God se sondebok

Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor 5:17).

Is dit moontlik om weg te tree uit die tipies menslike en bose kringloop van skuldprojeksie op ander? ’n Mens word tog in hierdie kringloop gebore. Jy kan jouself tog nie aan die kraag vat en jou daaruit optrek nie.

Nee, jy kan nie. Ek net so min. Maar Christus het hierdie kringloop kom verbreek. Hy haal ons daaruit. God het self sy sondebok voorsien, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29). Net Christus kan die verwyte en die beskuldigings omskep in skuldbelydenis en skuldvergifnis. Net Christus kan die skuld van ons verlede tot niet maak. Dit is tog die hartklop van die evangelie: Mense kan nuut gemaak word, oor begin, sonder skuld voor God en medemens.

Net Christus kan die bose kringloop deurbreek in die huwelik, by die werk, in die politiek, in Suid-Afrika, in die wêreld. Ja, omdat vergifnis moontlik is in Christus, kan ons in ons land en in ons wêreld weer begin, nuut begin omdat ons ons (gesamentlike) skuld nie net voor mekaar nie, maar ook voor Hom mag bely en dit dan deur Hom weggeneem word. Só word ’n nuwe wêreld moontlik: mense wat nuut voor God en daarom nuut voor mekaar staan. Want: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17).

Ons wêreld het sulke mense nodig, nuwe mense. Mense wat ander nie op grond van taal, kultuur, velkleur, politiek of sosiale status beoordeel nie, maar op grond van hulle waarde voor God. Vanuit die genade en die vergifnis van God. Omdat hulle self deur God geoordeel word.

Net Christus kan die verwyte en die beskuldigings omskep in skuldbelydenis en vergifnis.

Here, plaas my in die kringloop van vergifnis. Amen.

Johan Cilliers

Tegniek van verontskuldiging

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie?” (Matt 7:3).

Die bede om skuldvergifnis in die Ons Vader-gebed (Matt 6:12) staan lynreg teenoor ons neiging om altyd die skuld op iets of iemand anders te pak. Sedert Adam vir Eva en Eva die slang beskuldig het (Gen 3:12-13), gebruik ons hierdie tegniek so graag! In die huwelik gee ons so maklik vir mekaar die skuld; ons speel so graag die “onskuldige” party in ’n rusie, sodat ons gerieflik alle blaam op die ander, die “skuldige” een, kan laai. Wanneer dinge by die werk skeefloop, is ons gou om die sondebok uit te wys. Wanneer sake in die politiek skeefloop, is ons gou om die skuld op die ander groep se rekening te plaas: die regses, die linkses, die regering, die opposisie, altyd dié wat anders as ons dink.

Ons is baie gou om ’n beskuldigende vinger na ander te wys – en daarmee weg van onsself. Die ander word die verpersoonliking van alles wat boos is. Hulle wat nie dink soos ons nie, is die duiwel in die vlees, die antichris in persoon. So vlieg die beskuldigings heen en weer. Ons verduiwel ons vyande, en verengel onsself.

En daarmee was ons, soos hedendaagse Pontius Pilatusse, ons hande in onskuld.

Jesus het gesê: “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Matt 7:3). Laat die Here die balk uit jou oog haal. En die splinter uit dié van die ander.

Ons verduiwel ons vyande en ons verengel onsself.

Here, hoe kan ’n blinde ’n oogoperasie op ’n ander uitvoer? Genees U my oë sodat ek met liefde na ander kan kyk. Amen.

Johan Cilliers

Die taal van skuldverbondenheid

“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12).

Hierdie vyfde bede van die Ons Vader-gebed, soos trouens al die bedes van hierdie gebed, kan nie net deur enkelinge gebid word nie. Daarvoor is die “ons” wat vier keer herhaal word net te opvallend. Met hierdie gebed bring ons ons oortredings na God toe, maar ook meer: Ons bring die oortredings van ons gesinne, die oortredings van ons kerke, van ons volke, van ons regerings en uiteindelik van die ganse mensdom na God toe.

Wanneer ons sê “ons”, is dit soos ’n klippie wat in die dam gegooi word: Die rimpelings kring al verder uit. “Vergeef ons ons oortredings” is in sekere sin ’n universele gebed. In hierdie gebed leer ons die taal van skuldverbondenheid aan. In Dostojefski se roman Die broers Karamazov sê die sterwende seun Markell aan sy moeder: “Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.” Met hierdie taal van “korporatiewe” skuld word die bose kringloop van wedersydse verwyte en beskuldiging deurbreek. Met hierdie taal bely ons: Ons is die outeurs van ons eie skuld. Hiermee erken ons: Daar is ’n net van skuld wat oor ons almal sprei …

Steek vandag die hand in eie boesem. Hou op om te reken dat net die ander die skuld dra, of dit nou jou huweliksmaat, kollega, politieke opponent of vyand is. Jy dra ook skuld. Want jy is ’n mens wat moet bely: “En vergeef ons …”

“Ons elkeen is voor almal in alles skuldig, en ek, ja, ek, meer as almal.”

