Christus die Oorwinnaar

Lees 1 Petrus 3:18-22.

Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het … (v 22).

In hierdie vyf verse skets Petrus met enkele opeenvolgende sleutel­woorde die betekenis wat Jesus Christus vir gelowiges het: “gely”, “doodgemaak”, “lewend gemaak” (v 18), “opstanding” (v 21), “die hemel ingegaan” (v 22).

As dít die sekwensie van die gebeure was, volg hiér die konse­kwensie daarvan, weer in enkele woorde: “om julle na God te bring” (v 18), “dit red julle” (v 21). In dieselfde asem word die Bose só op sy plek gesit: “sy (Jesus se) oorwinning” (v 19), “aan Hom onder­werp” (v 22).

’n Ryk, veelseggende klompie verse dus. ’n Opwindende opsom­ming van Christus se werk. Kristalhelder gerapporteer, met boonop ’n wonderlike verbandlegging tussen die Noagverhaal en die doop.

Daarom is dit bitter vreemd dat goeie mense, gelowiges, so vin­nig hier verbylees. Dat hulle nie die stroom genadige feite wat hier opgenoem word, ter harte neem nie. Dat hulle steeds, en aanhou­dend, buig voor die bangmaakstories van opportuniste oor die Bose en sy magte. Natuurlik glo ons in Christus se oorwinning, sê hulle. En voeg by: Maar ek moet tog ook iets daartoe bydra – of hoe? Vanselfsprekend gryp ons ons redding in Christus vas, bely hulle. En sê vinnig: Maar ek moet darem ook my deeltjie doen – of hoe?

Hoeveel keer wil ons hoor dat Hy regeer voordat ons Hom glo? Hoeveel keer wil ons hoor dat sy genade vir ons genoeg was, en is, en altyd sal wees? Wanneer sal ons afsien van die lasterlike gewoon­te om ’n “ja, maar …” soos ’n sondige stertjie by God se grootheid en goedheid aan te las?

Here, U het ons van die bose bevry. Bevry ons tog van onsself ook, asseblief.

Barend Vos