Wie is hiertoe in staat?

… sodat ons in sy heiligheid mag deel (Heb 12:10).

In 1 Petrus 1:15-16 staan daar ’n opdrag wat vir mense van vlees en bloed skynbaar onmoontlik is om uit te voer: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’”

Wie is hiertoe in staat? Wie kan heilig wees soos God heilig is? Is dit nie voor hierdie selfde God dat die engele uitroep nie: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!” (Jes 6:3)? Wie kan dan “in sy heiligheid deel” soos Hebreërs 12:10 sê?

En tog staan dit daar! Nie om ons met die skynbare onmoontlikheid daarvan moedeloos te maak nie. Nie sodat ons telkens ons kop teen die onbereikbare ideaal sal stamp nie. Die bedoeling is eerder dat dit ons sal terugwerp op God se genade. Dat dit ons elke dag, telkens, aan die genade sal laat vasgryp. Want as God dit nie vir ons, in ons doen nie, as Hy nie self in ons sy heiligheid gestalte laat aanneem nie, is al ons pogings vergeefse moeite.

’n Gebed wat my in hierdie verband al mateloos getroos het, is dié van die kerkvader Augustinus: “Vader, gee vir my wat U van my vra, en vra dan van my net wat U wil.”

Dink vandag daaroor na, en bid dit so dikwels as wat jou onheiligheid jou moedeloos wil maak.

As God dit nie vir ons, in ons doen nie, is al ons pogings tot heiligmaking vergeefse moeite.

Here, omdat ek nie tot heiligheid in staat is nie, is ek tot heiligheid in staat. O, heilig U my! Amen.

Johan Cilliers

Ek kan nie anders nie

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:1-2).

Ons heiligmaking rus nie in ons hande nie, maar geheel en al in wat God in Christus vir ons gedoen het. Die lewensverhaal van graaf Nikolaus Ludwig von Zinzendorf (1700-1760 nC), ’n Duitse sendeling, illustreer dit treffend.

Von Zinzendorf het op een van sy reise in Düsseldorf gekom. Daar het hy ’n skildery gesien wat hom diep beïndruk het. Dit was ’n uitbeelding van die gekruisigde Jesus, met doringkroon en deurboorde hande en voete. Die onderskrif by dié skildery het gelui: “Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir My?”

Hierdie vraag het Von Zinzendorf se hele lewe verander. Sy lewensleuse het geword: “Ek het net een hartstog, en dit is Hy, Hy alleen!” Hy het ’n magtige sendingbeweging aan die gang gesit en voortdurend verkondig dat jy die Here met ’n lewe van kinderlike blydskap oor sy liefde vir sondaars en met dade van dankbaarheid kan navolg.

So is dit. Heiligmaking begin by Jesus en verloop vanuit ’n visie op Hom, die Gekruisigde. Laat ons daarom die wedloop van die geloofslewe met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Heb 12:1-2).

Kyk van jouself af weg, na Jesus. En jy sal vind dat jy nie anders kan nie as om Hom in heiligheid na te volg.

“Ek het net een hartstog, en dit is Hy, Hy alleen!”

Jesus, ek kyk op na U. Open my oë vir wie U is en vir wat U gedoen het. Amen.

Johan Cilliers

Ons moet, want ons mag

En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is (Rom 12:1).

“Heiligmaking” is iets wat Christene as ’n ideaal najaag. Maar baie dink dit is ’n menslike prestasie. Allesbehalwe! Dit is nie so dat my weergeboorte alles God se genade was, maar dat ek nou self verder moet klaarkom nie. Ook in ons heiligmaking is daar die geheimenis, die wonder, van God en mens, en mens en God. Anders gestel, ons najaag van heiligmaking rus geheel en al in die genadedaad van God in Christus. Omdat Hy gesterf en opgestaan het, kan ons, mag ons, moet ons heilig wees.

