Beloftes, beloftes …

Lees Psalm 85.

Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien (v 10).

Dit is motiveringsprekers en opwekkingspredikers en beroeps­troosters se ou laai dié. Hulle sal sê: Byt net vas, daar is beter dae om die draai. Ja, almal weet dinge gaan maar goor hier rond, maar die gety is aan ’t draai. Glo my vry.

Op grond waarvan moet hulle geglo word? My navorsing be­wys dit, sê die motiveerder. Ek voel dit aan, sê die trooster. En die prediker met die blink oë roep uit: Die Gees het dit aan my geopenbaar! Uitroepteken en al.

Net die naïefste onder die naïewes sal dit glo. En, soos die vorige keer toe hulle dit moes sluk, dié keer ook net vir ’n kort rukkie. Wanneer hulle oplaas die werklikheid in die oë moet kyk, is die geloof in navorsing weer ’n knou toegedien, het die aanspraak op aanvoeling en intuïsie nóg ’n skeptikus bygekry.

Die geloof in ’n God wat sy kinders uitkoms belowe? Nee wat …

Is daar enigiets wat die uitsprake in hierdie psalm anders maak, geloofwaardiger, al is dit net ’n bietjie? Dalk die psalmdigter se herinnerings aan hoe God in die verlede opgetree het, dat Hy toe uitkoms belowe én gegee het? Dalk die pleitende vrae, die gesindheid van opperste afhanklikheid, die totale afwesigheid van goedkoop triomf? Of die voorneme om goed te luister, om noukeurig te wil hoor presies wat die Here vir hom en sy mense sê?

Ja, straks is dít die groot verskil: Hier is geen teken van ’n on­afwendbare noodlot of ’n vermakerige boeliegod nie. Hier is net hoop, nuwe vooruitsigte. En ’n kinderlike vertroue op ’n geliefde, bekende Vader.

Ek sal luister wat U sê, Here. Ek is so moeg vir mense se oormoed, se valsheid.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: