Lees Handelinge 11:19-26.
In Antiochië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem (v 26).
Hulle het hul Leier se Naam geken en liefgehad. Christus heet Hy, oftewel Messias. Gesalfde van God. Nou het hulle, hier in Antiochië van alle plekke, ook húl naam gekry – Christene, heet hulle nou. Volgelinge van die Gesalfde.
Hopelik was die kwessie oor wie almal vir dié benaming kwalifiseer, ook nou uitgestryk. Die Jesusvolgelinge wat ver gevlug het om aan vervolging te ontkom, was hoeka uit verskillende windrigtings afkomstig, selfs van Siprus en Sirene (v 20). Hulle sou geweet het hoe God se keuses lyk wanneer Hy vir Hom kinders bymekaarmaak. En dit is toe ook hulle wat die Jesusverhaal aan die Griekssprekendes in Antiochië verkondig het. Afstand bring perspektief, dit weet almal. By Godskinders is dit nie anders nie.
Daarom is dit nie vreemd dat al hierdie dinge in Antiochië afspeel nie. Die eerste Christensendelinge, Paulus en Barnabas, sou later ook vanaf hierdie kosmopolitiese gemeente uitgestuur word, en weer hierheen terugkeer om verslag te doen.
Antiochië, ja. Nie Jerusalem nie. Nie daar waar Petrus-hulle gewerk het nie. Nie by die plek waar die groot dinge – die kruisiging en opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees – plaasgevind het nie. Feit is: Die plek waar die Christene regtig “kerk” geword het, die beweging van God in hierdie wêreld, was aanvanklik niks meer nie as ’n vlugtelingkamp. ’n Tussenstasie.
Dit behoort niemand te verras nie. Christus se kerk het nie ’n hoofkwartier nie. Hierdie kerk werk vanaf ’n buitepos. Dié waarheid herinner kerkmense dan sommer ook daaraan dat hulle altyd pelgrims op ’n deurreis sal wees. Tentopslaners. Bywoners, met ’n gans ander vaste adres.
By U is ek tuis, Here Jesus. Ek dra dan u Naam.
Barend Vos