Paulus toon hierdie verband treffend aan wanneer hy ’n beroep op sy mede-Christene doen om op grond van die groot ontferming van God hulleself as lewende en heilige offers aan God te gee (Rom 12:1). Hulle moet dit doen, maar hulle mag dit net doen op grond van wat God reeds gedoen het.

Ons moet daarom heiligmaking najaag asof alles van ons afhang, en tog die hele tyd die oog gevestig hou op God, heeltyd van sy genade afhanklik wees, asof en omdat alles van Hom afhang.

Dit werk amper soos met roeiers op ’n snelvloeiende rivier: Die roeiers weet dit is eintlik die krag van die stroom wat hulle verder voer en na die eindpunt bring, en tog moet hulle self ook roei, spane in die water steek en sweet …

Gee jouself vandag aan God, omdat jy kan, omdat jy mag, omdat jy moet.

Ook in heiligmaking is daar die wonder van God en mens, en mens en God.

Here, ek offer my aan U, want U het U vir my geoffer. Amen.

Johan Cilliers

Een-spaan-Christen?

Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (Jak 1:27).

Die gemeenskap wat ons bely, is ’n gemeenskap van heiliges. Wat sluit dit alles in? Om mee te begin: ’n vertikale en horisontale dimensie; dit wil sê, toewyding aan God sowel as toewyding aan ons medemens. Ons moet heilig leef voor die aangesig van God en voor en tussen mense, in die praktyk van elke dag. Dis byna soos die twee spane waarmee ’n mens ’n kano stuur. As die kanovaarder om die een of ander rede slegs met die een spaan aan die een kant van die kano roei, sal hy of sy al in die rondte beweeg. Daar sal geen vooruitgang wees nie, eerder ’n sinlose en uitputtende rondomtalie. Nee, die spane moet aan al twee kante van die kano in die water gesteek word, sodat kano en vaarder met kragtige hale vorentoe kan beweeg.

Jakobus sê iets soortgelyks wanneer hy “egte en suiwer godsdiens voor God die Vader” definieer. Hy sê so ’n godsdiens beteken twee dinge: om “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan” (horisontale dimensie), en om jou “skoon te hou van die besmetting van die wêreld” (vertikale dimensie) (Jak 1:27). Albei dimensies, diensbaarheid in die wêreld en heiligheid voor God, is deel van egte godsdiens. Dié twee kan nie geskei word nie. Hulle is soos vinkel en koljander – die een hoort by die ander. Dis die twee spane van godsdiens.

Is jy ’n rondomtalie-Christen, ’n een-spaan-Christen? Wat óf net in jou verhouding met God opgaan, óf net by jou medemens betrokke is? Wees eerder ’n twee-spaan-Christen, ’n volstoom-vorentoe-Christen. Dan is jy heilig.

Heiligheid voor God en diensbaarheid in die wêreld kan nie geskei word nie.

Here, suiwer my om my aan U en ander te wy. Amen.

Johan Cilliers

Saam na die samekomste

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly … nie (Heb 10:25).

Die Hebreërbrief wys nie net vir die kerk – dit is ons! – hoe belangrik ons gemeenskaplike hoop en sorg vir mekaar is nie, maar dit wys ons ook op hoe belangrik die samekomste van die gemeente is. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly … nie,” sê die skrywer van hierdie brief, “maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” (Heb 10:25).

Ek was eenkeer in ’n erediens waar daar vyftien minute lank doodse stilte was.

Die dominee het nie gepreek nie. Die koor het nie gesing nie. Volkome stilte.

Dit was die wonderlikste vyftien minute van my lewe! Want ’n mens kon – soos die predikant wou illustreer – iets aanvoel van die gemeenskap van die gelowiges. Jy kon dit op die gesigte van die mense lees. Jy kon dit beleef in die gemeenskaplike aanbidding van die Here. Jy kon werklik iets sien van ons gemeenskaplike toekoms – die ewige lof aan God.

Preke en sang, ja, die hele liturgie van die erediens is van wesenlike belang. Maar sien veral die Een agter en in dit alles raak. Gaan na die samekomste van die gemeente met die wete dat God op ’n besonderse manier daar is. En moedig ander aan om dit ook te doen.