Here, ek wil vandag ophou vinger wys, en eerder hand in eie boesem steek. Vergewe ons … Amen.

Johan Cilliers

 

Toets vir vergifnis

“Julle moet julle vyande liefhê” (Matt 5:44).

Die opdrag om ander mense te vergewe, is in sommige gevalle makliker om uit te voer as in ander. As dit nie ’n groot en moedswillige misstap is wat iemand teen jou begaan het nie, as dit jou nie regtig seergemaak het nie, en veral as dit jou vriend is wat jy moet vergewe, is dit nie te moeilik nie. Maar, as die een wat jou te na gekom het jou vyand is, as hy of sy jou moedswillig seergemaak het … dan lyk die saak anders.

Juis hierin lê die ware toets vir vergifnis. Is ons bereid om mense wat ons lewe op ’n ingrypende, negatiewe manier raak van harte te vergewe? Is ons bereid om op te hou sê “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” (Matt 5:38)? Dit kan die dronk bestuurder wees wat jou kind doodgery het, of die rower wat jou motor gekaap het, of die nalatige dokter wat jou gesondheid ’n knou gegee het, of die een wat jou in die verlede geboelie of verneder het. Kan jy hulle vergewe? Selfs al erken hulle nooit hulle foute nie? Selfs al word hulle nooit gestraf nie? Selfs al vra hulle amnestie?

Daar was ’n swart Christenleier wat wreed mishandel is en baie gely het onder Idi Amin, ’n voormalige diktator van Uganda. Maar deur God se genade kon hy Amin vergewe. Toe noem hy sy boek oor hierdie gebeure I love Idi Amin.

Net die wete dat God vir ons, wat sy vyande was en wat Hom so diep seergemaak het, so baie misstappe vergewe het, kan maak dat ons ander mense ook sal vergewe. Dat ons nie meer sal vergeld nie, maar werklik sal vergewe. Met ons hele hart. Sodat ons dalk ook eendag van mnr X of mev Y sal kan sê: “I love X”, “I love Y”, “I love …”

Slegs die wete dat God ons so baie vergewe het, kan maak dat ons ander mense ook kan vergewe.

Here, wat is ek anders as ’n vyand van God wat vergifnis ontvang het? Gee tog dat ek ook my vyande sal vergewe. Amen.

Johan Cilliers

Gevulde woorde

“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29).

Daar word vertel dat die Engelse prediker Spurgeon eenkeer genooi is om in ’n groot saal in ’n groot stad te preek. Soos sy gewoonte was, gaan hy die dag voor die tyd daarheen om die klank van sy stem in die groot saal te toets. Hy klim op die kansel en roep in die leë saal met ’n harde stem die kernteks van sy preek uit: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29).

Sy stem het vanuit die verste hoeke van die saal na hom toe teruggekaats. Tevrede klim hy van die kansel af en verlaat die saal. Wat Spurgeon nie geweet het nie, was dat die saal nie heeltemal leeg was nie. Agter, op een van die galerye, was daar ’n eenvoudige werker tussen die stoele, op sy knieë, besig om die vloere blink te vryf. Skielik hoor hy hierdie stem wat van alle kante na hom toe opklink: “Dáár … die Lam van God … wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Op sy sterfbed het hierdie werker aan ’n vriend vertel wat daardie dag met hom gebeur het: “Skielik was daar ’n stem, maar nie ’n leë eggo nie, eerder ’n gevulde woord. Ek het opgekyk en my verbeel ek sien Een tussen die stoele na my toe aankom, Een soos die Lam van God. Ek het na Hom gekyk, en Hy het my sonde weggeneem.”

Gaan roep vandag, soos Spurgeon, die boodskap van vergifnis uit. Jy sal verbaas wees oor die krag daarvan.

Jy sal verbaas wees oor die krag van die boodskap van vergifnis.

O Lam van God, vul my getuienis oor U met UseIf. Anders baat dit niks nie. Amen.

Johan Cilliers

Genadelose begenadigde

“Betaal wat jy skuld” (Matt 18:28).

