Verniet, maar nie goedkoop nie

God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes (Gal 6:7).

Daar word oor DL Moody, die bekende herlewingsprediker, vertel dat hy een aand ’n beskonke persoon op straat raakgeloop het. Die gesprek wat tussen hulle ontstaan het, was kort en kragtig:

Beskonke persoon: “Meneer Moody! Ek is een van u eerste bekeerlinge!”

Moody (beswaard): “Jammer, maar dit kan ek sien …”

Hiermee het Moody bedoel dat, toe hy sien wat van sy bekeerling geword het, hy onmiddellik besef het wat verkeerd geloop het in die eerste fase van sy bediening: Hy het die boodskap van vergifnis te veel gestroop van die oproep tot verandering. So het hy die evangelie goedkoop gemaak. Maar die evangelie is duur! Mense wat werklik begryp wat God in Christus alles vir ons gedoen het, wil alles vir God in Christus doen. Die boodskap van vergifnis maak ons vry … maar nie ongekwalifiseerd nie. Dit maak ons vry vir God!

Laat ons hieroor na Paulus luister: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes” (Gal 6:7-8).

Voorwaar, vergifnis is verniet, maar dit is nie goedkoop nie.

Die boodskap van vergifnis maak ons vry … maar vry vir God.

Here Jesus, U het my duur gekoop. Daarom vra U my alles. Verander my hart sodat ek dit vir U wil gee. Amen.

Johan Cilliers

Die smekende vader

“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom” (Luk 15:28).

Die vyfde beeld in die gelykenis oor God se vergewensgesindheid (Luk 15:11-32) is dié van die smekende vader. In die vaderhuis is daar nou feesvreugde; die vrolike gelag van die vrolike vader weerklink. Maar buite staan die oudste seun met sy koue, kil hart. Binne is daar die warm vreugde van vergifnis; buite staan die oudste broer brom-brom, verbitter, stug en stuurs. Binne is daar musiek en sang; buite staan die oudste seun, wys vinger en vra: “Wat beteken dié feestelikheid?”

Hierdie seun het wel in die vaderhuis gebly. Hy was altyd by die vader en alles wat die vader s’n was, was syne. Tog was hy verlore! Hy gun nie sy jongste broer die vader se onverdiende liefde nie. Die “goeie” oudste broer is net so verlore soos die “slegte” jongste seun wat weggetrek het na die ver en vreemde land en uiteindelik in die varkhok tussen die peule beland het.

Die vader in die gelykenis is ’n beeld van ons hemelse Vader. Het jy opgemerk wat ons Vader volgens hierdie gelykenis doen? Toe die jongste broer uit die ver land terugkom, hardloop die pa uit en omhels en soen hom. En toe die oudste broer buite bly staan, gaan die pa weer uit, sekerlik ook haastig, en smeek by sy seun om in te kom. Ons Vader hardloop na die jongste én die oudste broer, na die “goeies” en die “slegtes”, en Hy soen en Hy smeek! Want so is Hy.

Kom in! Dis koud buite. Moenie dat die Vader jou so moet smeek nie. Hy wil jou soen en omhels.

Die Vader hardloop na albei kante toe. Hy soen en Hy smeek.

Vader, bewaar my daarvan dat ek korrek, maar koud is. Maak my regverdig en warmhartig. Amen.

Johan Cilliers

Die vrolike vader

“En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!” (Luk 15:23).

Die vierde beeld wat ons in die gelykenis van die vergewende vader (Luk 15:11-32) aantref, is dié van die vrolike vader. Want toe die verlore seun terugkeer, begin die vrolikheid. “Bring die vetgemaakte kalf, slag hom,” hoor ons die pa sê, “en laat ons eet en feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry” (v 22, 24).

Ek kan my voorstel dat die pa van gas na gas, van vertrek na vertrek in sy vaderhuis met die baie woonplek gestap het, en dat sy vrolike stem weerklink het: “Dood … lewend; verlore … gevind!”

