Bly lojaal

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10).

Het jy al gekyk hoe meedoënloos ’n stofsuier elke stoffie of krummeltjie in sy omgewing opsuig? Byna net so sterk is die “suigkrag” van die wêreld op gelowiges. Dit is vir die kerk baie maklik om ingesuig te word by alles wat “gangbaar” is in die wêreld. Dit kan veroorsaak dat die kerk sy heiligheid, sy “andersheid” prysgee, of verslapte norme begin handhaaf. Want, doen almal dan nie maar sonde? Daarom moet die kerk sensitief bly vir sy hoë roeping en as’t ware sê: Hier staan ek, ek kan nie anders nie!

Paulus lê presies hierdie verband tussen onderskeidingsvermoë en die heiligheid van die kerk wanneer hy vir die gemeente in Filippi bid dat hulle sal toeneem in “begrip en fyn aanvoeling”, sodat hulle “die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom”. Dan sal hulle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal hulle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer (Fil 1:9-11).

Jy weet self hoeveel druk daar op ons as gelowiges is om toe te gee aan die norme van die samelewing. Dit kan in sekere situasies by die werk wees, of weens groepsdruk onder jongmense, of weens die druk van sosiale status en aansien. Selfs ons familie, die mense wat die naaste aan ons is, plaas ons soms onder geweldige druk om te konformeer, om die maklikste – hoewel verkeerde – pad te volg.

Wees versigtig. Bly lojaal aan die ander familie waaraan jy behoort, die familie van Jesus.

Die samelewing oefen geweldige druk op gelowiges uit om die verkeerde pad te kies.

Here, ek het al so afgestomp geraak. Skerp my op om my roeping raak te sien, en veral vir U. Amen.

Johan Cilliers

Bobbejaan se kind?

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Gal 6:2).

Die “gemeenskap van die heiliges”, die kerk, is ’n gemeenskap wat sorg vir ander, wat meeleef en omgee vir mekaar. Hierdie gesindheid kan baie vorme aanneem. Paulus sê onder meer in Galasiërs 6:2 dit beteken ons kan mekaar se pyn nie ignoreer nie, maar moet mekaar se laste dra. Dan voeg hy by: “Gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Hierdie omgee vir mekaar onderskei ons juis as kinders van God, as mense wat volgens Christus se wet van liefde leef. Hierdie manier van doen ken die koue en onpersoonlike wêreld natuurlik nie. In die wêreld geld die wet: Elkeen vir hom- of haarself.

Hierdie mentaliteit is ongelukkig van tyd tot tyd ook in die gemeenskap van die heiliges te sien. Soms is ons soos ’n klomp bobbejane wat in die bome langs ’n snelvloeiende rivier baljaar. Hulle swaai heen en weer, klouter en maak ’n groot lawaai. Een van die bobbejane misreken hom met ’n sprong en beland in die rivier. Onmiddellik is daar ’n geskokte stilte. Al wat bobbejaan is, weet: Die bobbejaanbroer is op pad bokveld toe. Hulle hou hom angstig dop totdat hy, al spartelend en proesend, deur die stroom om ’n draai weggevoer word en uit die oog verdwyn. Die oomblik toe hy uit hulle gesigsveld verdwyn, bars die lawaai weer los en al wat bobbejaan is, klouter en klim lustig voort, asof niks gebeur het nie. Uit die oog, uit die hart …

Is jy in jou gesindheid teenoor jou naaste soos “bobbejaan se kind”? Of is jy God se kind?

Ons omgee vir mekaar onderskei ons as kinders van God.

Christus, dra my, sodat ek ook ander kan help dra. Amen.

Johan Cilliers

Passiewe passasiers

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Ef 4:12).

Baie “lidmate” van die kerk is soos passiewe passasiers. Volgens hulle uitgesproke of verswygde mening is die kerk soos ’n luukse passasierskip waarop jy wel op weg is, maar so rus-rus. Jy kan dus maar agteroorlê op die sondek, bruin brand in die son en deur die kelners bedien word. Jy gaan slegs mee vir die plesier van die rit.

So is die kerk natuurlik nie.

