Lees Psalm 106:1-5.
Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring? Wie kan sy lof ten volle verkondig? (v 2).
Here, hierdie taal – en sekerlik alle ander –
het nie genoeg woorde om u grootheid te beskryf nie.
Ons verval te geredelik in stokou clichés,
of pleeg in gewaande kreatiwiteit allerlei lawwe
nuutskeppings wat soms aan laster grens.
Daar is mos mense wat alle perke oorskry om vatplek
aan U te probeer kry en dan, ironies genoeg, nie God
se grootheid onder woorde bring nie, maar U eerder
klein maak. Bevatlik,
mak …
Ons sukkel, soos amateurskilders, met perspektief
wanneer ons u dade met ons grys kwaste wil teken.
Ons trek die lyne te strak;
hou die ruimtes te smal –
alles moet noodwendig binne óns raamwerk pas.
Neem ons tog nie kwalik nie, Here!
Ons is nie gebore in staat om die volle prentjie
te sien nie; ons kyk in ons eie belange vas
en vind ons uitsig deur verbeeldingloosheid versper.
Miskien is dit beter, Here, om ons eerder voor te neem
om u gebooie stip na te kom. Daardie taal is immers reeds
geskep én nougeset genommer: een tot tien. Daar is dus nie
ruimte om buite die boksies in te kleur nie. En vergesogte
vertalings werk nie hier nie; wat geskrywe is, is geskrywe.
As ek dan sukkel om reg te laat geskied aan die beskrywing
van hoe U is, wat U doen; as ek oor my en ander se woorde struikel;
wanneer alle ongebruikte onmag op die palet verdroog,
herinner my tog aan u dubbele hand vol ruim reëls om my dank te wys.
Só sal ek tóg die prentjie voltooi.
Voorlopig.
En daarmee het ek dan klaar gepraat.
Vir eers.
Amen.
Barend Vos