Lees Psalm 119:5-8.
As ek tog maar net op ’n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! (v 5).
Ek is ’n rondloper, Here.
’n Soeker na veel groener weivelde
as dié waar U my heen lei.
Ek karring in die water
waar daar vrede is;
ek krap U om.
Ek gedra my loskop, Here;
ek is ’n groot risiko
vir die planne wat U beraam.
’n Gevaar op die pad
wat U met soveel sorg gemaak het.
En dit alles, Here, weerhou my van ’n toegewyde lewe
voor u aangesig en ’n nougesette wandel in u weë.
Dit maak dat u kinders na my kyk en sien
hoe dit nié gedoen moet word nie. Hulle frons
oor my voor hul vriende en neem hulle voor
om liefs nie my voorbeeld te volg nie.
Ek het nie raad met myself nie, Here.
U weet hoeveel keer ek al probeer het
– vasberade, tandeknersend, vol ywer,
geïnspireerd – om hiérdie keer
my lewe om te keer.
En net wanneer ek dink: Nou het ek myself vir U gewen!
kom ek agter hoe alles maar weer by die nate lostorring.
Ek sê dikwels aan myself: “Die Here weet só kan dit nie aangaan nie!”
Ja, U weet dat ek nie meer raad het nie; U sal ’n plan moet maak
om my aan u wil vas te bind. Skryf tog met u vaste hand op my hart.
Gryp my aan die skouers en hou my styf vas sodat ek gedwing word
om U in die oë te kyk. Praat dan maar hard, Here!
Herinner my onomwonde aan dit wat U vir my op die oog het.
En, as U dit oor u hart kan kry,
fluister asseblief tog net een maal
dat U lief is vir my …
Ten spyte van alles.
Amen.
Barend Vos