God is Lig (2)

Die ballinge wat die heerlikheid en lig van God ontvang, word soos volg in Jesaja 60:5 beskryf: “Jy sal dit sien en van vreugde straal, jy sal bewe van blydskap, want die rykdom van die see word joune, die skatte van die nasies kom in jou besit.” Die 1953-vertaling sê: “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word.”

Die vreugde van God se redding en heerlikheid lei nie daartoe dat ons alles vir onsself vashou en te klein kyk en alles vir ons neem nie. Dit maak ons dankbaar en vrygewig en laat ons oophand leef. Dit gee ons harte wat wil bars van dankbaarheid en nuwe hoop – omdat ons skielik ’n groter toekoms raaksien.

In Epifanie word ons harte genooi om uit hulle nate te bars, om te hoop sonder einde, om eerbied te hê vir God se ingrype en heelmaak. Dié wat die lig sien, word draers van hoop. En dié God wat te midde van die apatie en wanhoop van ballingskap mense se harte kan verruim en ontroer, doen dit vandag steeds deur sy Gees.

God is Lig (1)

In die donkerte van hulle gemoed spreek God deur die profeet woorde aan die Jode wat so pas uit die ballingskap teruggekeer het. Woorde van lig. Lees jy die teks van Jesaja 60 in verskillende vertalings, sien jy ’n opeenhoping van sinonieme: “verlig”, “jou lig kom”, “heerlikheid”, “stralende opgang”, “straal”, “shine”, “light”, “glory”, “brightness of your dawn”, “radiant” …

Wie is die bron van hierdie lig? En daarom ook die bron van hulle hoop en hulle nuwe toekoms? God. God self is die Lig.

In Jesaja 60:19-20 word God as die bron van lig verder onderstreep: “Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.”

Dat ons lig uit ’n ander Bron kom, gee aan ons hoop. Dié Lig bring ommekeer, maar hierdie ommekeer vra ook van ons ’n nuwe ingesteldheid.

God is Lig (3)

Ongelukkig is dit wel so dat ons in tye van wanhoop en bedreiging ons harte vernou en verklein. Dit word tye wanneer ons spreekwoordelik ons lig onder die maatemmer wegsteek. Tye wanneer ons skanse om onsself bou om ons te beskerm en die ander uit te hou.

Tye van wanhoop is tye wanneer ons geneig is om nader te kyk. Die profeet nooi die inwoners van Jerusalem, en vir ons, uit om juis in sulke tye verder te kyk. Hoop het tog daarmee te make om teen jou persepsies en ervarings in te droom en te glo. Hoekom? Omdat jy op die Bron vertrou. Die Bron wat skeppend en verlossend kan werk, ook in die duisternis, want vir God is ook duisternis lig.

Daarom moet ons gedurig herinner word, deur die Woord en die bymekaarkom van gelowiges, dat God altyd en voortdurend reddend en skeppend teenwoordig is. Ons mag dit nie vergeet nie. As ons onthou, leef ons anders. En dan word ons lig en hoop vir ander.

Insig

Epifanie is die tyd waarin ons verskyning en lig vier. God het immers tussen ons kom woon. Hy het aan ons verskyn. Nie in ’n droom nie, maar in die gestalte van ’n mens. Ons weet nou hoe God is, want Jesus is God.

Lig het baie betekenisse. Ons sê byvoorbeeld iemand wat skielik iets verstaan, “het die lig gesien”. In die strokiesprentboeke verskyn daar ’n gloeilampie bokant ’n karakter se kop wanneer hy of sy ’n blink idee kry. Ons praat van iemand met “insig” wat verder kan sien en kyk as gewoonlik.

God is met ons elkeen op reis, en ons almal se paadjies lyk verskillend. Dit help nie ons vergelyk ons pad met ander s’n nie. Miskien is geloofsgroei momente van insig in die Lig, wanneer ons die Lig sien of die Lig beter verstaan. Die Lig wat ons verlig en ons skuld en dwaasheid en blindheid laat wegsmelt en ons laat sing.

Psalm 40 sê God lê ’n nuwe lied in ons mond – ’n loflied. Dan kan ons vrede maak met die donker. Wanneer mense ikone skilder, verf hulle altyd van lig na donker. Die donker is die swanger verwagting van die lig wat sal deurbreek. En die lig sal áltyd deurbreek, want eintlik is die donker net lig wat ons nog nie raaksien nie.

Die volheid van die tyd

Die oud-kerklike liturgie vir die bediening van die nagmaal bevat hierdie woorde: “In die volheid van die tyd het U u Seun, Jesus Christus, na die wêreld toe gestuur om ons sonde te kom dra, om alle dinge met God te kom versoen, om die vrede te kom herstel deur sy bloed wat aan die kruis gevloei het.”

Drie woorde: volheid, versoen en vrede.

Dié woorde roep assosiasies op van goedheid, heelmaak, voorberei, herstel, balsem en hoop. Die volheid van ’n swangerskap, die herstel van iets wat stukkend was, die diepgaande vergifnis en die skoonmaak van God se balsem. Die volheid word verbind met die woorde van Paulus in Galasiërs: “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry” (Gal 4:19). Volheid van tyd en die gestalte van Christus. Versoening en herstel. Op pad.

Daarom is die nagmaal nie slegs ’n herinnering aan die kruis nie, maar ook aan die krip. Die krip was die volheid van die tyd en die weerspieëling van die volheid wat wag.

Verskyning en seën

In die tyd van Epifanie lees ons die verhale van Jesus wat tussen mense geloop het, wat hulle aangeraak het, wat wonderwerke gedoen het en wat God se hart kom wys het.

Die Bergpreek gee vir ons ’n kykie op Jesus se bediening. Veral die saligsprekinge, wat die konsep van “gelukkig” en “geseënd” nuut inkleur. Hierdie woorde het sekerlik die eerste hoorders onkant gevang. Die Griekse woord makarios kan “gelukkig” of “geseënd” beteken. Die rede hoekom vertalers “geseënd” bo “gelukkig” verkies, is dat “gelukkig” maklik verstaan kan word as bloot ’n beskrywende konsep wat verwys na iemand se innerlike toestand.

Geseënd sluit egter ook die betekenis in van seën wat ontvang of aan jou toegesê word. Wanneer Jesus die skare mense “geseënd” noem, beteken dit Hy kan hulle status verander. Tog klink die karakter van dié wat geseënd is vir ons vreemd: Hulle is dié wat treur, dié wat ly, dié wat sagmoedig is, dié wat aan die ontvangkant staan van wat sleg is.

Hoekom dan geseënd? Omdat Jesus se eie lewe in sekere sin in hierdie beloftes weerspieël word: sy afhanklik van God tot in sy dood vir wat reg is, sy sagmoedigheid, sy barmhartigheid en sy sorg vir vrede.

Lig en donker

Die teenwoordigheid van die wyse manne, of sterrekykers, in die Matteusevangelie het tot baie tradisies in die kerk gelei. Daar het talle eiesoortige verhale rondom hulle ontstaan. Dié drie wyse manne het selfs name in die verskillende oorlewerings ontvang en is in die Oosterse tradisie aan die getal 12 verbind. Hulle is ook baie gou as konings beskou. In een oorgelewerde verhaal word hulle Melchior (Persië), Caspar (Indië) en Balthasar (Arabië) genoem. Die doel van hierdie verhaal was om Jesus se koningskap te bevestig. Al die konings van ander lande buig voor hom. ’n Mens kan die verleiding raaksien om op so ’n verbeeldingstog te gaan weens die skraal inligting in die Bybel.

Dit is juis die ding met die Evangelies. Daar is blink en daar is donker. Daar is wyse manne, maar daar is ook Herodes. Die wyse manne het nie net goud, wierook en mirre gebring nie, maar ook vrees en ambisie wakker gemaak. Herodes het al die seuntjies jonger as twee laat doodmaak omdat die wyse manne vir hom van die groot Koning vertel het.

Die goeie nuus gee ook aanstoot, bring die donkerte in mense uit. Die onsekerheid, die jaloesie, die vrees, die selfsug. Ons leef nie met die regte evangelie as ons nie erken dat ook ons nie altyd van Jesus en sy woorde hou nie.

