, is maar soos die Here-van-die-beloftes werk: Hy belowe, en dan bevestig Hy dit. Weer en weer. Boonop dikwels met ’n aanskouingsles wat voor ongelowige oë afspeel. Want Hy ken sy kinders: Hulle luister en vergeet, hulle kyk en kyk – en sê later: “Ek weet nie of ek my oë moet glo nie …”
Hulle hoef natuurlik nie hul oë te glo nie, of hul ore nie. Jesus verduidelik aan sy volgelinge, soos vir skoolbeginnertjies: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het …” (v 44). En, sê dié Evangelieskrywer, toe “open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan” (v 45). Sien? Jesus vertel hulle alles, en toe help Hy hulle boonop verder. Geduldig.
Nee, gelowiges hoef bloot vir Hom, hul Here, te glo. Sy woord, wat ’n erewoord is. Sy beloftes, wat deur Hom self gewaarborg word en in bloed onderskryf is.
Nou gaan Hy weg, sodat Hy dit vir hulle, vir óns, nog makliker kan maak om alles te glo wat Hy belowe het. In sy plek kom die beloofde Gawe van God: die Gees wat hulle sou oorweldig. Wat ook in ons sy intrek sou neem. Sodat Hy ons, die hardhorendes en nikssieners, die maklikvergeters, kan help onthou in wie ons glo.
Ek weet aan wie ek toevertrou is, al wissel dan ook dag en nag …
Barend Vos