Deur die dieptes

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Hand 16:25).

Die kerk is ’n gemeenskap in lof en lyding. Dikwels is dit juis ’n gemeenskap van lof ín lyding! Sien ’n mens dit beter as in die geskiedenis van Paulus en Silas in die tronk in Filippi (Hand 16:16-34)? Hier sit die kerk in die kleine in boeie en blokke. Hulle het alle rede om alle hoop te laat vaar. Hulle rûe is oopgekloof deur die gesel. Om hulle is dit donker en bedompig en eensaam – ’n koue, klam kerker.

Maar wat doen hulle? “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25).

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing. Maar daar in Filippi het hulle saamgesing. Hulle stemme smelt saam, word een in hulle lof aan God. Die ander gevangenes het so iets nog nooit gehoor nie. In plaas van ’n gejammer hoor hulle ’n gejubel! Die lof van Paulus en Silas kring uit, dit raak die medegevangenes en later selfs die geharde tronkbewaarder (16:27-34).

Baie van ons meen dat ons eers moet wag totdat omstandighede reg is voordat ons God (kan) prys. Nee, prys God in jou krisis, nood, siekte en swaarkry. Doen dit saam met ander gelowiges in hulle moeilike omstandighede. Jy sal verstom staan oor die trefkrag daarvan.

As ek in Silas se skoene was, het Paulus sekerlik ’n solo gesing.

Here, in my nood wil ek ’n noot aanhef. Maak dit ’n simfonie. Amen.

Johan Cilliers

Deur die doringdraad

Ten slotte: Wees almal eensgesind (1 Pet 3:8).

Die gemeenskap van die heiliges is wel ’n gemeenskap in lyding, maar ook in lof. Deur ons lof aan God word ons saamgebind. Dit word vir die wêreld ’n teken van ware eenheid, ’n demonstrasie van ware eensgesindheid (Fil 4:2; 1 Pet 3:8). Aan hierdie soort eensgesindheid het die wêreld ’n groot behoefte. Daar is soveel menslike pogings om uit te reik oor die klowe wat ons van mekaar skei, klowe van haat, bitterheid en wantroue. Daar is soveel faktore wat hierdie klowe kan verdiep. Hiervan het ons in ons land genoeg ervaring.

Die gemeenskap van die heiliges kan hierdie klowe oorbrug. Ons kan ’n versoenende rol speel. Dit gebeur op sy beste as ons een is in ons lof aan God. Dit het ’n groep krygsgevangenes in die Tweede Wêreldoorlog eenkeer beleef toe ’n paar Christene bymekaargekom het by die doringdrade wat hulle in hulle onderskeie groepe verdeel het. In die een kamp het iemand op ’n kitaar begin tokkel. In die grenshoek van ’n ander kamp het iemand anders ingesit en begin sing. Gou het al die verskillende groepe saamgesing, een geword in hulle lof. Sodat die skeidende doringdrade as’t ware oorbrug is. En die res van die mense in die kampe het gekyk en geluister …

Span jy doringdrade, of probeer jy hulle afbreek?

Die gemeenskap van die heiliges kan die klowe tussen mense versoenend oorbrug.

Here, ek moet bely dat ek dikwels met my gesindheid pale plant en doringdrade span. Gebruik my om eerder brûe te bou. Amen.

Johan Cilliers

Watter kroon dra jy?

Moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie (1 Joh 3:13).

“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:12). Ernstige woorde! Dit is nie lekker om te hoor dat ons wat tot die gemeenskap van die heiliges behoort vervolging kan verwag nie. Maar so is dit. Moontlik nie vervolging in die letterlike sin van die woord nie, maar die wêreld sal altyd vyandig teenoor gelowiges wees omdat die wêreld altyd vyandig teenoor Christus is. Daarom waarsku Johannes ons: “Moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie” (1 Joh 3:13).

Nee, ons moenie verbaas wees nie, maar dit eerder verwag dat ongelowiges wat saam met ons woon of werk, ons soms sal spot en met minagting sal behandel. Dit kan amper nie anders nie – indien ons uitkenbaar “anders” leef as die wêreld, as ons ons Christelike waardes uitleef.

