Dag 59: Vreugde is ’n ernstige besigheid

Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap (1 Pet 1:8-9).

Kies jy om elke dag in vreugde te leef? CS Lewis het gesê: “Joy is the serious business of heaven.”

Ja, lewens moet aangeraak word. Armes moet kos kry. Eensames moet bygestaan word. Trane moet afgedroog word. Die evangelie moet verkondig word. Dinge en mense moet verander. Maar Jesus self is vandag hier. Daarom is vandag die dag! Hy is die Eregas. Laat staan eers alles en geniet vandag voluit saam met Hom. Hý is die Lewe, nie jou drome oor sukses, ’n beter werk, meer besittings, luukser vakansies of groter invloed nie. Maak vandag jou spesiale dag om saam met Jesus te wandel. En geniet dit. Moenie te veel dink aan wat jy wil sê of vra tydens hierdie ontmoeting met Hom nie. Nee, loop net ’n slag sorgvry saam met die Here, onbepland en vreugdevol.

Dis goed en reg om groot drome te droom en goeie planne te beraam oor hoe jy die wêreld vir God wil verander. Maar die belangrikste van alles is om vandag in die teenwoordigheid van jou Here te wees en dit net te geniet.

Om daar te wees waar Hy is, is meer as genoeg. Dis die lewe self. Los dan eers al jou planne eenkant. Daag net op. Geniet Jesus se spesiale feesmaal saam met jou in jou klein hoekie van die wêreld. Verheug jou oor sy teenwoordigheid. Sing ’n vreugdelied voor Hom. Dans vrolik. Wees oordadig bly. Laat dit uitbundig oor jou lippe borrel, al weet niemand anders daarvan nie. Vul jou huis, jou werkplek met ’n stukkie persoonlike vreugde omdat Jesus spesiaal by jou kom kuier het. Vandag.

Here, help my om vandag sorgvry en vreugdevol in u teenwoordigheid te leef sodat ek op u ritme kan dans en u vreugde na my naaste kan laat oorspoel. Amen.