Enigeen wat kinders het, weet hoe maklik hulle stry. Ons almal was mos self kinders en weet dit daarom. Die grootste rusies is boonop oor skynbaar onbelangrike dinge: ’n speelding, wie se beurt dit is om iets te doen, ’n vermakerige opmerking …

Tussen die gestry van kinders en die rusies tussen grootmense is daar egter een groot verskil. Kinders stry, maar raak ook gou versoen. Hulle verstaan die Bybelse waarheid van vergewe en vergeet. Grootmense is knaend in hulle onvergewensgesindheid, verbete in hulle voornemens om wraak te neem.

Martin Luther het raakgesien hoe sy kinders stry en hoe gou hulle dan weer “opmaak”. “Ja,” skryf hy in een van sy gebede, “die lewe en spel van u kinders is U welgevallig, o God. Al hulle sondes is niks anders nie as die vergifnis van sondes.” Hiermee het hy bedoel: Hulle is en bly sondaars, maar in sekere sin leef hulle instinktief vanuit die genade van God se vergifnis deur mekaar so maklik te vergewe.

Dit laat ’n mens dink aan die gelykenis van die amptenaar wat sy koning miljoene rand geskuld het en dit nooit sou kon terugbetaal nie. Wat doen die koning? Hy skryf sy skuld af! Toe die begenadigde amptenaar ’n medeamptenaar raakloop wat hom ’n paar rand skuld, het hy hom egter gegryp, gewurg en sy geld geëis. Die begenadigde raak genadeloos! Daarmee word die genade in sy geval ook teruggetrek (Matt 18:21-35).

Laat die enigste sprake van sonde in jou lewe vandag die vergifnis van sonde wees. Omdat jy ander se sonde teenoor jou vergewe – en vergeet!

Laat jou sonde vandag niks anders wees nie as die vergifnis van sonde.

Here, leer my vergewe en vergeet, Soos ’n kind. U kind. Amen.

Johan Cilliers

Gawe, wrede mense

Ons tree dus op as gesante van Christus (2 Kor 5:20).

Versoening en vergifnis gaan hand aan hand. Daarom, wie vergifnis van God ontvang het, moet ander mense vergewe. En, wie weet dat hulle deur Christus met God versoen is, moet die boodskap van versoening verkondig en uitleef teenoor ander. Dit is die horisontale dimensie van vergifnis. Paulus sê God die boodskap van versoening is aan ons toevertrou. “Ons tree dus op as gesante van Christus en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (2 Kor 5:20).

Overduin, die bekende Hollandse predikant, vertel hoe hy sy roeping as evangelisasieprediker ontvang het. Hy was die leraar van ’n “goeie” gemeente. Die mense was oënskynlik meelewend, die dankoffers mildelik. Een nag is Overduin uitgeroep na die sterfbed van ’n man wat sonder God en kerk geleef het. Overduin het hom gevra of hy al van God gehoor het. Sy antwoord was: “Ja, dis ’n vloekwoord.”

“En weet jy wie Jesus is?” vra Overduin. Die man het geantwoord: “Dis ’n beeldjie in ’n kerkgebou.”

Tot sy ontsteltenis het Overduin later uitgevind hierdie man het jare lank gewerk saam met ’n aktiewe Katolieke lidmaat en ’n diaken uit sy eie gemeente. En ná jare saam met hierdie twee gelowiges was die woord “God” vir hom niks meer nie as ’n vloekwoord en “Jesus” niks meer nie as ’n beeldjie in ’n kerk!

Die volgende Sondag sê Overduin vir sy gemeente: “Weet julle, julle is sulke gawe, goeie mense. Maar julle wreed! Waarom? Omdat julle die boodskap van versoening nie verkondig aan ’n wêreld wat verlore gaan nie.”

Is jy ’n gesant van Christus? Of wreed?

Dié wat vergewe is, moet self ook vergewe.

Here, maak my meer as net gaaf. Maak my u gesant. Amen.

Johan Cilliers

Die koste van vergifnis

Sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie (Heb 9:22).

Vir ons om vergifnis vir ons sonde te ontvang, het Jesus oneindig baie gekos. Dit het sy lewe gekos. Daarom mag vergifnis nooit tot ’n oppervlakkige, goedkoop saak gereduseer word nie. Dit mag nooit iets wees wat ons maar kan aanvaar, kan glo, sonder dat dit ons lewe verander nie. Nee, so ’n “geloof” bestaan nie. Net so min as wat daar vergifnis sonder die vergieting van bloed kan wees (Heb 9:22).

Die verhaal van biskop Martinus illustreer dit treffend. Die duiwel het een nag in die gestalte van die verheerlikte Jesus aan hom verskyn. Hy het Martinus heuning om die mond begin smeer: “Martinus, jy het my so getrou gedien dat ek nie anders kon as om by jou besoek af te lê nie. Sien jy nou hoe lief ek jou het? Ek verskyn aan jou voordat ek aan enigiemand anders verskyn!”