Baie jare gelede het die kerkvader Tertullianus die volgende geskryf: “As die Tiber sy oewers oorvloei, as die Nyl nie die akker oorstroom nie, as die hemel staan, as die aard beweeg, as daar hongersnood is, as daar pestilensie is – steeds word die Christene vir die leeus gegooi.”

’n Mens sou selfs kon vra: As alle ongelowiges meen jy is die wonderlikste mens in die wêreld, het jy werklik al die evangelie aan hulle verkondig? Natuurlik moet gelowiges nie konfrontasie soek nie. Ons moet egter weet, soos Luther gesê het: As Christus ’n kroon van dorings moes dra, kan gelowiges verwag om ’n kroon van rose te kry?

As Christus ’n kroon van dorings moes dra, kan ons dan ’n kroon van rose verwag?

Here, kroon U my. Dit is vir my genoeg. Amen.

Johan Cilliers

Dra jou kruis

“Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie” (Luk 14:27).

Die ou kerkvaders het dikwels na die gemeenskap van die heiliges wat nog op aarde is, verwys as ecclesia militans (die strydende kerk). Want hieroor moet ons geen illusies hê nie: Wie volgelinge van Jesus wil wees, sal hulleself moet verloën, hulle kruis moet opneem en Jesus volg (Luk 14:27). Dit beteken jy lê jou ou bestaan af, ook jou eie wil, jou begeertes, belange en voorkeure – ter wille van die koninkryk van God.

Daar word ’n legende oor Petrus vertel wat nie histories bevestig kan word nie, maar wat die hegte verband wat die vroeë kerk tussen lyding en die navolging van Jesus gelê het pragtig illustreer. Volgens hierdie legende het Petrus onder die bewind van keiser Nero in Rome ’n marteldood gesterf. Hy is ook gekruisig, volgens die teregstellingsmetode van daardie tyd. Maar sy wens was om onderstebo gekruisig te word aangesien hy hom nie waardig geag het om soos sy Meester te sterf nie.

Nie almal van ons sal soos Petrus of die ander martelare op ’n wrede manier, tot die dood toe, vir ons geloof hoef te betaal nie. Dalk word ons net beledig. Maar vir ons is dit al erg genoeg. Maar Petrus sê hierdie verrassende woorde:

“Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op julle bly” (1 Pet 4:14).

Voel jy vandag onderstebo omdat jy Jesus wou volg en teenkanting ervaar het? Dink aan Petrus! En dra die bietjie belediging wat na jou kant toe kom met blydskap.

Dra die bietjie belediging wat na jou kant toe kom met blydskap.

Here, dankie dat ek U kan volg. Al slaan my dissipelskap my soms onderstebo. Amen.

Johan Cilliers

Gekondisioneerde kerk?

Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? (Spr 6:27-28).

Die invloede wat die samelewing op die kerk uitoefen, is ’n sterk suigkrag, maar meestal nie dramaties en ooglopend nie. Dit werk eerder ongesiens en onsensasioneel. Dit kan byvoorbeeld lank duur voordat die kerk soos die sekulêre samelewing begin dink oor aborsie, genadedood, buitehuwelikse seks, en so meer. Die kerk verander nie oornag in ’n totaal onheilige instituut nie. Nee, die kerk se heiligheid word gewoonlik stadig aangetas, van binne, stap vir stap uitgekalwer. Stukkie vir stukkie word die kerk gekondisioneer om soos die wêreld te dink.

Geleerdes beweer dat as jy ’n kreef in water sit en die water stadig tot by kookpunt verhit, die kreef te laat van die gevaar bewus sal word en dan nie meer kan uitklim om sy lewe te red nie. Hy word stelselmatig doodgebrand en kom dit nie eens agter nie.

So is ons. Dikwels koester ons ’n sonde en meen: Dit kan darem nie te skadelik wees nie? Ons speel met vuur (kookwater) en kom nie eens agter dat ons verbrand nie. Ons omarm die sonde en hoop vir die beste.

Ons sal ons vingers lelik verband. Die Spreukeskrywer sê presies dit wanneer hy, byna sarkasties, vra: “Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?” (6:27-28).

Daar is nog tyd. Sorg dat jy ontsnap voor die water kook.

Dikwels omarm ons die sonde en hoop vir die beste. Ons sal ons vingers (en meer!) lelik verband.

Here, wees U my termometer. Amen.