Gaan na die samekomste van die gemeente met die wete dat God op ’n besonderse manier daar is.

Here, dankie dat die woord eensaamheid nie in my woordeskat hoef te wees nie. Amen.

Johan Cilliers

Onderlinge aansporing

Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (Heb 10:24).

As gelowiges het ons ’n gemeenskaplike hoop op die vervulling van al God se beloftes. Maar ons dra ook gemeenskaplike sorg vir mekaar. Ook hiertoe roep die Hebreërbrief ons op: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb 10:24). In Engels is daar die pragtige uitdrukking vir die kerk van die Here Jesus: “a sharing and caring community”. Dit veronderstel dat ons sensitief sal wees vir mekaar se nood, dat ons werklik in mekaar sal belangstel, dat ons werklik bereid sal wees om mekaar by te staan.

Kyk net watter positiewe noot slaan hierdie oproep. Dit moedig ons nie aan om maar net mekaar se sondes en foute uit te wys nie (hoewel dit sekerlik ook nodig is); dit sê eerder ons moet mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade.

Nou is dit nogal ’n vraag of ons dit doen. Dit klink dalk vir ons na arrogansie om ’n ander gelowige tot sulke dinge op te roep. Boonop gaan dit teen ons selfsugtige grein in. Ons is mos te besig met onsself om ons ook nog te bekommer oor die liefde en goeie werke van ander.

Juis daarom het ons mekaar nodig. Omdat ons so geneig is tot selfsug, het ons ander gelowiges nodig om ons aan te moedig om van onsself weg te kyk na die behoeftes van ander. ’n Leefstyl van “liefde en goeie werke” kom nie sommer vanself nie. Mag ek daarom vir jou vra: Betoon jy liefde? Doen jy goeie dade? Mag ek jou daartoe aanspoor?

En ek hoor hoe jy my aanspoor …

Ons moenie net mekaar se sondes en foute uitwys nie; ons moet mekaar ook aanspoor tot liefde en goeie dade.

Here, stuur vandag iemand oor my pad vir wie ek kan aanspoor, en wat my kan aanspoor. Amen.

Johan Cilliers

God is getrou

Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het (Heb 10:23).

Dit laat ’n mens baie geborge voel om te weet dat jy nie alleen op die geloofsweg hoef te gaan nie, dat jy omring word deur jou geloofsgenote. En al hierdie broers en susters in die geloof deel die een gemeenskaplike hoop wat ons bely. Die Hebreërbrief moedig ons aan met die woorde: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23).

Oor die hoop dat God alles sal doen wat Hy beloof het, sê die Hebreërskrywer drie dinge: Eerstens, ons moet styf vashou aan ons hoop. ’n Mens kan dit dus uit jou hande laat val. Jy kan in die genade veragter. Dis nie sommer ’n vanselfsprekende saak nie.

Tweedens, dit is opvallend dat dit nie slegs enkelinge is wat aan dié hoop moet vashou nie, maar die hele geloofsgemeenskap, die “ons”. As ons as individue te swak is om die hoop voor oë te hou, is die gemeente daar om ons te ondersteun. Dit gebeur wanneer ons met mekaar daaroor praat, dit met mekaar deel, dit saam beleef.

Derdens kom hierdie belofte by: Ons moet styf vashou … maar God is getrou; Hy doen wat Hy beloof het! Uiteindelik hang die vashou aan die hoop nie van ons af nie, maar van God se onwankelbare trou.

Gryp dus na die hoop, en hou styf daaraan vas. Ontdek dat jy nie alleen is nie. Daar is gelowiges om jou, en God is by jou.

Dit is nie net enkelinge wat aan die hoop moet vasklou nie, maar die hele geloofsgemeenskap.

Here, ek hou vas, want U is getrou. Amen.

Johan Cilliers

Hawe vir haweloses

Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe (1 Pet 2:25).

