Bou die koninkryk

Wat help dit … as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:14-17).

In sy boek Praying the Lord’s prayer skryf Herman Waetjen dat Matteus die enigste Evangelieskrywer is wat die bede “laat u wil geskied” by die Ons Vader insluit. Waarskynlik hou dit verband met Jesus se gebed later in dié Evangelie toe Hy in Getsemane gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt 26:39). Dit is juis omdat Jesus God se wil gedoen het dat die koninkryk van God gevestig is. Deur Jesus se dood en opstanding staan God se koninkryk vas!

Die bede dat God se koninkryk moet kom, is op die lippe van elkeen wat God hulle Vader noem. Dit beteken ons wat God ons Vader noem, staan saam om só te leef dat God se heerskappy en sy wil duidelik sal word. Ons lewe, ons gesindhede, ons aksies en ons denke trek die gordyn op God se koninkryk oop sodat dit vir almal sigbaar sal raak. Ons kan immers nie bid dat God se koninkryk sal kom en dat sy wil sal geskied sonder om aktief daarby betrokke te raak nie.

Daarom is die Ons Vader-gebed ook ’n gebed wat ons integriteit uitdaag. Hoe leef ons? Wys ons vir ander mense hoe God se koninkryk lyk? Wanneer mense na ons kyk, sien hulle God regeer oor ons lewe? Waetjen skryf dat ons bid dat God se wil geskied “sodat ons verantwoordelik hande en voete aan God se heerskappy kan gee”.

Dis geweldige woorde. Dit is egter ook iets wat ons gereeld in die Evangelies lees. Jesus selfs sê aan sy dissipels: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan” (Joh 14:12).

Mag die Heilige Gees ons bemagtig om Jesus se bediening op aarde voort te sit deur die goeie nuus van God se heerskappy te verkondig.

Ons Vader, gebruik my in diens van u koninkryk. Ek wil met integriteit leef sodat my woorde en dade die gordyn op u koninkryk sal ooptrek en ander U kan sien en U kan loof. Amen.