Christenskap is ’n verhouding

Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk. Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het … Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” (Markus 5:21-34).

Ek het altyd gedink Christenskap is ’n netjies uitgewerkte program wat ek met ander mense moet deel. Ek moes niegelowiges teiken en hulle probeer oortuig hulle is verlore. Indien hulle tot bekering kom, kon ek hulle opskryf as goeie kerklike statistiek en aanbeweeg na my volgende menslike teikens. Tref en trap!

Nodeloos om te sê, dit het nie gewerk nie. Ek is nie ’n goeie verkoopsman nie. Min mense het hulle aan Jesus oorgegee of sondaarsgebede gebid. In totale moedeloosheid het ek later opgehou “evangelisasie” doen. Buiten die feit dat my styl mense meer kwaad gemaak het as enigiets anders, het ek gevoel dat ek mense verlaag tot objekte wat ’n produk genaamd die “ewige lewe” moet bekom. Boonop het min van dié wat wel hulle lewe aan Christus oorgegee het in ’n nuwe verhouding met Hom begin leef.

Vandag weet ek meer as ooit dat Jesus voltyds soek na God se verlore mense. En dat ons elkeen saam met Hom op hierdie missie is. Maar ek het geleer hierdie missie saam met Jesus gebeur minder georganiseerd, meestal onbepland, veral spontaan, grootliks binne verhoudings, dikwels informeel en meer as 90% van die tyd buite die kerk.

Ons sien baie van hierdie eienskappe in Jesus wat toelaat dat mense Hom spontaan onderbreek, soos wanneer Jaïrus Hom vra om sy dogtertjie te genees en die vrou met bloedvloeiing tussen duisende ander mense aan Hom raak. Dit was ook nie vir Jesus genoeg dat sy net genees is deur aan Hom te raak nie; Jesus wou ’n persoonlike ontmoeting met haar hê en het met haar begin gesels.

Verhoudings is vir Jesus belangrik. Hy was bereid om mense op onbeplande plekke en tye te dien. Is ons?

Here, ek wil graag die Goeie Nuus van u koninkryk met ander deel. Help my om, soos U, oop te wees om in informele en spontane oomblikke deel te word van u missie op aarde. Amen.