By nadenke

Lees Psalm 92:7-16.

So sal blyk dat die Here regverdig is, dat daar by Hom geen onreg is nie. Hy is my rots (v 16).

Ag, Here, hoe gereeld loop ek nie in dié strik nie:
Wanneer ek die voorspoediges so bewonderend beskou,
hulle onbelemmerde vooruitgang;
en ek die sigbare goddeloosheid deur die vingers sien
– soos ’n mens dié dinge maar miskyk
wanneer geld en roem en mag jou verblind –
dan blink my oë en skarrel ek vir ’n plekkie
neffens hulle in die son van hul skitterende sukses.
Straks vang mý hoof ook ’n goue straal!
Só word ek – dom, dwaas – weer eens bedrieg deur klatergoud.
Verblindende ydelheid.

Goddank, U word nie deur grootmanspeletjies
beïndruk nie; U sien deur die kinderagtigheid.
Met ’n knip van u oog speel U daarmee klaar.

En dan is dit net ek, stadig van begrip, wat verleë staan en wonder:
Hoe sou dit gewees het, as …?
Terwyl ek eers later agterkom hoe mildelik
ek geseën is deurdat die goddelose se vernietiging
voor my oë afgespeel het – sodat ek op kort afstand
self kon sien waar my heil nié lê nie.

Ja, U sorg vir my, bestendig, sonder opspraak.
Ek sit aan die tafel van u teenswoordige goedheid.
Ek groei rustig in u welige tuin van belofte.
Boonop lig U my soms verrassend hoog
sodat ek ’n goeie blik kan kry op hoe gelukkig
ek werklik is, en eerstehands kan sien presies hoe
die ondergang lyk van hulle wat ek eens so beny het.

Wanneer ek dan weer oor alles nadink, en my stilweg
afvra – net om doodseker te maak – wáár sal jy wil oud word?
Dán borrel die antwoord uit,
vanselfsprekend:
By Hom,
ín Hom:
my Rots!
Amen.

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: