Beskermer

Lees Psalm 91:1-4.

Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante (v 4).

Here, ek het vas geglo dat U my beskermer is.
Nie sommer “beskerm” in die algemeen nie,
maar in die besonder – in fyn besonderhede.
Van kleins af is ek geleer: God tel die hare op jou hoof.
Hy sorg vir die kleintjies; die klein dingetjies.
Hy voorsien in jou onbeduidende behoeftetjies.
Hy hoor jou mees basiese begeertes.
Hy sien van naby; Hy leef op grondvlak.

Soos ek groter geword het, het ek geleer dat ons
nie anders kan as om in babataal oor U te praat nie.
Ons maak klein kindertekeninge en probeer só
om iets van u omvattende voorsienigheid te snap.
Welwetend dat dit nie naastenby die volle prentjie
is nie; ons teken vanuit ’n erg beperkte perspektief.

In immergroeiende beskeidenheid het ons leer sê,
erg apologeties: Dit ís darem ’n wegspringplek …

Nou, eensklaps, besef ons met skrik en skok:
Waar is ’n beter beginpunt as “beskerming”?
Want wié verstaan die behoefte aan U wat
ons moet beskut beter as ons – juis nou, hiér?

Ons haas ons dus deesdae na die beskerm-prentjies,
ons kruip diep weg in die skadu van u beskutting.
Ons kom tuis in “bergskuiling”; voel ons veilig onder “vlerke”.
“Skild” het gou-gou ’n geliefde metafoor geword, soos “skans”.
En “red” dié werkwoord wat by God hoort.

Here, as ek dan al hierdie woordprentjies weer onder
die oë kry en in my weerloosheid kort-kort na U gaan soek –
sál U vir my, sonder vraag of voorwaarde, ’n toevlug wees?

Sien, my eerste naïwiteit is lankal
in ’n Kinderbybel dig toegemaak,
diep weggebêre. Lê nou onder stof.
Maar, Here, hier’s ek weer. Net soos ek is.
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: