Voertuig van die genade

“Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:13-14).

In sekere sin kan ons sê: Die kerk is daar ter wille van die wêreld. Die teoloog Hoekendijk sê selfs die kerk is ’n voertuig (vehicle) waardeur die genade van God die wêreld ingedra word. Daarom mag die kerk nooit net op homself fokus nie.

Jesus sê presies dit wanneer Hy sê die kerk is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld (Matt 5:13-14). Die beeld van die sout het minstens twee betekenisse. Eerstens dui dit op die bederfwerende krag van die kerk. Soos sout in voedsel, werk die kerk die verderf, die agteruitgang en verrotting in die samelewing teë. Die kerk, die gelowiges, doen dit deur hulle woorde en gesindheid: by die huis en kantoor, in die politiek, wetenskap en ekonomie …

Tweedens dui die beeld van die sout ook op ’n offer wat gebring moet word. Dit was die gebruik in die tyd van die Ou Testament dat offers aan die Here ingesout moes word om dit as’t ware vir die Here geurig te maak. So maak die kerk die wêreld vir die Here “smaakvol”. So berei ons die wêreld voor vir die Here se koms.

Die mees tragiese wat met die kerk kan gebeur, is dat ons ons roeping sal mis. Want, as sout verslaan het – met ander woorde, as dit geen invloed meer het nie – kan ’n mens dit nie weer sout kry nie. Dan is dit niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit (Matt 5:13).

Is jy sout – of verslaan?

Die kerk maak die wêreld vir die Here smaakvol en berei die wêreld so voor vir die Here se koms.

Here, voer u genade ook deur my die wêreld in. Amen.

Johan Cilliers

Katedraal van liefde

“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35).

Die belangrikste kenmerk van Christus se kerk hier op aarde is ongetwyfeld die liefde (1 Kor 13:1). Die kerk moet ’n katedraal van liefde wees (Van Ruler), want die kerk is die plek waar die liefde van God vir sondaars op ’n besonderse manier beleef word. En daarmee saam ook mense se liefde vir mekaar. Juis aan ons liefde word ons as kerk herken. Jesus het gesê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:35).

Daar is ’n legende wat sê die apostel Johannes, die apostel van die liefde wat Jesus se woorde in vandag se vers opgeteken het, het weens sy ouderdom te swak geword om te loop. Hy is deur medegelowiges na die samekomste van die gelowiges gedra. Dan het Johannes ’n vinger opgelig en net gesê: “Kindertjies, ons moet mekaar liefhê.” Dit was sy “preek”.

Die liefde is ons sterkste wapen. Mooi woorde en slim redenasies sal mense nie lank bly beïndruk nie. Maar daar is min mense wat teen die liefde kan bly staan. Laat ons daarom liefhê met die liefde van Jesus, ’n liefde wat nie op eie gewin ingestel is nie, maar wat eerder alles wil gee … selfs tot die dood toe. As mense hierdie liefde verwerp, verwerp hulle nie net vir ons nie. Hulle verwerp vir Jesus …

Vul jou gedagtes, jou optrede, jou gesindheid, vandag met die liefde van Jesus. Die hele wêreld, alle mense, smag na liefde. Van hierdie liefde kan ons die wêreld nooit genoeg gee nie.

Daar is min mense wat teen die liefde kan bly staan.

Here, omskep vandag my huis in ’n katedraal van liefde. Amen.

Johan Cilliers

’n Engel? Ja, jy!

Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ’n engel lyk (Hand 6:15).

Die belydenis wat ons in die wêreld oor Jesus as Christus aflê, is nie net bedoel tot heil van die wêreld nie. Dis ook tot ons eie heil. Dit verander ons ook. Dit versterk ons geloof. Ons verstaan die wonder van die verlossing dikwels eers werklik wanneer ons vir ander daarvan vertel.

Volgens ’n apokriewe boek was die apostel Paulus ’n kort, onopvallende mannetjie met min hare op sy kop. Daar staan egter ook geskrywe: “Die een oomblik het hy soos ’n gewone mens gelyk, die volgende oomblik soos ’n engel.” Toe die eerste martelaar, Stefanus, sy getuienis oor Jesus voor die Joodse Raad afgelê het, het hulle hom sit en dophou en opgemerk dat sy gesig soos dié van ’n engel lyk (Hand 6:15).

Dink daaraan: Vandag kan jy ’n engel vir iemand wees. Vandag kan jy tussen jou kollegas, skoolmaats, klasmaats en sportmaats soos ’n engel lyk. Vandag kan jy in situasies waar daar gevloek en gejok word, waar daar onregverdig opgetree word, die lig van die hemelse laat val.

Vandag! Al is jy ’n gewone mens, ’n onopvallende mannetjie of ’n kleurlose vroutjie. Of al reën die klippe op jou neer. Jy is ’n getuie vir Jesus! ’n Engel. Ja, jy!

Ons verstaan die wonder van ons verlossing dikwels eers wanneer ons vir ander daarvan vertel.

Here, help my om vandag ’n bietjie hemelse lig op iemand te laat val. Amen.

Johan Cilliers

Praat en doen

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt 7:21).

’n Mens kan Christus as Here met jou mond verkondig sonder dat jou lewe daarvan getuig. Want nie elkeen wat vir Jesus “Here, Here” sê, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hulle wat die wil doen van die Vader wat in die hemel is (Matt 7:21). Praat en doen, getuienis en lewe moet ooreenstem.

Dalk is dit die rede waarom die kerk dikwels so sonder krag in hierdie wêreld is: Ons praat so maklik; ons doen so moeilik. Mahatma Gandhi, die bekende leier van Indië, het eenkeer met die volgende woorde sterk kritiek op die Christelike kerk uitgespreek: “As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.” Wat ’n aanklag! Dit laat ’n mens dink dat ’n Boeddhis ons as Christene so tot selfondersoek moet dwing …

Christus moet in al die sfere van ons lewe verkondig word: met woord en daad, met mond en gesindheid. As ek myself ’n Christen wil noem, moet ek dit ook in my huwelik en in ander verhoudings wees, in my huiskring, in my optrede teenoor my werknemers, teenoor die bedelaar voor my deur, teenoor die vrou by die kasregister in die supermark, teenoor die petroljoggie. Ek moet oral laat blyk dat ek deel is van die Christelike kerk. Wie weet, dalk kyk die Gandhi’s van hierdie wêreld vandag juis na jou. Gaan hulle ’n Christen sien? Gaan hulle Christus sien? Gaan hulle Christene word?

“As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.”

Here, gee tog dat my dade by my woorde sal pas. Amen.

Johan Cilliers

Feit of fiksie?

“U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16).

Wanneer ons sê ons glo in ’n “Christelike” kerk, beteken dit ook dat die inhoud van ons belydenis Christus die Verlosser is. Die belydenis van Petrus het dit reeds gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Dit is op hierdie belydenis dat Jesus sy kerk gebou het (16:18). Daarmee staan of val alles. Hierdie belydenis moet ons met al ons energie en entoesiasme in die wêreld laat hoor. Want dit is waar!

’n Teater en ’n kerk het langs mekaar gestaan. Die teater was aand na aand stampvol, die kerk elke Sondag feitlik leeg. Moedeloos het die predikant eendag aan die hoofakteur gevra: “Hoe kry julle dit reg? Julle bied aan wat fiksie is, wat nie waar is nie, en trek tog groot gehore. Maar ek verkondig wat waar is en nie fiksie nie – en kyk die paar mense wat opdaag.” Die akteur het geantwoord: “Dit is baie eenvoudig. Ek verkondig my fiksie asof dit die waarheid is. Jy verkondig jou waarheid asof dit fiksie is.”

Doen ons dit dalk ook onwetend? Om so onentoesiasties oor Christus te praat dat dit klink of ons die wonder van die verlossing self nie glo nie? Asof dit maar fiksie is?

Waarlik, as die waarheid van die evangelie, van die liefde van die lewende Seun van God, ons weer opgewonde kan maak, sal ons geleenthede begin soek om dit altyd en aan alle mense te verkondig. Omdat dit nie net leë woorde is nie, omdat dit nie fiksie is nie, maar “die krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom 1:16).

Verkondig die waarheid oor Christus met entoesiasme, want dit is nie fiksie nie.

Here, help my om met entoesiasme en oortuiging te verkondig dat U die Christus, die Seun van die lewende God, is. Amen.

Johan Cilliers

Woordelose getuienis

Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie (1 Pet 3:2).

Dit is nie vir ons almal maklik om met groot welsprekendheid van Christus te getuig nie. Dis ook nie nodig nie. Hoor net wat sê Petrus vir die vroue wat met ongelowige mans getroud is: “As … die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie” (1 Pet 3:1-2). Die omgekeerde geld natuurlik ook.

’n Aangrypende voorbeeld van so ’n woordelose getuienis is dié van die Koreaanse man wat melaatsheid in die ergste graad opgedoen en in ’n Amerikaanse sendinghospitaal opgeneem is. Sy siekte het hom op ’n afgryslike manier aangetas: Hy was verlam; hy kon nie hoor nie; hy kon nie sien nie. Hy het geen vingers aan sy hande en geen tone aan sy voete meer gehad nie. Hy kon nie praat nie, want hy het geen tong, geen tande, geen lippe meer gehad nie. So het hy daar gelê: verlam, doof, stom, blind. Maar daar was nog drie dinge wat hy kon doen: Hy kon aanvoel as iemand in sy kamer inkom weens die trilling van die voetstappe op die vloer. Hy kon sy vingerlose hand nog effens oplig. En hy kon nog onverstaanbare hyggeluide maak.

Die volgende toneel het dikwels daar in daardie dodekamer afgespeel: Elke keer wanneer iemand daar ingekom het, het die melaatse dit aangevoel en sy vingerlose hand opgetel en heengewys na die houtkruis bokant sy bed, weggewys van homself … na sy Verlosser, Christus die Here. Dan het die sterwende melaatse geglimlag, ’n tandlose, liplose glimlag, en opgewonde hyggeluide gemaak.

Niemand wat hom gesien het, het getwyfel aan die krag van sy getuienis nie.

Om goed te kan praat, is nie ’n noodsaaklike vereiste om te kan getuig nie.

Here, heIp my om na U te wys. Al het ek nie vingers nie. Amen.

Johan Cilliers

Beliggaamde blydskap

“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).

Nog ’n element in die belydenis oor die Christelikheid van die kerk is weereens dié van die kerk se andersheid. Die kerk is anders as enige ander vereniging of liggaam. Die feit dat Christus die hoof van die kerk en ons sy liggaam is, is alle rede, ja, oorvloedige rede tot vreugde. Voorwaar, die kerk is die plek waar die vreugde moet oorborrel; die plek waar die vreugde nooit mag ontbreek nie. Want die kerk is “beliggaamde vreugde”, soos Van Ruler gesê het. Juis dit maak ons anders as die wêreld.

Waarin lê hierdie vreugde? Daar is te veel om op te noem: in ons verlossing, hoop, ewige toekoms; in ons roeping, wedergeboorte, verheerliking. Miskien die belangrikste van alles en samevattend: Hierdie vreugde is die gevolg van die teenwoordigheid van die lewende Christus in ons midde. Christus is anders by ons teenwoordig as in die wêreld. Hy is as opgestane en verheerlikte Here verlossend en beskermend by ons, al die dae tot aan voleinding van die wêreld (Matt 28:20).

Aan hierdie sekerheid en blydskap het die wêreld groot behoefte. Want daar is min in die wêreld wat ware, blywende vreugde kan verskaf. Maar ons het dit omdat die Here by ons is. Laat ons dit daarom weggee, deurgee. Kom ons maak hierdie diep vreugde sigbaar in ons samesyn met mense. Kom ons wees vandag verspreiders van vreugde. Kom ons wees beliggaamde blydskap!

Die kerk is die plek waar die vreugde moet oorborrel; die plek waar die vreugde nooit mag ontbreek nie.

Here, ek is meestal so vreugdeloos. Laat my tog weer borrel van blydskap. Ek het so baie rede. Amen.

Johan Cilliers

Hy is die hoof van die kerk

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan (Kol 1:18).

Ons bely nie net dat ons aan ’n “heilige” en “algemene” kerk glo nie, maar voeg ook by ’n “Christelike” kerk. Kerkhistorici sê dié woord bely niks wesenlik nuuts nie, want dit beteken ook “heilig” en “algemeen”. Buitendien, kan die kerk iets anders as Christelik wees? Is dit nie toutologie nie? Tog staan dit daar! Wat bedoel ons dan wanneer ons sê ons glo in ’n Christelike kerk?

Eerstens en by herhaling: Christus is die hoof van die kerk. Hy is die Een wat die kerk in die lewe geroep het, dit deur die eeue heen bewaar het, en dit eendag ten volle sal verheerlik. “Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan” (Kol 1:18). ’n Troosryke gedagte! Die kerk kan nooit deur die Bose of die wêreld oorwin word nie, want ons is in Christus se hand.