Johan Cilliers

Keer die sondesnoet

Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob en sal My oor sy wonings ontferm (Jer 30:18, 1953-vertaling).

In die Ou Midde-Ooste gebruik die mense ’n vergelyking tussen die sonde en ’n kameel. Wanneer die nomadiese woestynbewoners hulle tente opslaan om te oornag, gebeur dit soms dat ’n kameel die punt van sy snoet by ’n tentklap sal insteek. Gewoonlik word hy dan weggejaag. Maar wee jou as jy hom laat begaan!

Eers steek hy sy hele kop by die tent in. Dan het jy nog tyd om te besluit of jy hom wil verwilder of laat aanhou inloer. Doen jy niks nie, volg sy lang nek stelselmatig. Dit hou nog nie gevaar in vir jou of jou tent nie. Maar, as jy hom so ver toelaat dat die eerste boggel op sy rug by die tentdeur inkom, is dit te laat. Dan beur hy doodgewoon met alle mag na binne en lig jou tent los van sy penne. Dan sit jy met ’n platgetrapte tent onder ’n oop hemel terwyl die sandstorm op jou afkom.

Om heilig te leef, is om die snoet van die kameel met die eerste verskyning ’n voltreffer te gee. En weer en weer …

Miskien lê jou tent lankal onderstebo. Dalk dink jy dit sal nooit weer reggemaak en opgeslaan kan word nie. Jy is verkeerd. Want die Here sê: “Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob en sal My oor sy wonings ontferm” (Jer 30:18; 1953-vertaling). Die Here self rig jou lewenstent weer op.

Die Here self sal jou lewenstent weer oprig.

Here, maak my betyds wakker om die kameel se snoet te sien. Amen.

Johan Cilliers

Dwergies en draadjies

Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spr 28:13).

Wie heilig wil leef, word al hoe meer bewus gemaak van sonde en wil normaalweg al hoe meer daarvan afstand doen. ’n Mens kan byna sê: Hoe heiliger jy leef, hoe meer intens word hierdie bewussyn en begeerte.

Maar, getrou aan ons sondige aard, maak ons – ten spyte van ons begeerte om sonde te laat vaar – dikwels die fout om nie dadelik werk te maak van ’n sonde waarvan ons in ons lewe bewus word nie. Dis veral “kleiner”, “minder ernstige” sondes wat so deur die net van ons behoedsaamheid glip. Hierteen waarsku die Spreukeskrywer ons: “Wie sy sondes wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sondes bely en daarvan afsien, sal genade ontvang” (Spr 28:13).

’n Pragtige kinderverhaal illustreer hierdie waarheid. Daar was eendag ’n yslike reus wat geamuseerd lê en kyk het hoe ’n klomp dwergies hom met fyn draadjies probeer vasbind. Hy het hom nie veel daaraan gesteur nie; hy kon immers enige oomblik sy spiere inspan … en siedaar! Dwergies en draadjies in alle rigtings. Die dwergies het maar net aangehou om die reus vas te bind en die draadjies met pennetjies in die grond vas te slaan. En toe die reus uiteindelik moeg word vir die speletjie en wil opstaan, ontdek hy dat hy nie kan nie. Die duisende draadjies was saam net te sterk vir hom. Hy was vas. Want hy het te lank gewag …

Maak vandag nog werk van die dwergies en die draadjies van “onskuldige” sondes in jou lewe. Gooi hulle dat hulle doer trek …

Die fout wat ons dikwels maak, is om nie dadelik ontslae te raak van die sondes in ons lewe nie.

Here, vergewe my dat ek die dwergies so dikwels help. Amen.

Johan Cilliers

So half en half

“Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My” (Eks 20:5).

God lê volkome beslag op ons lewe. Daarom mag ons heiligmaking nie halfhartig verloop nie. God roep ons op tot onverdeelde trou aan Hom (Eks 20:5). Ons moet al die fasette van ons bestaan, ook daardie fasette wat ons so verbete vir onsself wil hou, waarvan ons steeds in beheer wil bly, volkome aan God toevertrou.

Uit ’n sendingveld kom die staaltjie van ’n dokter wat besig was met ’n operasie. Die omstandighede was nie so goed soos in ’n moderne hospitaal in ’n groot stad nie. Toe die dokter vra: “Skalpel, asseblief,” gee die suster dit vir hom aan. En dadelik wil die dokter weet of die skalpel gesteriliseer is. Die suster het geantwoord: “So half en half …”

Die dokter het die skalpel summier aan die suster teruggegee. “’n Chirurgiese instrument is óf gesteriliseer óf nie!” het hy streng gesê. “Maak seker dat hierdie een wel is.”

Só is heiligmaking. Dis óf alles óf niks.

Dit beteken natuurlik nie jy word sondeloos nie, maar wel dat jy nie meer in die sonde wil bly nie. Christene is mense wat die sonde elke dag volkome wil aflê, al weet hulle hulle is steeds sondig.

As jy jou vandag vir God aanbied, wat sal jy sê? “Here, ek wil so half en half heilig wees”? Of: “Here, ek wil geheel en al heilig wees”?

Christene is mense wat die sonde volkome wil aflê, al weet hulle dat hulle steeds sondig is.

Here, hier is ek, geheel en al. Amen.

Johan Cilliers

God se grafiek

Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou (1 Tess 5:24).

’n Mens sien dit nogal dikwels teen die kantoormuur van die uitvoerende direkteur van groot maatskappye: ’n grafiek van die groei (of agteruitgang) van die onderneming. Maand na maand word dit aangestip sodat ’n mens aan die einde van die jaar met ’n enkele oogopslag die dalings en stygings, die voorspoed en die teenspoed, van die maatskappy kan inneem. As die eindpunt hoër is as die beginpunt, as daar ’n stygende tendens was, het die direksie rede om te glimlag. Maar … as die eindpunt laer is as die beginpunt, as daar ’n dalende tendens was, moet hulle ernstig nadink oor die toekoms van die maatskappy.

In sekere sin werk ons heiligmaking ook so. Daar is tye dat dit vir jou voel jy val, of dalk maande lank terugsink. Jy kan selfs baie naby aan die beginpunt kom. Maar daar is ook tye dat jy voel jy vorder, maande waarin jy God se seën en nabyheid byna tasbaar ervaar. Feit is, ten spyte van kleiner stygings en dalings is die algemene tendens van ons heiligmaking ’n stygende lyn. Ons eindig nooit waar ons begin het nie, al voel dit soms so. Daar is groei, vooruitgang, ontkieming en vrug, al weet jy self nie hoe nie (Mark 4:27).

Want sien, ’n menslike onderneming kan misluk. Maar vir die groeikurwe van ons heiligmaking staan God self in. Kyk wat belowe God: “Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou” (1 Tess 5:24).

God bepaal ons heiligmaking, ons groeikurwe.

Here, laat my hoogtepunte my dankbaar maak, en my laagtepunte my geduld leer. Amen.

Johan Cilliers

Oorwinning na oorwinning

En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader (1 Joh 2:1).

Wanneer jy oor heiligmaking nadink, kan jy maklik in een van twee uiterstes verval. Jy kan reken dat jy so heilig geword het dat jy sondeloos is – die sogenaamde leer van perfeksionisme. Of jy kan reken dat jy, omdat jy tot die dag van jou dood ’n sondaar sal bly, nie die heiligmaking te ernstig moet opneem nie. Dat jy nie eintlik soveel erns met die sonde hoef te maak nie.

Al twee hierdie uiterstes is natuurlik verkeerd. Christene is mense wat tot aan die einde van hulle lewe sonde sal doen, maar wat ook deurlopend uit die sonde sal opstaan. Dit is geensins ’n lewe van neerlaag na neerlaag nie, eerder ’n lewe van oorwinning na oorwinning. En, as ons soms wel ’n neerlaag ly, weet ons dat ons weer uit die stof kan opstaan.

Dit is ’n kwessie van balans. Ons tref hierdie ewewig aan in Johannes se uitspraak: “As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader” (1 Joh 2:1). Moenie sondig nie, en as julle sondig … weet dan dat julle ’n Voorspraak het.

Dit is wat heiligmaking is: om altyd vir Jesus as ons Voorspraak te hê. Ons kan tog nooit sonder Hom nie …

Dit is wat heiligmaking is: om altyd vir Jesus as ons Voorspraak te hê.

Here Jesus, alleen in U is ek heilig. Hou my tog in U. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 4 13