As ons by dieselfde beeld wil bly: Die kerk is nie ’n passasierskip waarop die meeste mense – die passasiers – heerlik rus terwyl net ’n paar mense – die bemanning, die kelners – hard werk en meestal oorwerk is nie. Die kerk is eerder ’n oorlogskip waarop elkeen ’n bemanningslid met ’n taak is, van die kaptein tot die eenvoudigste matroos. Op so ’n skip is elkeen se bydrae onontbeerlik. Want die skip moet slaggereed wees.

Die “Kaptein” van die kerkskip gee sy gawes aan sy kerk, soos apostels, profete, evangeliste en leraars. Maar Hy gee dit nie sodat hulle die oorwerkte minderheid sal wees nie. Sy doel daarmee is om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus (Ef 4:11-12).

Ja, jy het ’n deel om by te dra op die skip van die kerk, op die skip van die gemeente waarvan jy lidmaat is. Jy is veronderstel om ’n aktiewe bemanningslid te wees.

Is jy ’n passiewe passasier? Of ’n aktiewe bemanningslid?

Die kerk is nie ’n passasierskip met passiewe passasiers nie, maar ’n oorlogskip met aktiewe bemanningslede.

Here, ek meld aan vir diens. Wees U die Kaptein van die skip. Amen.

Johan Cilliers

Slegs besoekers

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie (2 Tim 3:5).

In Amerika word die evangelie op baie maniere oor die televisie verkondig. Een metode is uitsonderlik en blykbaar ook die suksesvolste. Dit bestaan uit ’n soort “advertensie” vir die Here, ’n flits van enkele sekondes – meestal tydens spitskyktyd – wat ’n enkele, treffende waarheid probeer tuisbring.

Een van die advertensies lyk só: ’n Kerk kom uit; die diens is verby. Een van die “lidmate” klim in sy motor en sien dat hy deur ander motors vasgeparkeer is. Die een gefrustreerde vloekwoord na die ander rol oor sy lippe. Uiteindelik trek die ander motors weg, en die man kan ook sy ry kry. Wanneer hy met skreeuende bande wegtrek, sien jy ’n bordjie langs die plek waar sy motor gestaan het. Wat staan daarop? Visitors only.

Die boodskap is duidelik: Nie almal wat kerk toe gaan, is waarlik kerk van die Here nie. Hulle kan nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens ken hulle nie (2 Tim 3:5). Daarom gebruik hulle eerder kragwoorde.

Is jy ’n besoeker in die kerk, of deel van die ware gemeenskap van die heiliges? Het jou godsdiens krag?

Nie almal wat kerk toe gaan, is waarlik kerk van die Here nie.

Here, verander my van ’n besoeker in ’n inwoner. Amen.

Johan Cilliers

Ek in my klein hoekie!

Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus (1 Kor 12:12).

In Amerika is daar ’n kerkgroep wat byeenkomste soos die volgende reël: Jy en jou gesin kom per motor daar aan en word deur ’n ingang toegelaat – amper soos motors by ’n inryteater. Dan kan jy jou motor parkeer, die luidspreker deur die venster intrek en in die privaatheid van jou motor jou godsdiens geniet. Elkeen in sy of haar blikhokkie.

Nee! Die kerk is ’n gemeenskap van gelowiges, ’n liggaam waarvan al die dele ’n eenheid vorm. Dit word duidelik gesê in 1 Korintiërs 12:12: “Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam … een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.” Hierdie “liggaamlikheid” of gemeenskaplikheid van die kerk moet tot elke prys bewaar en uitgebou word. Want daarin is ons juis anders as die wêreld. In die wêreld is dit elkeen vir homself, is selfsug dikwels die oorheersende “wet van die lewe”. In die kerk geld die teenoorgestelde.

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 21, Vraag 55) stel dit treffend: “Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”

Nou ja, dit kan ’n mens beswaarlik in ’n hoekie of ’n hokkie doen.

In die wêreld is dit elkeen vir hom- of haarself; in die kerk is dit elkeen vir die ander.

Here, haal my uit my hokkie. Maak my oë oop vir my broers en susters. Amen.

Johan Cilliers

Bruidegom en bruid

Die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak (Op 19:7).

