Christelike integriteit

Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê: net dat ’n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ’n biesie en in sak en as sit? Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? (Jes 58:4-7).

Uit die gedig “Resurrection” van Kenneth Bailey kom die volgende “verhaal”:

’n Man het twee seuns gehad. Die een was ryk en die ander een arm. Die ryk seun het geen kinders gehad nie, terwyl die arm seun met baie seuns en baie dogters geseën was. Op ’n dag het die pa ernstig siek geword. Hy was seker dat hy nie baie lank meer sou leef nie. Die Saterdag roep hy sy seuns na sy siekbed en gee vir elk ’n helfte van sy grond as erflating. Toe sterf die pa. Voor sononder het die seuns, volgens die oorgelewerde tradisies, hulle pa met respek begrawe.

Daardie nag kon die ryk seun nie slaap nie. Hy het vir homself gesê: “Wat my pa gedoen het, was nie regverdig nie. Ek is ryk, my broer is arm. Ek het oorgenoeg brood en nog oor ook, terwyl my broer se kinders die een dag eet en God vir die volgende dag vertrou. Ek moet die grens wat ons pa in die middel van die eiendom afgemerk het, gaan verskuif sodat my broer ’n groter deel van die grond sal hê. Maar hy mag nie sien dat ek dit doen nie. As hy my sien, sal hy baie verleë voel. Ek moet vroeg môreoggend opstaan, voordat dit lig word, en die grensmerkers gaan verskuif.” Toe het hy tevrede en vol vrede aan die slaap geraak.

Intussen kon die arm broer ook nie slaap nie. Terwyl hy rusteloos in sy bed rondgerol het, het hy vir homself gesê: “Wat my pa gedoen het, is nie regverdig nie. Hier is ek omring van die vreugde wat soveel seuns en dogters vir my bring, terwyl my broer elke dag moet saamleef met die skande dat hy geen seuns sal hê om sy naam voort te dra nie en geen dogters wat hom in sy oudag sal kan versorg nie. Hy behoort ’n groter deel van die grond van ons voorgeslagte te ontvang. Dalk sal dit hom deels vergoed vir sy onbeskryflike armoede. Maar, as ek dit vir hom gee, sal hy verleë voel. Ek moet vroeg môreoggend opstaan, nog voordat dit lig word, en die grensmerkers wat ons pa neergesit het, gaan verskuif.” Toe het hy tevrede en vol vrede aan die slaap geraak.

Op die eerste dag van die week, baie vroeg die oggend, nog lank voordat die eerste lig verskyn, het die twee broers mekaar by die eeue oue grensmerker ontmoet. Hulle het mekaar styf vasgehou met trane wat oor hulle wange gerol het. En op daardie plek is die stad Jerusalem gebou.

Daar is baie definisies van Christelike integriteit, maar ten diepste is dit wanneer ons liefde vir God en ons liefde vir ons naaste een saak word. Wanneer ons ook dóén wat ons weet, glo en sing.

Here, help my sodat my geloof nie bloot lippediens sal wees nie, maar in my daaglikse optrede sigbaar sal wees. Ek wil graag vir my medemens versorg, soos U vir my sorg. Amen.