Die gemeenskap van die heiliges moet so anders wees as dié van die wêreld, so aantreklik, dat mense, veral verstote en eensame mense, daar ’n ware tuiste kan vind. Die kerk is ’n hawe vir haweloses, ’n plek waar skape wat rondgedwaal het, kan terugkom na die Herder en Bewaker van hulle lewe (1 Pet 2:25).

In sy boekie Ik zag een kerk verduidelik die Nederlandse predikant JC Gilhuis hierdie vreemde titel: Op ’n Maandagoggend kom klop ’n boemelaar aan sy voordeur met ’n lang verhaal van ontberings en nood. Gilhuis se geduld begin later opraak. “Hoekom het jy nou juis by hierdie deur kom klop?” onderbreek hy vies die lang relaas. Waarop die bedelaar antwoord: “Ek het ’n kerk gesien …” – bedoelende die kerk reg langs die pastorie van dominee Gilhuis. Toe, sê Gilhuis, het hy weer besef waarvoor die kerk daar is … en hy as lid van die kerk.

Boemelaars kan baie lastig wees. Ook Christene se geduld met hulle kan opraak. Argumente waarom ons nie die man of die vrou voor ons deur of op die sypaadjie of by die parkeerterrein moet help nie, het ons oorgenoeg. En tog het sulke mense die “reg” om by gelowiges, die kerk, aan te klop; die “reg” om juis by ons om brood te vra.

Meestal vra hierdie randfigure van die lewe meer as brood. Eerder soek hulle ’n bietjie erkenning, ’n stukkie menswaardigheid, ’n vonkie warmte. Onthou dit wanneer jy weer jou deur oopmaak en hy of sy in vodde voor jou staan …

Mense het die “reg” om by die kerk om hulp aan te klop.

Here, maak my ’n aantreklike Christen met deernis vir ander se nood. Amen.

Johan Cilliers

Geen ander Naam!

Hy bring die verlossing en niemand anders nie (Hand 4:12).

Toe Josef en Maria hulle Kind Jesus genoem het, was dit oënskynlik net nog ʼn naam vir nog ʼn kind. Trouens, die naam Jesus was ʼn doodgewone naam vir die Joodse seuntjies van daardie tyd. Die Hebreeuse vorm daarvan is Joshua. Daar is selfs in ons tyd mense – en nie net Jode nie – wat hierdie naam dra. Dus: Net nog ʼn naam, gegee deur familie en bekend in die geskiedenis. Regtig?

Nee! Hierdie Naam is wesenlik anders as enige ander naam. ʼn Engel het dit self aan die ouers bekendgemaak (Matt 1:20; Luk 1:31). Meer nog, dis God se eie Naam! Wie “Jesus” sê, sê “God – by ons”. Daarom is daar verlossingskrag in hierdie Naam. Dit is immers Hy wat sy volk van hulle sondes sou verlos (Matt 1:21). “Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand 4:12). Lees Verder>>

ʼn Naam soos ander?

“Jy moet Hom Jesus noem” (Matt 1:21).

“As jy wil leer hoe om reg te preek, moet jy leer om die woord Jesus reg uit te spreek,” het my homiletiekprofessor destyds op Kweekskool gesê. Hy het nie bedoel dat predikante op hulle uitspraak moet let nie, maar veral dat hulle moet nadink oor wat, en Wie, hulle met die naam Jesus benoem.

“What’s in a name?” vra William Shakespeare in Romeo and Juliet. En gee dan self die antwoord: “That which we call a rose, by any other name would smell as sweet.” Tussen ʼn saak en die naam daarvan, wou hy sê, is daar geen noodwendige verband nie. Name is uitruilbaar. Al sou jy die voorwerp wat so lekker ruik enigiets anders as ʼn “roos” noem, sal dit niks aan die geur verander nie! ʼn Naam is slegs ʼn paar letters uit die alfabet wat, volgens menslike ooreenkoms en taalkundige reëls, neergelê is om ʼn bepaalde voorwerp te benoem. ʼn Naam kan weer verander ook. Lees Verder>>

1 2 3 4 5 13