Lees Psalm 107:33-41.
Hy seën hulle en hulle word vinnig meer, Hy laat hulle vee nie minder word nie (v 38).
Here, ek is net ’n mens, en mense soos ek
is altyd op die uitkyk vir iets buitengewoons:
fenomenale groei, verbluffende vermindering,
enorme ontdekkings, ontwikkelings, ontploffings.
Daarom is dit maklik om op die lewe terug te kyk
en U te sien in u buitengewone mag en majesteit.
Al u ontsagwekkende handewerk lê oop en bloot
op die spoor wat anderkant die verste bult begin
en meestal kronkelend tog tot hier gevorder het.
En die wonderbaarlikste van alles,
is dat al dié verbysterende fenomene
nie die volle verhaal vertel nie –
nie eens naastenby nie.
Die oog wat U oor u kinders hou, dít is die groot wonder.
En wat van hulle wat – sensasioneel! – die eerste prys
ontvang: die hongeres, die swakkes, die minderes?
U seën hulle op geen onduidelike manier nie; daar is geen ruimte
vir misverstand nie. Die vernames sien dit raak; almal praat daaroor.
Dié wat oë het om te sien en ore om te hoor,
weet maar te goed hoe lyk en klink God se partydigheid.
Vir sommige is dit ’n aanstoot en ’n ontnugtering.
’n Bevestiging van hul vermoede dat God
se manjifieke genade oor die onverdienstelikes
ver meer is as wat enigeen kon dink.
Ja, u seën is skouspelagtig oor dié
wat deur die samelewing uitgestoot word;
hulle wat telkens weer agter moet inval.
En wat sê hulle? Dié met die verleë gesigte en die bak hande?
Ons juig, Here.
Ons sê dankie, dankie, dankie,
o God van buitengewone goedheid.
Amen.
Barend Vos