Dankie, Here!

Lees Psalm 124.

Aan die Here kom die lof toe (v 6).

Die ou-ou beskuldiging dat gelowiges gou is om te vra maar stadig is om dankie te sê, is skreiend naby aan die waarheid. Dit sê baie van ons selfgesentreerdheid, die hebsug en die grypsug wat ons eenvoudig nie afgeskud kry nie. Daardie babawêreldjie wat net om homself draai, en bly draai en draai totdat ons stokoud is.

Soms wonder ek hoeveel van ons voortdurende onvergenoegd­heid oor alles en nog wat met dié gebrek aan dankbaarheid te doen het. Hoe sou dit byvoorbeeld gewees het as ons meer tyd aan dank­segging afgestaan het en minder aan ontevredenheid? As ons ons voortdurende gevoel van verydeling deur ’n loflied kon vervang?

In hierdie psalm hoor ons weer ’n pelgrimslied, een wat deur ’n reisgeselskap gesing word. ’n Bekende lied, wat waarskynlik ’n verhaal vertel van die Here se redding op die een of ander tydstip in dié sangers se gedeelde geskiedenis. Wanneer hulle van die skui­mende waters en die voëlvangers se wip sing, en van die mense wat hulle lewend wou verslind, sou hulle mekaar aan ’n spesifieke situasie kon herinner: Onthou julle …?

Dit is moontlik dat baie van hulle bloot sing oor God se goedheid in hul lewe, sy hulp in die algemeen. Hulle loop en sing vir Hom sommer omdat Hy God is, die Een van wie hul hulp kom.

Gelowiges bloos dikwels wanneer hulle eensklaps onthou dat hulle toe nooit dankie gesê het nie. Ons kan gerus soms ook ’n pryslied aanhef bloot omdat Hy Hý is. Sommerso in die alledaagse gang van jou lewensreis vir Hom ’n liedjie neurie of fluit. Dalk iets so alomgelief soos “Prys die Heer!”?

U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie – wie word daardeur nie diep getref !

Barend Vos


Word ’n Bybel-Boodskapper

Ondersteun Boodskap-Vir-Vandag

Help ons om gelowiges wêreldwyd digitaal met die boodskap van Jesus te bemoedig. Deur jou vrygewigheid sal jy hierdie daaglikse aanlyn inspirasie in mense se lewe moontlik maak.

KLIK HIER vir meer inligting oor hoe net R2 per dag 'n reuse-impak kan maak.

Hier is ’n getuienis oor wat Boodskap-Vir-Vandag vir mense beteken.

Ken wil dieper oor sy geloof nadink, en hy het vir ons hierdie e-pos gestuur: