Dag 52: Leef sonder spyt

Ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Fil 3:13-14).

“No regrets!” So sing Mireille Mathieu, ’n Franse sangeres, in een van my gunstelingliedjies. Sy sing oor die lewe sonder spyt of verwyt. Oor die lewe een dag op ’n slag binne God se heilige hand. Te veel van ons leef met onnodige skuldgevoelens. Ons is gedurig aan die snuffel en soek na foute, tekorte en gebreke in ons lewe. Ons skiet aanhoudend tekort in ons eie oë.

As ons elke nuwe dag saam met die Here wil leef, reken ons elke aand werklik af met die dag se foute. Ons krap nie die hele tyd in gister se donker laaie rond nie. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir ons lewenskeuses, foute en oorwinnings wat gister en eergister gebeur het. Maar ons laat nie toe dat dit by ons spook nie. Saam met Paulus in Filippense 3 maak ons ons los van wat agter is en strek ons uit na wat voor is.

Ons leef met ons voet teen vandag se brandstofpedaal. Daarom is daar nie spyt of verwyt in ons harte nie. Ons maak regtig vrede met omstandighede wat ons nie kan verander nie. Ons leef saam met mense wat ons graag anders wou gehad het, maar wat waarskynlik nie gaan verander nie. Ons span ons in en strek ons hande uit, ja, vandag, na die hemelse prys waartoe God ons in Christus Jesus geroep het.

Here, help my om myself los te maak van my spyt en my ten volle in te span vir wat voor my lê sodat ek vandag ten volle kan leef soos U dit wil. Amen.