Verskyning

6 Januarie is in baie lande die Epifaniefees. In die vroeë kerk, voor Konstantyn se tyd en Kersfees, was Epifanie dan ook die fees waartydens Jesus se geboorte gevier is. Epifanie beteken letterlik “verskyning” of “manifestasie”. Dit dui op God se verskyning in Jesus Christus. Sy geboorte, sy doop, die besoek van die sterrekykers en Jesus se eerste wonderwerk by Kana is dan gevier.

Ek het iewers gelees: “Epifanie is die seisoen van tekens.” Die geboorte van Jesus gee aan materie ʼn nuwe betekenis. Water, brood, wyn, aarde, liggame en alles rondom ons wys vir ons heen na God. Dit herinner ons aan Jesus Christus, die lig wat duisternis laat verdwyn.

Die Evangelie van Johannes is bowenal die boek van tekens. In hierdie Evangelie word wonderwerke in die Grieks “tekens” genoem. Heenwysings. Dit herinner ons dat Jesus gesê en gewys het: “Ek is die brood, Ek is die lig, Ek is die herder, Ek is die opstanding en die lewe.”

“Ek is” het aan ons verskyn.

Wyse manne

’n Bekende teks vir die tyd van Epifanie is die verhaal van die wyse manne, of sterrekykers, se besoek (Matt 2:1-12). Dit is een van daardie tekste wat mettertyd ’n eie lewe aangeneem het.

Op Kerskaartjies en in opvoerings van die Kersverhaal is daar altyd drie wyse manne. Maar in werklikheid is die teks stil oor hoeveel wyse manne daar was. Hulle het wel drie geskenke gebring.

Niks in die geboorteverhaal word egter sonder rede vir ons vertel nie. Die sterrekykers het uit die ooste gekom, waar die mense bekend was vir hulle sterrekunde en wysheid. Die ooste is ook waar die son opkom, waar die lig vandaan kom. Hierdie wyse manne het die ware Lig gesien.

Vanuit die Engelse woord oriental (“oosters”) kry ons ons woord oriënteer – wanneer ons onsself opnuut in perspektief plaas. In die vroeë kerk is babas na die ooste gedraai nadat hulle gedoop is, in die rigting van Jerusalem. Georiënteer in die lig van Jesus se verhaal.

Dié wyse manne uit die ooste met hulle wysheid sien en erken Jesus as Koning en buig voor Hom neer en aanbid Hom. Hulle is die voorlopers van al die nie-Jode wat Jesus later as Koning ervaar het.

Ore en oë

Wanneer jy die Markusevangelie lees, kom jy gereeld dié refrein teë: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (4:9). Jesus praat gereeld van dié wat sien maar nie sien nie, en van dié wat hoor maar nie hoor nie.

Ons sien dit ook in Johannes 9, in die verhaal van die man wat blind gebore is en vir wie Jesus gesond gemaak het. Hoe meer hierdie man met Jesus te doen gekry het, hoe meer het hy gesien Jesus is die Christus. Hoe meer die Joodse leiers die man ondervra het, hoe minder het hulle Jesus herken vir wie Hy is. Die blinde sien, en dié wat kan sien, is blind.

Miskien is dit die enigste gebed vir ’n nuwe jaar – dat ons sal leer om God te sien en te hoor in die lewe van ander én in ons eie lewe. Ons filtreer ons sintuie so maklik en kyk en hoor so selfsugtig. God se hand is op ons elkeen en sy fluisteringe is in ons elkeen se hart hoorbaar. Die dissipels en die omstanders het Jesus nie altyd gesien vir wie Hy was nie, want hulle wou Hom anders hê. ’n Bietjie sterker, ’n bietjie meer soos ’n koning, ’n bietjie meer soos dit hulle sou pas.

Miskien begin sien en hoor dan by die uitvee van ons verwagtings. Miskien sal God heeltemal anders nuut en verrassend in hierdie jaar in jou lewe werk. Wie oë en ore het …

1 2 3 4