“Maar wie is u dan?” vra Martinus.

“Ek is jou Heiland, Jesus,” antwoord die duiwel.

“Waar is u wonde dan?” vra Martinus.

Waarop die duiwel antwoord: “Ek kom nie nou van die kruis af nie; ek kom nou van die hemel af, in my heerlikheid.”

Martinus se antwoord? “Gaan weg voor my oë. Jy is die duiwel. ’n Heiland sonder wonde mag ek nie sien nie. Die enigste Heiland wat ek erken en bely, is die Een wat die tekens van sy lyding kan wys.”

Dra jou Heiland die wonde van jou sonde? Die littekens wat jou vergifnis Hom gekos het? Dien Hom dan met dankbaarheid.

Die enigste Heiland wat ek erken en bely, is die Een wat die tekens van sy lyding kan wys.

Jesus, Gekruisigde, U en U alleen is my Verlosser. Amen.

Johan Cilliers

Daar is net een deur

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6).

Toe George Whitfield, die groot herlewingsprediker, eenkeer met ’n groot groep mense gepraat het oor die bloed van Jesus wat die enigste weg na die Vader open, was daar twee roekelose jong mans in die gehoor. Toe Whitfield in sy preek sê: “Die Here sal die deur na die hemel eenmaal toemaak vir almal wat sonder die bloed van die Lam daar wil inkom,” draai een van die mans spottend na sy maat en fluister: “Ag wat, ons hoef die prediker maar nie te ernstig op te neem nie. Daar sal altyd weer ’n ander deur oopgaan.”

Toe gebeur daar ’n wonderwerk. Sonder dat Whitfield gehoor het wat die jong man gesê het, herhaal hy op ingewing van die Gees byna woordeliks wat die jong man so pas gesê het: “Miskien is daar een van u wat dink dat u my nie maar nie te ernstig hoef op te neem nie, dat daar altyd weer ’n ander deur sal oopgaan. Vir u wil ek sê: Daar sal ’n ander deur oopgaan, maar dit sal die deur na die hel wees, die deur na die buitenste duisternis, waar hulle huil en op die tande kners.”

Die twee mans is met baie stof tot nadenke daar uit.

Laat ons goed begryp: Daar is maar een weg tot die Lewe, en dit is die weg van vergifnis. Die enigste deur waardeur ons kan gaan om vergewe en gered te word, is Jesus. Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6).

Op watter weg is jy? Watter deur is voor jou oop?

Daar is maar een weg tot die Lewe, en dit is die weg van vergifnis.

Here Jesus, ek het my kop genoeg teen toe deure gestamp, genoeg deur vals ingange gestap. U is nou my weg, my waarheid en my lewe. Amen.

Johan Cilliers

Duur gekoop

Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort (1 Kor 6:20, 1953-vertaling).

Die boodskap van vergifnis is ongelooflik groot. Maar ons kan dit verklein en verskraal. Ons kan dit holrug ry sonder dat dit een jota of tittel aan ons lewe verander. Dan redeneer ons so: “As alles dan genade is, vra dit mos geen gehoorsaamheid van my kant nie. Laat ons dan maar eet en drink en vrolik wees, want God sal tog vergewe.” Voltaire het presies dit gesê toe hy sinies opgemerk het: “God sal vergewe; dit is immers sy werk. Hy is dan Hoof van die Departement van Vergifnis.”

Só maak ons die genade goedkoop. Dietrich Bonhoeffer, ’n Duitse teoloog, het hieroor ’n aangrypende boek geskryf met die titel Nachfolge (Navolging). Daarin sê hy onder meer: “Goedkoop genade is prediking van die vergifnis sonder verootmoediging; doop sonder die tug van die gemeente; nagmaal sonder die belydenis van sonde … Goedkoop genade is genade sonder navolging, genade sonder die kruis, genade sonder die lewende, mensgeworde Jesus Christus.”

Voorwaar, hierdie soort genade is gewild.

Bonhoeffer sê ook: “Baie Christene is soos bloedhonde. Hulle ruik en snuffel en soek … na ’n kerk en ’n godsdiens waar die goedkoopste genade te kry is, wat nie die duur prys van dissipelskap van hulle vra nie.”

Die genade van die evangelie is anders. Dis duur. Dit roep op tot verandering en dissipelskap. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan” (1 Kor 6:20, 1953-vertaling).

Laat die vergifnis van God jou verander, vernuwe. Vandag!

Goedkoop genade is genade sonder navolging, genade sonder die kruis, genade sonder die lewende, mensgeworde Jesus Christus.

Here, u duur genade lê op my die plig van toewyding. Help my om te verander en soos u dissipel te leef. Amen.

Johan Cilliers

 

1 2 3 4 14