Die Bybel doen moeite om ons die wese en die funksie van die kerk te help verstaan. Daar is ’n hele reeks beelde – sommige meen daar is meer as 80 – wat dit treffend omskryf. Hierdie beelde vul mekaar aan en druk saam die rykdom, die wonder uit van wat ons “kerk” noem.

Jesus praat byvoorbeeld van die kerk as die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld (Matt 5:13-16). Paulus noem die kerk onder meer die gebou van God, die volk van God en ’n nuwe skepping. Miskien sy bekendste beeld is dié van die liggaam van Christus (1 Kor 3:9 ev). Petrus en die Hebreërskrywer verwys na die kerk as bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld (Heb 11:13; 1 Pet 2:11). In die Openbaringboek noem Johannes die kerk die bruid, mooi getooi vir haar ewige en heerlike Bruidegom (Op 19:7). Dit, en veel meer … is die kerk.

Uit die rykdom van hierdie beelde weet ons veral dit: Ons het gemeenskap met God en met mekaar, en ons word deur God gebruik om ware gemeenskap in die wêreld tot stand te bring. Hoe bevoorreg is ons! Deur ons weerklink die wonderlike evangelie in die wêreld: God het deur die bloed van sy Seun aan die kruis die vrede herstel, “deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol 1:20).

Waarlik, ons kan opgewonde bly oor die kerk. Want ons is deel van God se groot versoeningsplan, deel van die herstel van die gemeenskap wat Hy tussen Hom en die sondige wêreld bewerk.

God gebruik ons om ware gemeenskap (koinonia) in die wêreld tot stand te bring.

Hemelse Bruidegom, vandag wou ek bruilofsreëlings tref. Dankie dat dit reeds getref is. Amen.

Johan Cilliers

 

Familie van God

Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus (1 Joh 2:12).

Individualisme is die kenmerk van ons Westerse samelewing. Ons leef asof elkeen net op hom- of haarself aangewese is, net op sy of haar eie kragte en insigte moet staatmaak. Die (ongeskrewe) reël lui: Elkeen vir homself, en na die duiwel met die res. Daarom moet jý alles uithaal om bo te kom, om te presteer, al beteken dit jy trap in die proses op ander. Dis immers ’n kwessie van die oorlewing van die sterkste.

Die Bybelse denke oor mense, en in die besonder oor die kerk, is totaal anders. Augustinus het in navolging van die Skrif van die kerk as familiae Dei (die familie van God) gepraat. In hierdie familie is daar groot verskeidenheid, kom daar soms – soos in enige familie – verskil van mening voor. Soms is daar pynlike verwydering tussen familielede. Maar deur dit alles heen weet ons: Ons hoort bymekaar! Ons is broers en susters. Deur ons Broer Jesus Christus het ons ’n Vader. Die kerk is ons moeder (Calvyn). In hierdie familie is daar verskillende stadiums van geloofsgroei. Daar is byvoorbeeld die kinders, die vaders en die jongmense in die geloof (1 Joh 2:12-14).

Maar ons is een: God het ons, nog voordat die wêreld geskep is, uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Ef 1:4). Word gewoond aan hierdie familie. Soek hulle op. Jy gaan ’n ewigheid saam met hulle deurbring.

Ons het ’n Vader deur ons Broer, Jesus Christus. Die kerk is ons moeder.

Here Jesus, Broer! Bring my vandag tuis by my mense – u mense. Amen.

Johan Cilliers

Soli Deo gloria!

“Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:14).

Die kerk is die sout vir die aarde. Dit is ook die lig vir die wêreld (Matt 5:14). Lig is nooit daar ter wille van die lig as sodanig nie. Lig openbaar eerder ander dinge, verlig die omgewing. Lig straal uit, word as’t ware opgelos in die donkerte … om juis die donkerte te verdryf. Die donkerte moet voor die lig wyk! Dit is onmoontlik dat ’n ruimte stikdonker kan bly as daar ’n lig skyn. Maar wanneer die ligstrale op ’n manier gekeer of bedek word, soos onder ’n maatemmer (5:15), neem die duisternis weer oor, herwin dit oombliklik die terrein waaruit dit verdryf is.

