Op ’n dag soos vandag

Troos mekaar dan met hierdie woorde (1 Tess 4:18).

In die Apostoliese Geloofsbelydenis word daar nadruklik onderskei tussen die oordeel oor “dié wat nog lewe” en “dié wat reeds gesterf het”. Waarom? Dit hou waarskynlik verband met die feit dat sommige van die vroeë Christene verward was toe daar van hulle medegelowiges gesterf het voordat die Here weer gekom het. Hulle het Hom immers nog in hulle leeftyd verwag (1 Tess 4:13-18).
Daar is egter ook ’n ander, belangriker, rede.

Continue reading

Om in die spieël te kyk

Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor 13:12).

Dat ons voor die regterstoel van Christus sal verskyn, beteken alles sal openbaar gemaak word – van ons geheime sondes tot ons geloofsgeheimenisse. Want ons verstaan in hierdie lewe nog nie alles nie.

“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (1 Kor 13:12). Wat ’n wonderlike dag van openbaarmaking sal dit nie wees nie! Die dinge waarvan ons nou maar nog net ’n vae buitelyn kan sien, waarvan ons net ’n vae aanvoeling het, word dan in hulle volle heerlikheid sigbaar! LEES VERDER>>

Die oordeel is afgewend

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel (Joh 3:18).

’n Bekende agnostikus het landwyd dramatiese lesings gegee om die Bybel en die bestaan van God in twyfel te trek. Toe hy een aand ’n gehoor in ’n sekere dorp toespreek, het hy weer baie welsprekend sy twyfel oor ’n toekomstige oordeel uitgespel. Toe hy klaar was, staan daar agter in die saal ’n man op wat in die dorp bekend was vir sy Godlose, roekelose lewe. Ietwat aangeklam sê hy toe: “Ek hoop jy is reg, want dis waarop ek ook reken.” LEES VERDER>>

Beskuldigde, Advokaat, Regter

Christus was sander sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Kor 5:21).

’n Jong man het in ’n vlaag woede ’n moord gepleeg. Hy is in hegtenis geneem en moes in die hof verskyn. Aan sy sy was ’n vernuftige advokaat wat sy saak so goed bepleit het dat die jong man vrygespreek is.

Etlike jare het verbygegaan. Op ’n dag het dieselfde jong man se humeur weer so opgevlam dat hy in ’n onbesonne oomblik iemand te lyf gegaan en vermoor het. Weer moes hy in die hof verskyn. Tot sy verbasing merk hy dat dieselfde man wat jare gelede sy advokaat was nou as regter optree. Sy hoop het opgevlam. Die man sou mos weer vir hom intree! Groot was sy ontnugtering egter toe hy aan die einde van die verhoor uit die mond van die regter moes hoor: “Voorheen was ek jou advokaat. Nou is ek jou regter. Ek het geen ander keuse nie as om jou die doodsvonnis op te lê.” LEES VERDER>>

Toorn – troon – troos

Christus was sander sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Kor 5:21).

Die wete dat dit Jesus is wat op die regterstoel sit, is reeds vir ons ’n troos. Dié troos word nog groter wanneer ons begryp dat Jesus daar sit as die Een wat met ons plekke geruil het. Toe ons onder die oordeel van God ten gronde moes gaan, het Jesus in ons plek gaan staan; toe ons die toorn voor die troon moes dra, het Hy dit vir ons gedoen. Jesus het in ons plek voor die troon, voor die regterstoel van God, gaan staan sodat ons sonder verskrikking daar kan verskyn. Ons kan die toets van die oordeel deurstaan omdat Jesus die toets deurstaan het. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor 5:21). LEES VERDER>>

Ons Regter is ons Redder

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor 5:10).

As ’n mens die oordeelsdag nie reg verstaan nie, sal dit jou byna vanselfsprekend met verskrikking vervul. Want … word ons dan nie geoordeel op grond van ons gedagtes en dade en veral ons barmhartigheid nie? Maar wie sal so ’n oordeel kan deurstaan? Wie voldoen aan die standaarde? Wie kwalifiseer?

Ja, ’n mens sal wil wegvlug van die oordeelstroon – as jy nie weet dat dit tegelyk die regterstoel van Christus is nie (2 Kor 5:10). Dit is weliswaar ’n regterstoel, dit wil sê, ’n plek waar reg gespreek word, waar regverdig geoordeel word, waar die standaarde geregtigheid en waarheid is. LEES VERDER>>

Ons gaan daar wees

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Kor 5:10).

’n Mens kan maklik die gedagte aan die oordeel van jou probeer afskud met: Ek is darem seker nie die slegste mens wat al ooit geleef het nie. Daar is tog baie ander wat eerder as ek die ewige oordeel verdien. Dink maar aan die Hitlers en die Nero’s. Veral as verloste Christene kan ons meen dat ons nie ons plek voor die regterstoel van Christus sal hoef in te neem nie.

Maar daar staan dit: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn” (2 Kor 5:10). LEES VERDER>>

Skape en bokke

“Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan” (Matt 25:33).

Die eindoordeel het nie net te doen met ons innerlike lewe nie. Dit gaan oor ons harte en ons handel. Dus beslis ook oor ons uiterlike lewe. Of ons harte en lewe opreg is, word veral sigbaar in ons barmhartigheid – of die gebrek daaraan – teenoor ander mense. En volgens Jesus se profetiese rede in Matteus 25 word ons juis op grond hiervan geoordeel. Presies hieroor sal daar ’n onderskeid gemaak word tussen die “skape” (die gelowiges) en die “bokke” (die ongelowiges).

Die skape aan die regterkant van die troon sal uit die mond van die Seun van die mens hoor: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is. Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek … Vir sover julle dit aan een van die geringstes … gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:34-36, 40). LEES VERDER>>

Volgens ons dade

… sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Kor 5:10).

Met die eindoordeel sal nie net ons diepste hartsgeheime blootgelê word nie, maar ook ons dade, die dinge wat ons in groot geheimhouding gedoen of probeer doen het.

Dit gaan op daardie dag immers om die dinge wat ons aardse lewe gekenmerk het, “of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor 5:10). Wat ons agteraf vir mekaar in die oor gefluister het, sal van die dakke af verkondig word. Jesus sê in Matteus 12:37: “Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.” Van elke ligsinnige woord wat ons sê, sal ons rekenskap moet gee (12:36). Wat ons agter mekaar se rug van mekaar gesê het, wat ons “agter die Here se rug” oor Hom (probeer) sê het, elke woord sal in die weegskaal geplaas word. Elke daad wat ons in die donker gedoen het, kortom, ons hele lewe, álles, sal onder die felle lig van die oordeel kom. LEES VERDER>>

Op die skerm van jou hart

Here, U sien dwarsdeur my (Ps 139:1).

’n Paar jaar gelede het ’n deels lagwekkende, maar uiters veelseggende toneel afgespeel in een van die ateljees van die destydse SAUK in Durban. Twee van die personeellede het wederregtelik ’n TV in die SAUK-gebou gebruik om na ’n pornografiese video te kyk. Wat dié twee egter nie besef het nie, was dat daardie spesifieke TV op die een of ander manier ingeskakel geraak het by die uitsending van die hoofnuusbulletin vir daardie aand. LEES VERDER>>

1 2 3 15