Hierdie beeld herinner ons daaraan dat die Bybel sê daar is in die hemel blydskap oor een sondaar wat hom of haar bekeer. Meer nog, daar is vreugde in die hart van God, ’n beroering in sy diepste wese, wanneer een sondaar tuiskom. Net so seker as wat daar ontsteltenis in die hel onder Satan en sy engele is daaroor.

Het jy al die vrolike gelag van die Vader hoor weerklink oor jou sonde wat vergewe is? Het jy al die hart van God bly gemaak?

Daar is vreugde in die hart van God, ’n roering in sy diepste wese, wanneer een sondaar tuiskom.

Vader, dikwels is my godsdiens net ’n stel morbiede reëls en regulasies. Laat ek tog vandag diep in u hart kyk en u vrolikheid by U aansteek. Amen.

Johan Cilliers

Vergewe en vergeet

“Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!” (Luk 15:22).

God is die Vader wat sondes vergewe en vergeet (Luk 15:22-29). Die gelykenis van die verlore seun, wat gesien kan word as God se optrede teenoor sy kinders, maak immers geen melding van ’n klomp verwyte wat elke dag weer opgehaal is nie. Nee, die pa vergewe sy seun onvoorwaardelik en reël onmiddellik ’n verwelkomingsfees (v 23).

Daar is nog ’n pragtige verhaal wat hierdie eienskap van God illustreer:

’n Jong man het jare lank toegegee aan die sonde van diefstal. Maar op ’n dag het hy tot die oortuiging gekom dat dit sonde is. Hy het op sy knieë voor die Here gegaan, om vergifnis gevra en dit ontvang. ’n Paar weke het dit goed gegaan. Hy nie weer toegegee aan die drang om te neem wat nie syne is nie. Eendag word die versoeking egter te sterk en hy steel weer. Toe gaan die jong man weer op sy knieë voor die Here en sê: “Ag, Here, daardie sonde wat ek drie weke gelede voor U bely het, wat U vergewe het … ek het dit weer gedoen.”

Toe klink die stem van God (met respek gesê) effens geïrriteerd uit die hemel op en Hy vra: “Watter sonde, my seun?”

So is ons Vader. Hy vergewe en vergeet. Mag God vandag ook jou sonde vergewe en vergeet. En wanneer jy Hom daaraan herinner, net so ’n bietjie “geïrriteerd” met jou wees.

Mag God vandag so ’n bietjie “geïrriteerd” met jou wees wanneer jy Hom aan jou sonde herinner.

Vader, ek is so geneig om u vergifnis te vergeet en my sonde te onthou, terwyl U u vergifnis onthou en my sonde te vergeet. Laat ek tog die regte dinge onthou en die res vergeet. Amen.

Johan Cilliers

Die vergeetagtige vader

“Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!” (Luk 15:22).

Die derde beeld van die Vader wat Lukas 15:11-32 vir ons gee, is dié van die vergeetagtige vader. Daar staan die seun met sy vuil bedelaarsvodde aan die lyf, met die varkhokreuk wat nog aan hom kleef. Hy stamel nog sy belydenis: “Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie” (v 21). Maar nog voordat hy sy belydenis kan voltooi, werp die pa sy arms om sy seun, omhels en soen hom. Daarmee sê hy: Jou sondes is vergewe! Dis afgehandel! “Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan,” vra die pa sy werksmense, “sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!” (v 22). Dit alles is simboliese tekens dat die seun herstel word in sy vorige posisie as seun en erfgenaam. Hy hoef nie soos ’n dagloner vir sy pa te werk nie (v 19). Hy neem weer die ereposisie van ’n seun in die familie in.

Ek is besonder bly oor hierdie beeld van ons hemelse Vader. As Hy alles moes onthou wat ek al gedoen het, sou ek nooit na die Vaderhuis kon of wou terugkeer nie. Maar nou maak God se vergewensgesindheid Hom vergeetagtig. Hy het ons sondes agter sy rug gewerp (Jes 38:7, 1953-vertaling). Hy kyk nie elke keer om en sien dit weer nie. God vergeet daarvan. Want so is Hy – die vergewensgesinde, vergeetagtige Vader!

Laat ons daarom ook so teenoor ander mense wees.

As God alles moes onthou wat ek al gedoen het, sou ek nooit na die Vaderhuis kon of wou terugkeer nie.

Vader, vergeet my sonde! Onthou u liefde. Amen.

Johan Cilliers

Die hardlopende vader

“Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (Luk 15:20).

Die tweede beeld van die Vader wat ons in die gelykenis van die vergewende vader aantref (Luk 15:11-32), is dié van die hardlopende vader. Die dag toe die seun uit die vreemde land terugkeer, verander die houding van die swygsame vader. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien.” Dit dui daarop dat hy gedurig vir sy seun op die uitkyk gebly het, hom gestaan en inwag het. Die pa het “hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom” (v 20). In die oorspronklike teks word die pa se hartlike verwelkoming nog verder onderstreep. Daar staan: Die pa se hart was in hom omgekeer, onstuimig weens sy liefde en medelye. Eintlik staan hier ook: Die pa het sy seun sonder ophou, aanhoudend gesoen, as’t ware met soene bedek.

Van al die beelde van ons hemelse Vader is dit sekerlik een van die aangrypendstes: die God wat na ons toe hardloop, wat ons omhels en soen.

’n Mens hoor die voetstappe van God dreun in elke bladsy van die Bybel. Jy hoor dit in die geskiedenis. Jy hoor dit veral op Golgota. Want so ywerig was God om ons tegemoet te kom dat Hy in Christus Homself tot in die dood en in die graf gehardloop het.

God se vergewensgesindheid bring sy voete in beweging! Het jy al sy voetstappe gehoor?

So ywerig was God om ons tegemoet te kom dat Hy in Christus Homself tot in die dood en in die graf gehardloop het.

Vader, ek hoor U hardloop! Ek is dit nie werd nie, maar ek hardloop ook na U toe. Amen.

Johan Cilliers

Die swygsame vader

“Pa, gee my dié deel van die besittings wat my toekom” (Luk 15:12).

Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 word deur sommige kenners beskou as die belangrikste van al die gelykenisse. Hier word die wonder van God se vergifnis immers geïllustreer soos op min ander plekke in die Bybel. Eintlik kan ons eerder praat van die gelykenis van die vergewende pa.

In hierdie gelykenis sien ons minstens vyf beelde van ons Vader.

Eerstens, ons sien die swygsame vader. Rembrandt van Rijn het ’n roerende skildery gemaak van die toneel wat afspeel voor die seun se vertrek vanaf die vaderhuis. In die een hoek van die skilderdoek staan die vader, swygsaam, met gevoude arms. In die ander hoek is die seun besig om op sy perd te klim, gereed vir die reis na die vreemde.

’n Mens kry die gevoel dat alles vasgevang is in ’n oomblik van doodse, sombere stilte. Alles is stil, behalwe die oë van die vader. Sy oë leef van liefde, geduld, kommer. Sy oë vra: “Wat gaan van hierdie seun van my word? Wanneer gaan hy terugkeer?”

Want so is God, ons Vader. Hy staan swygsaam wanneer ons vertrek, maar sy hart skeur van liefde en kommer. Hy dwing niemand teen hulle wil tot in sy koninkryk nie. Hy maak ons nie pionne of poppe wat Hy manipuleer nie. Hy behandel ons soos mense.

Die vraag is: Wíl jy terugkeer na die Vader? Wíl jy sy vergifnis aanvaar? Dit is altyd daar … en die Vader se oë is op jou gerig.

God staan swygsaam wanneer ons vertrek, maar sy hart skeur van liefde en kommer.

Vader, hou U oë op my gerig. Ek wil terugkom. Amen.

Johan Cilliers

Visvang verbode

U sal al hulle sondes in die diepsee gooi (Miga 7:19).

Die profeet Miga gebruik ’n pragtige beeld om sy verwondering oor God se genade – wat ons sonde afskryf, wat die skuldbrief teen ons vernietig – te verwoord:

“Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van die wat uit u volk oorgebly het nie … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi” (Miga 7:18-19).