As lig vir die wêreld moet die kerk ook sekere dinge gesien laat word, dit openbaar maak. Soos die heerlike toekoms van die kerk: die nuwe stad Jerusalem. Hiervan kan die kerk nou reeds, in hierdie donker wêreld, getuienis aflê. Dit kan nie weggesteek word nie (5:14). Die kerk kan ook sigbaar maak dat ons altyd geborge kan voel weens God se teenwoordigheid by sy volk. Die lig wat van die kerk uitstraal, moet veral daartoe lei dat die Vader wat in die hemel is, verheerlik word (5:16).

Die kerk is daar, is lig, ter wille van die wêreld, ja, maar veral ter wille van die eer van God! Dis tog merkwaardig – mense sien die goeie werke wat die kerk doen, sien die lig wat van die kerk uitstraal – en verheerlik die Vader! Ons is dus deursigtig. Mense sien dwarsdeur ons … en sien die Vader.

Of, ons lewe kan so duister wees dat hulle Hom nie sien nie. Kom ons maak daarom die leuse van die Hervorming vandag ons eie: soli Deo gloria – Aan God alleen die eer.

Ons is deursigtig. Mense sien dwarsdeur ons … en sien die Vader.

Here, laat my kersie vandag u lig wees. Amen.

Johan Cilliers

Ons is uniek

Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kol 1:13).

Die belydenis dat ons glo in die gemeenskap van die heiliges is eers redelik laat (ongeveer 350-400 nC) in die geloofsbelydenis opgeneem. Die aanvanklike bedoeling daarmee is nie sonder meer duidelik nie. Sommige meen dit is bloot ’n uitbreiding of beklemtoning van die voorafgaande belydenis oor die kerk.

Maar dit is reeds ’n winspunt! Want hier word weer gepraat oor heiligheid of heiligmaking. Daaroor raak ’n mens nie maklik uitgepraat nie. En tog het hierdie belydenis sy eie klem, wat die geloofsbelydenis oneindig verryk en verdiep …

Die belangrikste is die feit dat die gemeenskap van die heiliges anders is as enige ander gemeenskap. Ons is uniek! Ons is deel van die gemeenskap, nie kragtens ons wilsbesluite of voorkeure nie, maar kragtens God se genade. “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet” (Kol 1:13).

Menslike gemeenskappe sal ons dalk faal. Wie hulle vertroue stel in familie, vriende of klubs sal dalk ontnugter word. Maar hier, in die gemeenskap van die heiliges, is ons by God se mense, is ons by God self. Hier kom ons tuis …

Hier, in die gemeenskap van die heiliges, kom ek tuis.

Vader, by u mense is ek so geborge soos ’n kind in ’n gelukkige gesin, want U is die Vader. Amen.

Johan Cilliers

Uit die soutpot

“Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:13-14).

Die kerk is die sout vir die aarde (Matt 5:13). Dit beteken ons, soos sout in water of kos, moet opgelos word in die wêreld, wegvloei, indring in die samelewing, om die verderf oral en altyd te kan teenwerk. Die tragedie is dat die kerk hom deur die eeue heen dikwels hierteen verset het en eerder gekonsentreer het op sy eie welsyn.

Baie Christene openbaar so ’n mentaliteit. Hulle leef slegs van Sondag tot Sondag. As hulle in die kerk is, tussen ander gelowiges, word hulle “batterye” herlaai – om volgende Sondag maar net weer gelaai te word.

Iets hiervan is natuurlik waar. Dit is onder meer die sin van die Sondag en die erediens. Maar dit is nie al nie! Ons moet tussen die Sondae, in die week, elke-dag-Christene wees. Om te bly by die beeld wat die Here gebruik het: Die kerk kan maklik as soutkorreltjies in hulle soutpotjie (die kerk) bly saamkoek en een groot klont word. Wat dan nie uit die soutpot kan kom nie … terwyl die wêreld daar buite vergaan.

Die Here wil vandag iemand oor jou pad bring. Iemand wat jou nodig het. Skud wakker, skud uit! Wees die sout vir die aarde! Nie net ’n korreltjie of ’n klontjie in ’n potjie nie.

Die kerk kan maklik soos soutkorrels in hulle soutpotte bly saamkoek en saamkloek.

O Here, ek is meestal soos Lot se vrou – ’n soutpilaar. Of ’n vaste inwoner van die soutpot. Laat ek tog vandag tot u eer in die wêreld opgelos word. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 10