Hieroor kan ons so bly wees dat ons daaroor wil sing: “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede! As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede” (Ges 218:1).

Tel daarom jou kop op en kyk vorentoe. Sing oor die heerskappy van ons Here. Want die kerk waaraan jy behoort, is Christelik.

Die kerk sal nooit deur die Bose oorwin kan word nie.

Here, wees ook my Hoof en Herder. Amen.

Johan Cilliers

Reddingsinstansie of klubhuis?

Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (2 Kor 5:20).

Ons is nie net ter wille van onsself Christus se “kerk” nie. Ons word gered om vir ander mense te vertel van sy redding sodat hulle dit ook kan smaak. Die kerk is God se reddingsinstansie in hierdie wêreld. Soos ’n noodreddingstasie wat langs ’n ruwe kusstrook gebou word om skepe wat in gevaar is by te staan of drenkelinge van ’n gewisse waterdood te red.

Die tragedie is dat die kerk dikwels vergeet dat hulle ’n reddingsinstansie is en hulle dan verbeel die kerk is ’n gerieflike klubhuis. Dan raak die personeel van die reddingsinstansie heerlik op hulle gemak. Hulle skaf vir hulle die beste binneveermatrasse, verhittingstelsels en televisiestelle aan. Kort voor lank sit die kerk vasgenael voor hulle gunsteling-TV-program, knus gekoester in die warm kringetjie van hulle klubhuis … vas aan die slaap op die sagte matrasse. En bo die geselligheid word die gedreun van die storm en die geroep van die drenkelinge nie meer gehoor nie.

Nee! God het my en jou gered om in sy Naam op te tree as “reddingswerkers” tot die verlossing, om mense op die Verlosser te wys. Ons tree op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op mense doen. Ons smeek mense namens Christus om hulle te laat red: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (2 Kor 5:20).

Karl Barth het gesê ons mag nie die redding wat God aan ons gegee het in ons sak steek en daarvan vergeet nie. Ons moet dit deel, uitdeel, weggee! Hoor jy die geloei van die storm? Die geroep van die drenkelinge?

Ons mag nie die redding wat God aan ons gegee het in ons sak steek en daarvan vergeet nie.

Here, stuur my. Al is dit die stormsee in. Amen.

Johan Cilliers

Die ewige hemel bokant ons

Laat my skape wei. (Joh.21:17).

Daar is min dinge wat ‘n mens so in die grond kan druk as jou skuldgevoelens. Oor verkeerde dinge wat jy gedoen het en oor goeie dinge wat jy nagelaat het … En hoe meer ‘n mens daaroor tob, hoe swaarder word die las! Tot dit later vir jou voel of jy nooit weer uit die put sal kom nie.

En tog kan jy! Jesus haal jou daaruit. Iemand wat eerstehands hiervan kan getuig, is Petrus. Hy het Jesus immers verloen (Luk. 22:54-62). Hoe swaar moet sy skuldgevoelens nie gewees het nie! En tog hoor hy later uit die mond van hierdie selfde Jesus: “Laat my skape wei” (Ioh. 21:17). Hy kry ‘n opdrag, wat net een ding kan beteken: Hy is in sy roeping herstel. Hy is vergewe!

Martin Luther het diep onder die indruk van hierdie vergifnis gekom en dit so verwoord: “So dikwels soos jy die sonde voel, so dikwels kan jy ook vergifnis van sonde voel. Vergifnis is nie ‘n wolk wat verbytrek nie; dit is ‘n ewige hemel oor ons.”

Ja, ons is almal bewus van die swaar las van skuldgevoelens. Maar ons kan tegelyk iets anders voel – die volkome vergifnis van sondes! God het dit beloof, en dit in Jesus vir ons gegee. Die geskenk van vergifnis is so ruim en wyd, en so vas en seker so os die ewige hemel bokant ons …

As jy vandag die las van sondes voel, kyk na die wolke. En verby … na die hemel. En weet: God wat in die hemel woon, het jou vergeef.

So dikwels as wat jy sonde voel, so dikwels kan jy vergifnis van sonde voeI. Vergifnis is nie ‘n wolk wat jou verbygaan nie, maar ‘n ewige hemel oor ons.

Here, vergewe my dat ek u vergifnis kleiner as die hemel wil dink, en in ‘n skuldhokkie in my hart wil pas.

 

 

 

 

 

 

1 2 3 4 10