God het in Christus jou sondes in die diepsee gegooi. Iemand het hierdie beeld uitgebrei en gesê: God het daarna nog ’n bordjie by die plek gaan oprig, ’n kennisgewing wat sê: “Visvang verbode!” Want dit is wat ons so graag doen: Ons diep ons skuld weer op uit die poel van sondes. Ons gaan hengel weer in die verlede om dit uit die diepsee te haal. Ons bejammer onsself, raak pessimisties, depressief … oor iets wat afgehandel is. Wat op die bodem van die see lê. Wat God laat wegsink het tot in die vergetelheid van sy genade.

Pak hierdie visstok weg. En word eerder ’n visser van mense (Matt 4:19).

Verhef my tog uit die dieptes van my sonde na die hemel van u vergifnis.

Here, as dit kom by sondes opsoek, is ek ’n diepseeduiker. Verhef my tog uit die dieptes van my sonde na die hemel van u vergifnis. Amen.

Johan Cilliers

 

Bankbalans

Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol (Jes 1:18).

Die feit dat God ons vergewe, openbaar aan ons sy diepste wese, sy onbegryplike liefde vir sondaars en veral sy geduld met ons. Hieraan kan ons ons maar net verwonder. IL de Villiers doen dit dan ook treffend in sy gedig “Balansstaat”. Gaan lees dit gerus en maak die woorde jou eie.

Ja, ons bankstaat is in rooi getik. Gelukkig is die bloed van Jesus rooier. Dit maak ons rooi bankstaat wit. Al was ons skarlakenrooi van sonde, sal ons nou wit word soos sneeu. Al was ons purperrooi van skuld, sal ons nou wit word soos wol (Jes 1:18). Net God kan dit vir ons doen; ons kan dit net glo en aanvaar. En uit dankbaarheid gaan leef.

Ja, ons bly diep in die skuld by God, maar God se vergifnis bly altyd groter as ons skuld. Geen sonde is vir God te groot, te rooi, dat Hy dit nie kan wegwas nie. Ons bloedrooi en oortrokke bankstaat het God teen die kruis van Jesus vasgespyker sodat ons elke dag met ’n wit bladsy kan begin.

Twyfelaars, sondaars, dít kan ons glo. Laat ons dan ons saak met God gaan uitpraat sodat Hy ons kan was en ons witter as sneeu kan wees.

Gaan praat jou saak met God uit sodat Hy jou witter as sneeu kan was.

Here, u genade is groter as wat ons ooit sal besef. Ek sê vir U dankie daarvoor. Amen.

Johan Cilliers

Van swart klad tot witskrif

Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem (Kol 2:14).

Voor God is ons skuldig. Ons kom eenvoudig nie een enkele dag sy wet van liefde teenoor God en ons naaste na nie. Ons was voor ons geboorte al vol sonde en sal sonde doen tot die dag van ons dood. Elke bladsy van die skuldbrief teen ons is van kant tot kant vol geskryf. Die aanklagte vloei ineen om een, groot swart klad te vorm.

Maar wat doen God? “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem” (Kol 2:14). God het die skuldbrief middeldeur geskeur, nee, in duisend stukkies opgeskeur en weggegooi. Hy het ’n nuwe blaadjie met ons omgeslaan …

Christene is nie beter as ander mense nie. Ons beklad ook maar dag na dag ons skuldbriefbladsye. Maar die verskil is: Christene kan elke dag nuut begin. Ons kan elke keer oor begin; ons kan die ou, vuil, vol geskryfde bladsye uitskeur en ’n nuwe blaadjie omslaan … omdat dit presies is wat God met ons gedoen het.

Die mees sinlose aksie wat ons kan uitvoer, is om telkens terug te blaai, terug te kyk, terug te val in die swart klad van die verlede.

Nee, God skryf ons lewe in Christus oor. Die bladsye word nou vol van Hom. So vol dat ander sy heerlikheid in ons kan lees. Ons word briewe van Christus (2 Kor 3:3). Nie meer ’n swart klad nie, maar ’n witskrif … van vergifnis.

God het ’n nuwe blaadjie met ons omgeslaan.

Here, dankie dat U my soos ’n boek lees, al die donker hoofstukke ken. Wees U tog die outeur van my nuwe lewensverhaal. Amen.

Johan Cilliers

1 2 3 4 5 14